Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Demokrasie is meer as ’n politieke stelsel

Om demokrasie te praat, is maklik. Om demokrasie te doen, is moeilik. Min kry dit reg.

In ’n ware demokrasie gaan dit nie soseer oor of daar opposisiepartye is en of verkiesings plaasvind nie. Zimbabwe het nog altyd opposisiepartye en gereelde verkiesings gehad.

Dr. Pieter Mulder

Dit gaan oor hoe goed ’n demokratiese kultuur in ’n gemeenskap gevestig is. ’n Demokratiese kultuur van ongeskrewe reëls, soos eerlikheid in verkiesings; die integriteit van leiers; om dit waarmee jy nie saamstem nie, toe te laat; en om diegene wat ernstig van jou verskil, te verdra.

Volgende week word Joe Biden­ as die 46ste Amerikaanse president sedert die presidentskap in 1789 ingestel is, ingehuldig. Oneerlikhede ten tyde van die presidentsverkiesing en die bestorming van die Kongresgebou het druk op die Amerikaanse demokrasie geplaas. Sommige media het selfs van ’n moontlike staatsgreep gepraat.

Amerika kan in die toekoms dalk verbrokkel, maar ek glo nie vir een oomblik dat ’n staatsgreep daar moontlik is nie. Daarvoor is die demokratiese kultuur te goed gevestig.

In Amerika is daar meer as 500 000 demokraties verkose openbare verteenwoordigers op al die verskillende vlakke van regering. So ’n stelsel word nie maklik in ’n diktatuur verander nie.

Ek dink onwillekeurig aan United Airlines vlug 93. Dit was een van die gekaapte 9/11-vliegtuie wat in 2001 op pad was om in ’n gebou in Washington vas te vlieg. Toe die Amerikaanse passasiers besef wat aangaan, bespreek hulle moontlike oplossings en stem wat hulle moet doen. Die meerderheidsbesluit was om die stuurkajuit te bestorm, wat hulle toe gedoen het. Dit sê iets van die Amerikaanse demokratiese kultuur – selfs in so ’n angsvolle krisisuur.

Die Russe, Afrika en selfs die Duitsers het my nog nie oortuig dat hulle oor ’n soortgelyke demokratiese kultuur beskik nie.

Wladimir Poetin is reeds sedert 1999 aan en af president van Rusland en het pas die grondwet gewysig vir nog twee termyne van ses jaar.

Afrika en die ANC se demokratiese geskiedenis is nie veel beter nie. Dit maak pres. Cyril Ramaphosa se aanbod aan Amerika, “dat hulle by Suid-Afrika kan kom leer hoe om ’n vreedsame demokratiese oorgang te hê”, verwaand.

’n Werklike toets vir demokrasie is om die mag vreedsaam af te gee nadat jy verloor het. Soos Jan Smuts in 1948 die mag aan dr. D.F. Malan oorgedra het.

In Afrika se geskiedenis het alle­ leiers van bevrydingsbewegings om onafhanklikheid en demokrasie geveg. Nadat dié leiers die mag gekry het, was min van hulle bereid om dit demokraties af te staan. Van die 33 state in Afrika wat van 1956 tot 1970 onafhanklik geword het, het net een, Botswana, demokraties gebly. Afrika het ook reeds 80 suksesvolle staatsgrepe en 108 mislukte staatsgrepe teen 2001 gehad.

En Suid-Afrika? Om verskeie redes was 1994 nie ’n ANC-toets nie. Suid-Afrika en die ANC se demokratiese toets lê voor die dag as die ANC ’n nasionale verkiesing verloor. Gaan hy dan die mag vreedsaam afstaan?

Die ANC het ’n interne demokratiese kultuur, maar sy leiers, soos Thabo Mbeki en Jacob Zuma­, het moeilik die mag afgestaan. Onlangs het Jessie Duarte as lid van die ANC se topses gesê daar sal ’n burgeroorlog wees as die ANC nie meer regeer nie.

Waar Suid-Afrikaanse studente ten tyde van #FeesMustFall die parlement bestorm, waar die EFF demokratiese prosesse berekend ontwrig en waar swart of wit Twitter-gebruikers rassisties en onverdraagsaam met geweld dreig, moet daar streng opgetree word as deel van die vestiging van ’n eie demokratiese kultuur.

  • Dr. Mulder is ’n voormalige parlementslid en professor.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.