Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Denel se verhaal ook dié van SA

Denel se reputasie is “onherstelbaar geskaad” deur die Guptas, is Maandag voor die Zondo-kommissie getuig.

Johanna van Eeden

Werknemers en tegnici se moraal is vernietig, geheime patente was skielik nie meer veilig nie en bestaande prosedures het in onbruik verval. Denel, eens ’n vlagskip in die vervaardiging van tegnologies gevorderde wapentuig, het naderhand niks meer vervaardig nie. Alle rolspelers het vertroue verloor in ’n organisasie wat eens geloofwaardigheid in militêre kringe gehad het.

Adjunkhoofregter Raymond Zondo het opgemerk wat met Denel gebeur het, is soortgelyk aan wat by Eskom gebeur het. Eintlik is Denel se verhaal ook Suid-Afrika s’n.

Suid-Afrika, wat daarin kon slaag om homself te herontwerp: van die “muishond van die wêreld” onder apartheid tot “die reënboognasie” – ’n skitterende voorbeeld van die vreedsame oordrag van mag.

Jare ná 1994 was ons die oogappel van die wêreld, maar ander lande het intussen dié titel oorgeneem. En daarmee saam is ons reputasie aan flarde.

Reputasie is iets wat jy verloor as jy deurlopend een ding sê, maar ’n ander ding bly doen. Jy verloor jou geloofwaardigheid en mense sukkel om jou te vertrou.

Waar beleggers byvoorbeeld voorheen oor hul voete geval het, is hulle nou katvoet vir Suid-Afrika. Lande wat voorheen bereid was om ruim te skenk vir ontwikkelingswerk, verkies nou om geld liewer aan organisasies te gee waar korrupte politici nie hul vingers in die kluis kan druk nie.

In praktyk kry ons min van ons blink planne uitgevoer.

Op papier, en veral daardie belangrikste van papiere, naamlik die Grondwet, sê ons duidelik watter soort land en gemeenskap ons wil wees. Een waarin eenheid deur diversiteit bereik word.

In praktyk kry ons min van ons blink planne uitgevoer.

Natuurlik is daar steeds plekke van uitnemendheid, maar dis min en dun gesaai. Die korrupsie-seekat het sy tentakels ingeslaan op elke plek waar daar vassuigplek (lees: geld) was.

Prof. Nico Koopman, teoloog en viserektor van die Universiteit Stellenbosch, skryf vandeesweek in ’n rubriek in Die Burger oor die interaksie tussen uitnemendheid en diversiteit. Hy argumenteer dat uitnemendheid nie moontlik is sonder diversiteit nie. En dat diversiteit bydra tot uitnemendheid.

Koopman skryf ook dat daar “ten minste op onderbewuste vlak” by baie mense steeds ’n “gepynigde siening” bestaan, naamlik “hoe meer ons toeneem in diversiteit, hoe minder uitmuntend word ons”.

Dís hoe dit gebeur dat ’n land wat eens daartoe in staat was om die Rooivalk-aanvalshelikopter te ontwikkel, nou nie eens meer sy straatligte in stand kan hou nie.

Dis jammer, maar dis waar. En dis ongelukkig ’n (vals) waarheid wat staanplek in mense se koppe gekry het omdat ons steeds nie – soos die aanhef van die Grondwet daarna verwys – die potensiaal van alle Suid-Afrikaners ontsluit nie.

Dit kan bereik word deur ’n uitnemende onderwysstelsel en die oopgooi van gelyke geleenthede vir almal wat bereid is om moue op te rol en te werk.

Dit word ondermyn deur die ontplooiing van kaders en ’n kultuur wat deur die regerende party geskep is waar net diegene met die regte politieke verbintenisse staanplek by die trog kry.

Dís hoe dit gebeur dat ’n land wat eens daartoe in staat was om die Rooivalk-aanvalshelikopter te ontwikkel, nou nie eens meer sy straatligte in stand kan hou nie.

Die Rooivalk is ontwikkel omdat Suid-Afrika destyds weens sanksies nie wapentuig kon invoer nie. Dalk bied die vervolgingsvuis wat al hoe vaster om die staatskapers klem aan gewone Suid-Afrikaners ’n tweede Rooivalk-geleentheid. ’n Kans om die land te laat wérk. En ’n reputasie te herbou.

  • Van Eeden is meningsredakteur van Beeld en Die Burger.
Meer oor:  Denel  |  Johanna Van Eeden  |  Wapens  |  Korrupsie  |  Geld  |  Staatskaping  |  Guptas
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.