Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Dié arrogansie en hoogmoed vernietig ons

In die klassieke The Nature and Destiny of Man: A Christian Interpretation (1939) bespreek die bekende Amerikaanse teoloog Reinhold Niebuhr sy mensbeskouinge.

Hy redeneer dat mense sukkel om hul kwesbaarheid en broosheid te aanvaar. Ons raak angstig daaroor en probeer vlug daarvan. As teenvoeter ontwikkel ons korse van hoogmoed, arrogansie en meerderwaardigheid.

Ons skuil agter intellektuele meerderwaardigheid wat ons laat dink ons weet die beste, ons sienings, oplossings en planne is die beste.

Meerderwaardigheid van mag laat ons glo ons het die grootste invloed en die meeste gesag om ’n plan te laat werk.

Geestelike meerderwaardigheid impliseer dat ons God se wil die beste verstaan, en dat ons in die gesagsposisie is om diegene wat van ons verskil te veroordeel en af te skryf.

Benewens meerderwaardigheid van intellek, geestelikheid en mag, is daar ook die meerderwaardigheid van moraliteit. Morele meerderwaardigheid het verskillende stemme.

Soos: “Ek het ’n geskiedenis van aktivisme en daarom behoort julle te weet hoe toegewyd ek aan geregtigheid is. As julle dus nie my definisie van geregtigheid, en die wyse waarop ek na geregtigheid soek, aanvaar nie, is julle nie so besorgd oor geregtigheid soos ek nie.

“Julle is nie toegewyd aan die transformasie van individue, instellings en samelewings weg van onreg na geregtigheid nie. Wie verskil van my siening van spesifieke geregtigheid in uiters komplekse situasies, is nie ’n ‘besorgde’ kameraad soos ek nie.”

Morele meerderwaardigheid het verskillende stemme.

Nog ’n stem van morele meerderwaardigheid klink só: “Omdat ek binne hierdie kleurgroep of sosio-ekonomiese groepering of gender of seksuele oriëntasie ressorteer, kan net ek oor hierdie saak praat. Net ek weet wat geregtigheid beteken. Die res moet stilbly.”

Teenoor hierdie stem kan ’n mens noem dat daar beslis voorkeur gegee moet word aan verontregtes se stemme in situasies van onreg.

Die vader van bevrydingsteologie, Gustavo Gutiérrez, beklemtoon egter dat hierdie voorrang van verontregtes se stemme nie ’n uitsluitende voorrang – wat ander mense monddood maak, ontmagtig en uitstoot – is nie.

Byvoorbeeld: “My siening van geregtigheid is nie oop vir kritiese intellektuele ondersoek nie. Dat dit dalk ’n oorvereenvoudiging kan wees, dat ek dalk nie alle feite tot my beskikking het nie, dat daar dalk eensydigheid in my siening kan wees, maak nie saak nie.”

Sulke sienings wat as moreel meerderwaardig en as onaantasbaar beskou word, baan die weg vir die uitwys van die ander as ’n vyand wat my bedreig en my toegang tot ’n lewe van menswaardigheid versper – en vir die uitwissing van die ander as duiwel en uit die bose.

  • Prof. Koopman is ’n teoloog en viserektor aan die Universiteit Stellenbosch.
Meer oor:  Nico Koopman  |  Sielsgoed  |  Vernietig
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.