Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Max du Preez: Die adder(s) aan die bors
Ace Magashule, die ANC se sekretaris-generaal (regs), en Supra Mahumapelo, afgedankte premier van Noordwes.Foto: Jabu Khumalo, Daily sun

Ace Magashule is die adder in pres. Cyril Ramaphosa se boesem, die Zuma-faksie se Trojaanse perd in die ANC se topbevel.

Ramaphosa se frustrasie was die naweek duidelik toe hy sy eie regering se mislukking om aan burgers se verwagtinge te voldoen, betreur het. “Die misbruik van ons mense moet end kry,” het hy gesê. Soos die res van ons ervaar hy ook hoe die donker wolke besig is om sy “nuwe daeraad” te oorskadu.

Ná ’n dekade van magsmisbruik, wanadministrasie en groteske korrupsie, was Ramaphosa se taak moeilik genoeg, veral met die hoër verwagtinge en ook noudat die ekonomie weer aan die stotter is.

Wat hy nodig gehad het, is ’n sterk, lojale partybestuurder wat die ANC kon bestuur en agter die leierskorps verenig sodat hy as president van die land op die reddingsaksie en op die rehabilitasie van die staat kon fokus.

In die plek daarvan is hy nou ’n president wat met een hand agter die rug vasgebind moet regeer.

In die plek daarvan is hy nou ’n president wat met een hand agter die rug vasgebind moet regeer, want dié partybestuurder is sy vyand wat hom oral saboteer.

Die ANC se grondwet gee die sekretaris-generaal ’n sleutelrol in die party, derde in die rangorde naas die president en adjunkpresident.

Hy is die hoof- administratiewe beampte, hy beheer alle kommunikasie tussen die leierskapstrukture en die lede, en moet seker maak “dat alle eenhede van die ANC hul take behoorlik vervul”.

Alle departemente van die ANC moet oor hul aktiwiteite aan die sekretaris-generaal verslag doen, lui reël 16 van hul grondwet.

Die ander bystand waarop Ramaphosa sou moes kon reken, is dié van die adjunkpresident van die party, David Mabuza.

Sy probleem is dat hy met ’n slenter tot sy pos verkies is, nooit regtig ’n Ramaphosa-man was nie, self heelwat geraamtes in sy kas het, en weens sy slenters met die leierskapsverkiesing in Desember verlede jaar deur die Zuma-faksie gehaat word.

Daar is boonop ’n openlike oorlog tussen Mabuza en Magashule aan die gang. En Magashule se adjunk, Jessie Duarte, is ook nie juis ’n Ramaphosa-groupie nie.

Die ANC se faksiegevegte is nog net so hewig soos voor die leiersverkiesing.

Die ANC se faksiegevegte is nog net so hewig soos voor die leiersverkiesing.

’n Bitter Jacob Zuma, rug teen die muur, is wel steeds besig om teen Ramaphosa te knoei, maar eintlik is die term Zuma-faksie nou nie meer heeltemal korrek nie.

Dit is eintlik ’n faksie van gegriefdes, van mense in Zuma se netwerk van patronaatskap wat skielik die koue daar buite ervaar. In KwaZulu-Natal is daar ook ’n etniese Zoeloe-element by.

Magashule het kort ná sy naelskraapse verkiesing in Desember gewys hy gaan nie lojaal jeens sy nuwe president wees nie.

In Januarie het hy openlik verklaar die party wil nie hê Zuma moet bedank nie.

Kort daarna het hy Zuma-lojaliste gepaai deur te sê daar moet gemobiliseer word sodat hule die ANC ná vyf jaar kan “terugvat”.

Net verlede maand het hy van ’n verhoog af gesê ANC-lede moet rebelleer teen die party se besluit om BTW te verhoog.

Die sekretaris-generaal is die een wat die tweespalt en chaos in die ANC in provinsies soos KwaZulu-Natal, Noordwes, die Vrystaat en die Oos-Kaap moet uitsorteer, maar hy doen die teendeel.

Magashule se geskiedenis is so vrot soos dié van sy boesemvriend van die ou sogenaamde premierliga, Noordwes se Supra Mahumapelo.

Die Vrystaat, waar hy lank premier was, is in ’n totale gemors en verskeie ernstige aanklagte van korrupsie, magsmisbruik en nepotisme word teen hom ondersoek.

Magashule is ’n groot deel van die rede waarom Ramaphosa die resies na doeltreffender regering en ’n groeiende ekonomie met ’n blok aan die been moet hardloop.

Meer oor:  Ace Magashule  |  Cyril Ramaphosa  |  Anc
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.