Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Deesdae sal dít mos nie gebeur

‘O tempora, o mores!” het Cicero doeriejare in Rome se senaat gedeklameer. Die skyf van sy betoog? Die skavuit Catalina en die kanker van korrupsie wat, na sy oorwoë mening, die Romeinse staat gaandeweg verlam het.

Draai die sonwyser 21 eeue die toekoms in en dit tref ’n mens soos ’n hoefyster teen die ertappel: Hoe meer dinge blyk te verander, hoe meer bly hulle, op die keper beskou, presies soos hulle van oudsher was.

In hierdie insig is daar darem dalk ’n tikkie wrange troos, besef ek opnuut terwyl ek verlede week uit noodsaak die, by eerste oogopslag, droë uitspraak van die indertydse hoofregter sir James Rose Innes in die appèlsaak Robinson t. Randfontein Estates Gold Mining Company weer te lese kry.

Hierdie uitspraak is wat die Latiniste ’n locus classicusnoem. Met ander woorde, al het die vyf vername appèlregters oor ses dae (deesdae loop ’n appèl baie weinig vir langer as ’n dag) in Desember 1920 die saak aangehoor, en al is die uitspraak op 19 Februarie 1921 gelewer, is die regsreël wat dit neerlê vandag steeds net so geldig soos toe.

Trouens, as ’n mens die leviete in gedagte hou wat die King-verslae oor korporatiewe deugdelikheid vir die mensdom voorlees, is dit moeilik om te glo dat die beginsel ooit beregting nodig had. Dis tog iets, meen ek, wat ’n mens êrens in die Bybel sal teëkom.

Al is die verrigtinge natuurlik nie gebeeldsend nie, was daar landwyd intense belangstelling in wat deesdae ’n baie Instagram-agtige verhoor sou gewees het.

Sir Joseph Robinson, die voorsitter van Randfontein, was die seun van ’n 1820-setlaar, maar het sy rug op sy boerdery in die Dordrecht-distrik gekeer en aan die Rand en in Kimberley se stof ponde by dosyne gemaak. Ook was hy slim genoeg om met pres. Paul Kruger ’n vriendskapsband te smee.

Die saak het natuurlik oor mynregte gehandel, maar die beginsel wat die uitspraak bepaal het, kan netjies in die terme van ’n vraag wat Innes van die bank af aan die advokate gestel het, saamgevat word: Gestel ’n maatskappy wat water verkwansel, het ’n enkele fontein. Dit loop skielik droog. Die maatskappy se voorsitter kan darem sekerlik nie die enigste ander nabygeleë fontein vir sy eie rekening in die hande kry om dit dan, teen ’n ellegrote profyt, aan die maatskappy te verkoop nie?

Op die voorsitter se skouers rus immers ’n fidusiêre plig om die tweede fontein in die eerste plek vir en namens die maatskappy aan te skaf. Tree hy in sy eie belang op, verbreek hy daardie plig. Die dik reep wins wat hy met sy . . . wel, vlugvoetigheid, gemaak het, moet hy aan die maatskappy oordra.

Ses dae én sewe advokate én ’n leërskare prokureurs. Al is die verrigtinge natuurlik nie gebeeldsend nie, was daar landwyd intense belangstelling in wat deesdae ’n baie Instagram-agtige verhoor sou gewees het.

Robinson se dogter Ida, al iets in die 40, sou later in 1921 met die graaf Natale Labia (postuum tot prins verhef) in die eg verbind word. Die mees senior van sy drie advokate was die hemelbesem Charles Stallard, later ’n minister in genl. Jan Smuts se oorlogskabinet.

Aan die Randfontein-maatskappy se kant was die mees junior van die vier advokate Patrick Duncan, later die eerste Suid-Afrikaanse burger om goewerneur-generaal te wees.

En Randfontein se prokureurs was die firma van sir Willem van Hulsteyn, wie se dogter, Margaretha, vir die leeuedeel van 1924 met J.G. Strijdom, later NP-leier en eerste minister, getroud was voordat sy weer onder die verhoognaam Marda Vanne metterwoon Londen toe is na die arms van haar thespiese minnares Gwen Ffrangcon-Davies.

Hoe kon ’n man van inbors soos Robinson met so iets probeer wegkom? Vandag sou so iets mos nooit gebeur nie. O, nee!

  • Meiring is ’n Gautengse regsgeleerde.
Meer oor:  Jean Meiring  |  Firmas  |  Regsaak  |  Geskiedenis  |  Hofsaak  |  Korrupsie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.