Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Die aartappel is veelsydig; g’n sofapokkel nie
Jana Luther

Vleis, rys en aartappels. Groenbone met aartappel, ’n stukkie skaap daarin, of nie.

Of jou aartappel nou ’n ertappel is, of jou ertappel ’n aartappel. Terwyl Dawid elders die wortels grawe, spit ek dié eetbare knol, Solanum tuberosum (familie Solanaceae), uit.

’n Sakkie aartappels. Middelslagaartappels, dwergaartappels. Eet-, kook-, braaiaartappels. Jong aartappeltjies uit die tuin, in die skil gekook en met knoffelbotter aangeklam. Kapokaartappels. Aartappelgnocchi met saliebotter. Aartappelslaai. Kraakbros skyfies en wiggies. Koue aartappels, blou om die kiewe. Gebakte aartappels. Aartappels op hul beste, in hul eie baadjies.

Ovaalvormige Vanderplank, met sy vlak ogies, se wit vleis word tjips. Buffelspoort se ronde knol gaan oond toe. BP1 is ferm, deug vir als, van pot tot oond. Lang geel Mondial is reg vir die tafel. Up-to-date blus ligroom by bak en fynmaak.

Meer as 8 000 soorte in meer as 130 lande, sê Wikipedia. Ná koring, mielies en rys is die aartappel die wêreld se belangrikste verbruikersgewas.

“Stapels aartappels . . . onder in die kelder” is deel van Julian de Wette se “familieportret”. “Sondagoggend tien-dertig” wag Wopko Jensma se “skaapkop en gebakte ertappels gereed vir groot eet”.

Die vlieë sit vas in die aartappelslaai en ons eet daai skaapribbes dat die vet spat.
Toast Coetzer

“Die vlieë sit vas in die aartappelslaai en ons eet daai skaapribbes dat die vet spat,” dig Toast Coetzer.

“Aartappel”, wat ons meestal met ’n kort “a” uitspreek. Van waar dié naam? Van die aarde, nes “aarbeie” ook. In Frans: “pomme de terre”, appel van die aarde, vrug uit die grond.

Wanneer “aarde” in Afrikaans die eerste lid van ’n samestelling is, val die slot-“e” weg, word dit “aard-” of “aart-”, soos in “aardbewing”, “aardrykskunde”, “aartappel”. Uit Europa kom ook die dialektiese variante “erd(e)-” of “ert-”: “erdepot”, “erdvark”, “ertappel”.

“Aartappel” of “ertappel”? Enigeen, sê die AWS. Albei is ewe reg. Ook in aartappelbrandewyn, aartappelbrood, -koekies, -pasteie . . . Maar pasop. Van te veel aartappels kom ’n aartappelbuik.

Dan liewer aartappels – gate – in kouse en sokkies. Of in streekstaal “aartappel” vir ’n “horlosie”: Wat sê jou aartappel? Hoe laat is dit? Tyd vir aartappels braai, tyd vir vry.

Lyk dit of jy ’n aartappel in iemand kan gaarmaak? Dan is sy ontsteld. Dalk ’n ongeskilde, ongeskraapte, ongesouste aartappel, ’n ru, ongepoetste, ongemanierde vent se skuld?

As ’n mens aartappels in iemand se ore kan plant, kort hulle seep en ’n waslap.

Skil jy jou aartappels twee keer? Dan is jy deeglik. Nie? Dan doen jy iets een maal en klaar.

Aartappel leen sy naam ook uit: Aartappelskilpadjies en -vlooie is swartrooi insekte en blinkswart kewertjies; die aartappelbovis ’n vuisgroot gifpaddastoel wat soos ’n aartappel lyk.

Veelsydig is hy, dié knol in die kombuis. Gewis geen “couch potato” nie.

Op Afrikaans se rusbank is die opskeploerders die sofapokkel en die stoelpatat.

  • Luther werk vir die Virtuele Instituut vir Afrikaans.

Meer oor:  Jana Luther  |  Woorde  |  Aartappels  |  Taal  |  Afrikaans
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.