Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Dié afhanklikheid ons sterk wapen
Kiepie Jaftha
Kiepie Jaftha

Oor die wêreld heen gedenk Christene nou die lydensweke.

Die fokus val op die gebeure in Jesus se aardse lewe kort voor sy kruisiging op Golgota.

Tydens twee van die gebeurtenisse is daar vrae oor die emosionele intelligensie van sommige van die mense wat voor die kruisiging met Jesus te doen gekry het.

In Lukas 19:37-39 word vertel hoe Jesus Jerusalem op ’n donkie binnery. Die skare was verbaas én bly.

Van hulle het sommer van hul klere uitgetrek en as ’n teken van respek in die pad gegooi.

En hulle het luidkeels gesing: “Loof die Koning, Hy wat in die Naam van die Here kom. Vrede in die hemel en eer aan God in die hoogste hemel.”

Saamgevat: Die skare jubel en lag!

In Lukas 23:13-25 vra Pilatus vir die skare hulle moet hom help om te besluit wie word vrygelaat.

Die keuse is tussen Barabbas en Jesus.

Volgelinge van Jesus swig hier onder sosiale druk.

Hier word die finale spyker in die “doodskis” van Jesus geslaan.

Sonder skaamte sing en skreeu hulle saam met die res: “Kruisig Hom! Kruisig Hom!”

Hier word die finale spyker in die “doodskis” van Jesus geslaan. Buiten Johannes het die res van die dissipels weggehardloop. Judas Iskariot het vroeër selfdood gepleeg.

Saamgevat: Maar Jesus huil!

Die afgelope drie jaar voor die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping moes talle getuies hul woorde sluk.

Adjunkhoofregter Raymond Zondo en getuienisleiers se ondervraging getuig van hul bemeestering van komplekse sake en van goeie emosionele intelligensie.

Suid-Afrikaners kry vanjaar twee geleenthede om hul emosionele intelligensie te wys: Die driejaarlikse verkiesing van beheerliggame vir openbare skole en die vyfjaarlikse munisipale verkiesing.

Die BL-verkiesings, van dié week af tot 31 Maart, bied aan ouers met kinders in openbare skole die geleentheid om hul regte kragtens die Suid-Afrikaanse Skolewet uit te oefen.

Dié wet bepaal die ouerkomponent moet altyd die meerderheid in die beheerliggaam wees.

Dit is wys vir elke stemgeregtigde ouer om te stem en om daarna ook die verkose beheerliggaam van diens te wees deur hul persoonlike vaardighede en gesonde emosionele intelligensie in te span.

Ouers wat in ’n BL-verkiesing wil staan, moet seker wees van hul beweegredes.

Dit is ’n eretaak in die opvoeding van kinders. Daar is geen finansiële vergoeding nie. Alles is vrywillig.

En dan, moontlik iewers tussen Mei en November, kan stemgeregtigde Suid-Afrikaners hul kruisies gaan trek in die plaaslike regering- of munisipale verkiesing.

Verkose stadsraadslede verdien yslike salarisse wat in hierdie ekonomiese tye waarin ons leef, nie te versmaai is nie.

Maar ongelukkig is die meerderheid van hierdie stadsraadslede net pionne op die politieke skaakbord. Hulle kan al te dikwels nie hul eie emosionele intelligensie inspan nie, want alles word in ’n politieke koukus bepaal.

Met die trek van ons kruisies, moet ons egter ons emosionele intelligensie wys.

En ons sterkste wapen bly steeds om elke dag meer in afhanklikheid van Jesus te leef.

Soos daar in die Bybel geskryf staan: “Planne wat op goeie raad steun, slaag; vra raad voor jy oorlog maak.” (Spreuke 20:18).

Ds. Jaftha is emeritus-leraar van die Gereformeerde Kerk Heidedal in Bloemfontein.

Meer oor:  Godsdiens  |  Geloof
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.