Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Die bekoring van waterweë in ’n dorre land

Ek kan nie onthou of iemand dit ooit ’n “harmonika” genoem het nie.

Om die waarheid te sê, die meeste mense het dit nie eens ’n “mondfluitjie” genoem nie, wel ’n “bekfluit”. Die bekendste fabrikaat was Hohner, wat ook akkordeons gemaak het.

Johan van Wyk

“Akkordeon?!” Dis amper soos in “Mamma, ek wil ’n man hê” – maar tog net nie ’n Fransman nie! Die meeste mense het ’n “akkordeon” nie eens ’n “trekklavier” genoem nie, wel ’n “pensklavier”.

Soos “bekfluit” kan dit nie beter in Afrikaans beskryf word nie. Jy hou dit mos teen jou pens, soos Nico Carstens op sy dag.

Ek onthou steeds hoe hy op ’n groot rooi Hohner die “Blikkiesdorp Vastrap” op die eerste Paarlse wingerdfees in 1956 gespeel het.

Toe hy hom uiteindelik neersit, was hy natgesweet. Die bande van Ollie Viljoen se ewe swaar ivoorkleurige Hohner het ná ’n lang aand voortjies in sy skouers gelaat.

Maar nie ’n bekfluit nie. Wanneer my pa, nadat hy “Grootrivier se voël” gespeel het soos jy ’n groenmielie met winkeltande eet, sy Hohner-bekfluit met die een hand liggies teen die palm van die ander hand geskud het, het daar fyn spoegies uit die rye nootgaatjies gespat.

Ek het aan die ou boeremusikante en “Grootrivier se voël” gedink toe ek verlede week in die Paarl se arboretum, die dorp se kosbare, groen, boomryke “long” op sy oostelike wal gekyk het na die byna stilstaande stroompie wat die Bergrivier geword het.

Wat het geword van sy eens kristalhelder, kabbelende waters deur die pêrel van die Boland?

Terwyl ek dit in 1956 nie sou gewaag het om hom in volle vloed aan te durf nie, sal ek nou enkeldiep deur die Bergrivier kan waad.

Wat het geword van sy eens kristalhelder, kabbelende waters deur die pêrel van die Boland?

Amper soos Winston Churchill wat gedurende die Anglo-Boereoorlog in Pretoria ontsnap en deur die Apiesrivier (toe, soos die Bergrivier nou, ’n vlak, stadig vloeiende stroompie) weggekom het. En agterna trots verklaar het: “I swam the mighty Apies!”

Asof die Apies, soos omtrent al Suid-Afrika se riviere nou hewig besoedel, ooit ’n magtige rivier was. Hoewel hy ná swaar reën kortstondig sterk kan afkom. Soos die Sakrivier in die noordwestelike Karoo in vloed die vinnig vloeiendste rivier in Suid-Afrika is.

Wanneer ’n golf van tot drie meter hoog ná swaar reën in die Roggeveld stofwolke in sy droë loop opskop, is hy niemand se maat nie.

Teen die wêreld se magtige riviere is die van Suid-Afrika se eens gewaandes, nou getem deur damme, egter maar stroompies.

Maar dit neem niks weg van die blywende bekoring van waterweë in ’n dorre land nie. Soos Norman Maclean in A River Runs Through It kan ek ook verklaar: “I am haunted by waters.”

Miskien moet ek tog, voordat die arboretum met sy 2 600 bome onder die beton van “Paarl City” kom (ek voel daar die gierige oë van ontwikkelaars), die Bergrivier se waters betree om by my kleinkinders te kan spog: “I swam the mighty Berg!”

Meer oor:  Waterweë  |  Harmonika
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.