Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Die ANC soek nuwe melkkoei in die landbou
Charles Smith

Dingaan, die voorman op Zeekoegat, vertel my die mooi storie van die bejaarde plaaswerker wat vermis was en eers ná ’n lang soektog gekry is waar hy op ’n miershoop tussen die beeste gesit het.

Hy sit toe al ure lank in die veld met sy hande gestut op sy kierie en kyk met genoegdoening die beeste deur wat blinkvet loop en wei met die kalwers wat met skuim om die bekke aan hul ma’s suip.

“Vir wat loop en soek julle na my? Ek sit op die beste plek op die plaas. Die veld en die beeste was in jarre nog nie só mooi nie. Vir wat sal ek in die huis sit en stories kyk op die teevee as ek na die beeste kan kyk?” wou hy verontwaardig weet.

Amen, wou ek sê toe Dingaan die storie vertel. Want ons staan toe hoeka in die damkamp en kyk na die trop koeie en kalwers wat om ons draai. Die beeste is rondvet en die kalwers se oë trek sommer toe van dikgeid. Die vee kan nie mooier wees nie in die seisoen van oorvloed.

Jy is lus om self die hele oggend tussen die beeste in die veld te wees. Dit is soos ’n terapiesessie ná ’n maand in die stad én ná jare van droogtes, brande en sukkelende pryse.

Ek dink aan die storie in die week waar die lone vir plaaswerkers en onteiening sonder vergoeding in die kollig is. Dit is nie ’n maklike kwessie nie.

Die styging van 16% gaan egter beteken boere kan nie nuwe werkers in diens neem nie en selfs minder dagloners gaan werk kry.

Plaaswerkers verdien goeie lone. Sonder die kennis en liefde vir diere en harde werk van werkers, kan boere nie ’n lewe maak nie. En die ekonomie van die platteland is op ’n gesonde landbou geskoei.

Die nuwe minimum loon van R3 470,40 (vir ’n werksweek van 5 dae en 8 uur per dag) is dalk nie baie vir stedelinge nie. Die styging van 16% gaan egter beteken boere kan nie nuwe werkers in diens neem nie en selfs minder dagloners gaan werk kry. In baie Vrystaatse dorpe is die werkloosheidspeil onder jong mans 60% of meer.

Die plan met die deurdruk van die wet op onteiening sonder vergoeding kan ’n nekskoot vir die plattelandse ekonomie wees. Stadsrade wat nie rioolaanlegte en paaie kan bestuur nie, sal grond kan teiken vir comrades soos MK-veterana, van wie min boere is. Dié mense gaan eersdaags krepeer van honger.

Ek doen moeite om sake met swart boere te doen. Hulle koop goeie verse en ooie teen kosprys sonder die inmenging van die staat. Hulle brand vir inligting en hulp, maar hul pleidooie val op dowe ore. Dit is veral plaaswerkers wat gestraf word vir hul verbintenis met wit boere en nie grond kry nie. Die ANC se beleid is: Geen (ryk) comrade nie, geen grond nie.

Die regering stuur ’n sinkende skip in die gevaarwater in. Ons kort projekte en steun aan swart boere en werkers.

Die ANC weet die staat is leeg gesteel, nou gaan hy vir die landbou mik.

Die kaders sien nóg ’n melkkoei soos Vrede.

Al wat hulle gaan doen, is om die ekonomie en werkers se toekoms keelaf te sny.

Meer oor:  Charles Smith  |  Werkloosheid  |  Swart Boere
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.