Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Die (ander) siekte van ons tyd

Erge vetsug is ’n siekte en dit is veel meer kompleks om te behandel as om te probeer om “minder te eet”. Die stigma wat daaraan kleef, is so intens dat miljoene mense nie behandeling daarvoor kry, besef hoe hul gesondheid benadeel word of dat haar hoop is nie, skryf Elsabé Brits. 

Baie mense voer hul lewe lank ’n stryd met die skaal sonder om te besef dat vetsug ’n siekte is. Foto: ISTOCK

Hormone speel ’n groot rol in ’n mens se gewig omdat dit jou eetlus beïnvloed­, asook die manier hoe vet in jou liggaam gestoor word. Hoewel daar baie faktore is hoekom mense erg oorgewig is, is dit veel meer multidimensioneel as wat algemeen aanvaar word.

Dit is ’n siekte en sodra ’n mens dit besef, kan daar nie net makliker van die afknouende stigmas ontslae geraak word nie, maar mense kan behandel word. Verlede jaar op Wêreldvetsugdag het van die voorste mediese kenners in die vaktydskrif Nature ’n beroep gedoen dat die narratief moet verander. Almal moet ’n rol speel, van die medici tot die gemeenskap en die media.

Vorige bewyse dui daarop dat gewigstigma fisieke en sielkundige skade aanrig en dat mense nie daarvoor behandeling soek nie. Mense word onregverdig as lui en sonder wilskrag en selfdissipline beskou, wat hulle kwesbaar maak vir diskriminasie. Hierdie sosiale stigmas is tipies gegrond op die onbewese. Dié opvattings stem nie ooreen met wetenskaplike bewyse dat gewig nie alleen onder die beheer van ’n mens se wilskrag is nie, maar dat biologiese, genetiese en omgewingsfaktore kritieke faktore is wat bydra tot vetsug.

Daar is terapeutiese middels beskikbaar wat ’n mens onder die toesig van ’n dokter op voorskrif kan ontvang. Regte medikasie, nie die magdom slang­olies wat oral verkwansel word wat jou kwansuis sou maer maak of vet sal “verbrand” nie.

Aan die ander kant is daar ghrelien, byna iets soos ’n hongerhormoon wat aan jou sê jy is honger en laat weet jy is versadig.

‘Eet-hormoon’

Leptien is ’n hormoon wat aan ’n mens se brein – die hipotalamus – sê jy is versadig, wat reguleer hoeveel jy eet. Dié hormoon word geproduseer in vetselle en seine wat aan die brein oorgedra word en gee inligting oor die liggaam se metaboliese toestand.

Sodra daar fout kom by dié seine, of dit word geïnhibeer, kry die brein nie ’n duidelike boodskap dat jy genoeg energie het nie. Sommige kenners noem dit leptienweerstandigheid. Dié rol is eers in 1994 ontdek, maar die presiese meganisme oor wat verkeerd loop, is nog vaag. Wat wel bekend is, is wanneer jy gewig verloor, daal leptienvlakke en jy eet méér omdat die brein dink jy ly honger. Dit is hoekom dit so moeilik is om op die lang duur die gewigverlies te behou.

Die liggaam het sy eie vasgestelde gewig, wat bepaal word deur jou genetiese samestelling en sodra jy gewig begin verloor, is daar ’n natuurlike teenreaksie: Eet.

Aan die ander kant is daar ghrelien, byna iets soos ’n hongerhormoon wat aan jou sê jy is honger en laat weet jy is versadig. By mense wat aan vetsug ly, is die gherlienvlakke laer­ nadat hulle geëet het en dus het die brein nie die boodskap ontvang om op te hou eet nie.

Mediese oplossing

Sodra kos in die spysverteringskanaal beland, word nog ’n versadigheidshormoon afgeskei. Dít is GLP-1 (glucagon-agtige peptied-1; in Engels: glucagon-like peptide-1) wat ’n belangrike rol speel in die regulering van aptyt ten tyde van en tússen maaltye. Dit help dat jy langer versadig bly en maak jou maag, die orgaan, stadiger leër.

Die natuurlike weergawe daarvan help jou wel nie gewig verloor nie, maar die farmaseutiese produk wel.

Dit staan bekend as ’n GLP-1-agonis, dus ’n chemiese middel wat bind aan ’n reseptor. Die reseptor word geaktiveer om ’n biologiese reaksie te hê. Die middel bevat ’n hormoon wat die afskeiding van insulien bevorder en ’n mens versadig laat voel ten tyde van en tussen maaltye. Dit werk juis in op die aptytsentrums van die brein en dit vertraag die leegmaak van die maag.

Wat uiteindelik lei tot vetsug, is ’n komplekse mengsel gebeure tot op die sellulêre vlak.

Novo Nordisk se middel Ozempic (waarvan die aktiewe middel semaglutide is), bestaan uit ’n 2,4 mg-inspuiting een keer per week vir mense wat aan vetsug ly. Dit is op voorskrif beskikbaar vir mense met minstens een onderliggende siektetoestand en word gedoen saam met leefstylaanpassings. ’n Pilvorm word beplan.

In ’n kliniese studie waarin mense daarmee behandel is, het almal gewig verloor. Hulle het ’n gemiddelde liggaamsmassa-indeks van 38 gehad, het sowat 105 kg geweeg en het ná 68 weke sowat 14,9% van hul liggaamsmassa verloor. Dié resultate is die afgelope week in die New England Medical Journal gepubliseer.

In die groep mense wat ook diabetes het, was die gewigverlies tussen 14% en 18%, wat aansienlik is omdat dit baie moeilik is om gewig te verloor indien ’n mens dié siekte het. Mense het minder geëet, asook minder vetterige kos.

’n Ander ouer middel, ook ’n inspuiting, is Saxenda of Victoza (die aktiewe bestanddeel is liraglutide) en werk op dieselfde manier, maar dit word daagliks gebruik.

Moenie oordeel nie

Nog ’n voorskrifopsie is die aptytonderdrukker Duromine (moenie mislei word deur die namaaksels of die “100% natuurlike kruie”-opsies daarvan nie).

Pasop ook vir mense wat daarmee aanlyn smous. Jy kan dit net op voorskrif by ’n regte apteek kry, nie ’n “aanlyn apteek” nie.

Wees baie versigtig vir middels wat jy oor die toonbank koop omdat dit nie deur die­selfde kliniese proewe is as medikasie­ nie, jy nie weet wat die newe-effekte is of selfs wat daarin is nie. Moet nooit ’n verslankingsmiddel bestel wat sibutramine bevat nie. Dié middels is onttrek omdat dit mense beroertes en hartaanvalle gegee het.

68% van die pasiënte wil hê die dokters moet met hulle daaroor praat. Hulle soek hulp.

Dr. Sundeep Ruder, endokrinoloog van Johannesburg, sê baie keer sien mense by wie vetsug gediagnoseer word hulself nie as sodanig nie. Dit is omdat daar soveel mense is wat aan die siekte ly dat dit ’n soort normaliteit geword het. “Ons moet dit die siekte noem wat dit is sodat ons aandag daaraan kan gee.”

Hy sê mense, selfs medici, sukkel om die siekte behoorlik te verstaan en daar is beperkte behandelingsopsies. Daar is ook nie werklik spesialiteits­areas binne geneeskunde wat daarop fokus nie en nie genoeg gehaltestandaarde waarvolgens behandeling moet geskied nie. Dit is nog moeiliker om mediese skemas te oortuig om daarvoor te betaal, maar jy kan baie op lang termyn spaar deur voorkomend op te tree.

Ruder sê dit is nie so eenvoudig as om aan iemand te sê om minder te eet nie, weens die invloed van aptythormone en die meganismes betrokke. Daarom kan ’n mens nie oordeel nie. Wat uiteindelik lei tot vetsug, is ’n komplekse mengsel gebeure tot op die sellulêre vlak. Daar is die omgewing, kultuur, metabolisme, sielkundige en genetiese faktore en aspekte soos slaap. Al hoe meer navorsing wys indien jy nie goed en lank genoeg slaap nie, dit ’n invloed het op vetsug, ook by kinders.

‘Dokter, help my!’

In ’n studie (Action IO) wat gedoen is oor hoe dokters (2 785) en pasiënte (14 502) voel oor gewigverlies, het 68% van pasiënte en 88% van dokters saamgestem vetsug is ’n siekte. Soveel as ’n derde van die dokters het steeds aangedui die verantwoordelikheid om gewig te verloor is dié van die pasiënt.

Elsabé Brits

68% van die pasiënte wil hê die dokters moet met hulle daaroor praat. Hulle soek hulp.

Tog dink dokters hulle gaan dit nie aanraak nie, want hulle dink nie mense wil gewig verloor nie. Die teendeel is egter waar.

Twee derdes sê hulle voel gemotiveer as dokters met hulle praat en ’n opvolgbesoek is belangrik. Die studie het gewys daar is misverstande. En dat om gewig te verloor nié die absolute verantwoordelikheid van die pasiënt, wat dalk ook ’n onderliggende siekte het, is nie.

Volgens die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) het vetsug verdriedubbel sedert 1975, met 1,9 miljard mense wat oorgewig is en 650 miljoen wat aan vetsug ly.

Die syfers vir Suid-Afrika wissel, maar ’n peiling onder kinders het gewys tot 13% is oorgewig of ly aan vetsug. Sowat 31% van mans en 68% van vroue is óf oorgewig óf ly aan vetsug, maar dié inligting van peilings van die departement van gesondheid onderskei nie tussen oorgewig en vetsug nie. Daar is wel in die jongste peiling in 2016 aangedui 20% van vroue ly spesifiek aan vetsug.

Wat is die nadeel van vetsug? Wel, as jou liggaamsmassa­indeks bo 40 is, word jou kanse om 70 jaar oud te word met die helfte halveer, sê Ruder. En onthou­, kinders doen wat hul ouers doen. Die gevaar bestaan daarom dat vandag se kinders dalk korter kan leef as hul ouers­.

  • Brits is ’n vryskutjoernalis wat in wetenskap spesialiseer.
Vetsug en Covid-19

Vetsug het ’n invloed op drie areas: respiratoriese wanfunksie, onderliggende siektetoestande en metaboliese risiko’s.

Soos ’n mens se gewig toeneem, neem longvolume af. Dit is een van die groot redes hoekom mense wat oorgewig is, kan sukkel om asem te haal wanneer hulle Covid-19 opdoen. Dit is ’n siekte wat reeds druk op ’n mens se longe plaas. ’n Mens kan ook in die algemeen sukkel om genoeg suurstof deur die liggaam te sirkuleer. Chroniese obstruktiewe pulmonêre siekte, waar ’n mens net die hele tyd hoes, slym het en uitasem is, is een van die grootste gevolge. Die bene en enkels swel ook weens dié toestand.

Algemene onderliggende siektes en metaboliese risiko’s is hoë bloeddruk, ’n verhoogde kans op ’n beroerte en hartsiekte, slaapapnee, tipe-2-diabetes, jig, ’n groter risiko om sekere kankers te ontwikkel, pulmonêre embolisme, vrugbaarheidsprobleme, depressie en vroeë puberteit in meisies.

Foto: ISTOCK

Klop die som?

Bereken jou liggaamsmassaindeks soos volg: Veronderstel jy weeg 85 kg en is 1,65 m lank.

Doen dan dié som: 85 ÷ (1,65 x 1,65) = 31,25

’n Gesonde liggaamsmassaindeks is tussen 18 en 24,9.

’n Gesonde liggaamsmassaindeks dra by tot jou algemene gesondheid, terwyl vetsug tot verskeie ander siektes kan lei. Foto: ISTOCK
Vetsug en kanker

Daar is verskeie kankers wat met vetsug verbind word:

  • Meningioom – vorm in die membrane wat van die brein en rugmurg bedek;
  • Adenokarsinoom van die esofagus;
  • Veelvuldige miëloom;
  • Nier;
  • Endometrium – belyning van die uterus;
  • Ovarium;
  • Kolon en rektum;
  • Pankreas;
  • Boonste deel van die maag;
  • Galblaas;
  • Lewer;
  • Bors (post-menopouse); en
  • Skildklier.

Bron: Nasionale Kankerinstituut.


Meer oor:  Wetenskap  |  Siekte  |  Vetsug  |  Vet  |  Oorgewig  |  Medies
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.