Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Die barmhartigheid van blou

Soms vind jy iets wonderliks sonder dat jy noodwendig daarna gesoek het, skryf Erla-Mari Diedericks.

’n Briljante blou. Foto: Oregon-staatsuniversiteit

Dit gebeur een oggend vroeg. Die sonlig is flou, gefragmenteer deur die toegetrekte blindings in die laboratorium. Alles is wit. Die mure, die oppervlaktes, die wetenskaplike se jas. Net die kaste is ’n ligte karamelbruin. Die enigste kleur in ’n andersins eentonige lewe.

Voorspelbaar.

Maar . . . wetenskap is onvoorspelbaar in sy voorspelbaarheid.

Dit is voorspelbaar dat ’n reaksie sal plaasvind as elemente saamgesmelt word. ’n Feit.

Dit is onvoorspelbaar presies wat die reaksie gaan wees.

Daardie oggend in Corvallis in die deelstaat Oregon in Amerika, is ’n dag soos enige ander.

Skoene knars op bruin linoleumvloere, ’n wit deur gaan oop. Die program vir die dag is die samesmelting van chemiese elemente met die doel om duursame materiaal te ontwerp wat in elektroniese produkte gebruik kan word.

’n Blitsblou kombinasie van iets unieks, waardevols en prakties.

Wat volgende gebeur, is eers blote roetine.

Die elemente word in poeiervorm in die oonde geplaas. Die hitte word verstel na 1 260 °C. Die proses begin. Minute, sekondes gaan verby.

Die deur word oopgemaak soos telkens vantevore. Maar as die oonddeur oopgaan, lê daar meteens ’n sirkel van blou.

’n Blou soos geen ander blou nie.

’n Blitsblou kombinasie van iets unieks, waardevols en prakties.

YlnMn.

Dit klink Japannees. Soos sojasous gemeng met heuning wat aan jou verhemelte vaskleef.

Dit is egter die taal van wetenskap: yttrium, indium en mangaan – die elemente wat gemeng is. Die kliniese styl pas by die erns van die saak.

Die laaste blou pigment is 200 jaar gelede ontdek. Kobalt. Maar kobalt is toksies en reflekteer hitte nie so goed nie. Maar hierdie blou! Dit is volmaak. Dit absorbeer groen en geel golwe en reflekteer blou. Dit koel af. Dis suiwer magic.

’n Eksperiment wat ’n wonderwerk geword het.

Erla-Mari Diedericks

Die lewe is ook maar een groot eksperiment. Voorspelbaar en onvoorspelbaar loop hand aan hand.

Man en vrou ontmoet. Dit is voorspelbaar dat daar ’n reaksie sal wees. Maar wat?

Almal hoop vir die wonderwerk van wetenskap. Chemistry skryf die soekers na liefde in hul advertensies.

“There should be chemistry when we meet.”

Wat ons bring by Mas Subramanian.

Die naam klink eksoties. Soos die naam van ’n towernaar.

Maar Mas Subramanian is ’n wetenskaplike. Dié wetenskaplike in wie se laboratorium die blou pigment ontdek is.

Hy noem die ontdekking “serendipity”.

Sy woordkeuse is interessant. Dit beteken dat jy iets wonderliks gevind het terwyl jy nie noodwendig daarna gesoek het nie.

Serendipity is nooit die ontdekking van sommer net enigiets nie. Serendipity is altyd gelukkige toeval. Die ontdekking is immer iets vreugdevol.

Die volmaakte kombinasie. Een wat ons lewe sal inkleur met ’n pigment so ongelooflik helder en pragtig, dat dit die rou werklikheid van die lewe sal wegkaats.

Subramian was op soek na duursaamheid. Toe vind hy 'n briljante blou.

Is dit die chemistry waarna almal soek?

Die volmaakte kombinasie. Een wat ons lewe sal inkleur met ’n pigment so ongelooflik helder en pragtig, dat dit die rou werklikheid van die lewe sal wegkaats.

Dalk het ons almal dit nou nodig.

YlnMn. ’n Barmhartige blou in ’n dikwels wrede wêreld.

• Diedericks is ’n redaksielid van Netwerk24. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Meer oor:  Erla-Mari Diedericks  |  Oregon  |  Lewe  |  Liefde
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.