Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Demokrate op kwartlyn van Republikeine

Die proses om pres. Donald Trump van magsmisbruik en regsverydeling in ’n staat van beskuldiging te stel, kan vergelyk word met ’n rugbywedstryd.

Verskeie getuies, mense wat op die oog af geloofwaardig is, het al getuig voor die komitee wat inligting oor die saak inwin. Wat uitgelek het, klink op sigself verdoemend.

Dit kom daarop neer dat Trump militêre hulp aan Oekraïne weerhou het om druk op sy president uit te oefen sodat hy politieke skietgoed teen Joe Biden, Trump se waarskynlike Demokratiese teenstander in volgende jaar se presidentsverkiesing, kan verskaf.

Dis onwettig, en die Demokrate meen dis genoeg rede om Trump aan te kla.

Nou die rugby-metafoor: Dis duidelik dat die Demokrate tans die bal (die politieke inisiatief) het. ’n Losskrum is op die Republikeinse kwartlyn aan die gang, en dit lyk of die bal aan die Demokrate se kant gaan uitkom.

Die getuienis wat swaargewig-diplomate al voor die komitee gelewer het, is deur verskeie onafhanklike kommentators met die Engelse woord “game-changer” beskryf. Dít was die oomblik dat die Demokrate die bal van die Republikeine afgeneem en begin dryf het.

Die Republikeinse verdediging is duidelik ontwrig deur die massiewe druk wat die Demokratiese voorspelers toepas. Die wyse waarop 25-30 Republikeinse Kongreslede die getuienis van ’n hooggeplaaste Pentagon-amptenaar ontwrig het, wys duidelik dat hulle van stryk is.

Vir verreweg die meeste politici is hul eie oorlewing die belangrikste, meer as landsbelang en beginsels.

Daarby staan die Demokratiese agterlyn gereed om met die bal te hardloop wanneer hy uitkom. Met ander woorde, die saak kan nog verder vir die Republikeine vererger. ’n Mens moet dié waarneming egter as baie voorlopig beskou. Soos dinge op die rugbyveld in ’n oogwink kan verander, kan dit hier ook gebeur.

Die Demokrate sou ’n groot fout maak as hulle meen die wedstryd is klaar gewonne. Trump is ’n egte straatvegter, en onder sy Republikeinse koukuslede is daar verskeie mense wat net so kaalvuis kan veg.

Kragtens die Amerikaanse grondwet moet ’n meerderheid van die Huis van Verteenwoordigers stem om die president aan te kla. In die lig van die Demokratiese meerderheid in die Huis sal dit wel gebeur. Maar dan verskuif sake na die Senaat, waar die president slegs deur ’n tweederdemeerderheid afgesit kan word. Soos sake tans staan, lyk dit onwaarskynlik.

Maar as jy sien hoe die Republikeine skarrel om Trump te verdedig en hoe hy skel en skree, is dit nie onmoontlik dat voldoende oortredings van hom blootgelê kan word om sy eie partygenote te oortuig dat hulle hom ter wille van hul eie politieke oorlewing moet laat val nie. Let wel, dis onwaarskýnlik, maar nie onmóóntlik nie.

Vir verreweg die meeste politici is hul eie oorlewing die belangrikste, meer as landsbelang en beginsels.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.