Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Deler tog net so goed soos steler

Marie Antoinette, die Franse koningin bekend om haar dekadensie, verkwisting van staatshulpbronne en voorliefde vir fyngebak, se laaste woorde voordat die valbyl haar onthoof het, was glo “Pardonnez-moi, monsieur. Je ne l’ai pas fait exprès” oftewel “Verskoon my, Meneer, ek het dit nie aspris gedoen nie”.

Carla Lewis

Elena Ceausescu, vrou van die Roemeense kommunistiese diktator Nicolae Ceausescu, was nie so innemend soos Marie Antoinette nie. Sy het volgens die historikus Simon Montefiore die vuurpeloton ’n swetterjoel swetse toegesnou.

Die geskiedenis is deurtrek van sogenaamde Lady Macbeth-figure, wat saam met hul mans geheul en gekonkel het om eindelose rykdom en mag te bekom – Imelda Marcos van die Filippyne en Grace Mugabe van Zimbabwe val my dadelik by. Vir die meeste van hulle is daar nie ’n oomblik van katarsis of poëtiese geregtigheid waarin hul sondes by hulle spook en hulle dit bely, of ’n dosis dollekerwel afsluk omdat hulle nie met hul demone kan saamleef nie.

Marie Antoinette het die geykte “ek het nie geweet nie”-kaart gespeel, ’n gunsteling in die Nuremberg-verhore.

Elena Ceausescu was tot haar dood sonder enige berou, selfs toe sy in die loop van ’n Kalasjnikof-aanvalsgeweer gestaar het. Imelda is ’n Filippynse politikus en Grace sit haar Gucci-lewenstyl voort – ekonome reken die Mugabe-ryk is omtrent $150 miljoen werd.

Norma Mngoma, vervreemde vrou van oudminister Malusi Gigaba, se Zondo-bomme verlede maand het ’n mens laat dink aan die Marie Antoinettes en die Imeldas en presies hoe uit voeling hulle was met die “gepeupel”, wat nou blyk die eintlike finansiers van hul uitspattige lewenstyl te wees – belastingbetalers soos ek en jy.

Die nasionale vervolgingsgesag, wat ook nou die Gupta-gades Chetali en Arti in hul visier het, laat jou wonder hoe dié vroue gekonkel het om miljarde rande uit die staatskas na bankrekenings in Dubai, Switserland en wie weet waar nog na hul mans se beursie te herlei.

Toe adv. Anton Myburgh SC, getuienisleier voor die Zondo-kommissie, Mngoma uitvra oor haar kredietkaartperk – glo R3 000 – wou sy heel ligsinnig weet wat sy “met net R3 000” moes doen. “As ek oorsee gaan, sou ek byvoorbeeld ’n handsak koop en sou dit so R30 000 of R40 000 kos. In my lewe is daar niks wat ek met R3 000 kan doen nie,” het sy getuig. Sy kon netsowel voorgestel het Suid-Afrikaners moet hul Black Label vir sjampanje ruil.

Die naweek pryk Tarina Patel en haar man, Iqbal Sharma, op die voorblad van ’n Engelse Sondagkoerant met die opskrif “Laaste tango in Sandton”. Die hele affêre het ’n fin de siècle-dekadensie, ’n laaste groot paartie voordat die NVG verlede week op dié sakeman – wat met die Estina-melkplaas verbind word – se R12 miljoen- Moeghalse herehuis toegeslaan en beslag gelê het op duur bates. Weer wonder ’n mens: Is Patel se Louboutin-hakke gekoop met Estina-buit? Het sy geweet?

Ek was nog nooit ’n voorstander van die doodstraf nie, maar die skaamtelose opportunisme en dom-arrogante “onkunde” van Mngoma, die Gupta-gades en Patel laat ’n mens tog wens vir iets soos ’n Middeleeuse stadsplein en ’n vrag vrot tamaties. Mag hulle hul Franse snyerspakkies en “Red Bottom Shoes” – Louboutins met sole so rooi soos die bloed van die Estina-fluitjieblasers wat met hul lewe moes boet – ruil vir ’n skeloranje oorpak.

Ek is bereid om wel een vergunning te maak vir hul verwyl in Pollsmoor – ’n fyngeur van ’n Italiaanse modehuis wat hulle kan herinner aan hul voormalige uitspattige lewenstyl – Guilty, deur Gucci.

Meer oor:  Standpunt
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.