Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Die beste sielebad op aarde is ’n reis in die onbevolkte Namib
Erik Holm

Ek het onlangs die voorreg gehad om van Swakopmund deur die Skedelkus na die Kunene en terug­ deur Damaraland te ry. Duisende kilometer feitlik sonder mense.

Die hele Namibië beleef, soos ons droë weste, ’n erge droogte in sy tweede jaar, wat so elke dekade of twee die reël is. So ’n reis bring ’n mens weer diep onder die indruk van ons mensdom se nietigheid en ons geskarrel om onsself te verryk teen die natuur se wetmatighede in.

Langs die kus is die enigste rekord van mensebedrywighede ’n lang ry wrakke wat strek oor 500 jaar, elk ’n getuigskrif van mense se gierigheid, onnoselheid of dronkenskap. Binnelands ’n ewe lang string verlate myne­. Ons is almal kliënte van myne­ en dis skynheilig om mynbou te wil diaboliseer, maar iets is erg verkeerd aan hoe ons myn. Al die myne het duidelik bankrot gespeel. Dit beteken dat hulle óf belegging­skelmstreke was óf dat mynwerkers nie ’n sakeplan kan uitwerk wat koste, aanvraag en logistiek insluit nie. Van rehabilitasie is daar geen sprake nie.

Die inheemse Ovahimba- en Damara-mense het my, daarenteen, werklik beïndruk.

Die inheemse Ovahimba- en Damara-mense het my, daarenteen, werklik beïndruk. Oral is verlate gehuggies (nou in die droogte), wat vinnig weer bewoonbaar gemaak kan word en ten volle uit die omgewing se natuurlike materiale aanmekaargesit is. Sou hulle opgegee word, sal ná dekades min teken en geen besoedeling agterbly nie.

Net soos die wild, is dié mense aangepas by sporadiese en gelokaliseerde reën. ’n Nomadiese bestaan is hier die enigste moontlike manier van boer. Ons vroeë pioniers het dit besef en met hul beeste en skape in die droë weste rondgeswerf en met hul ossewaens staning gemaak op goeie plekke. Daar is min geskryf oor ons anderhalf eeu se bestaan as trekboere. Ons beheptheid met grondeienaarskap het die enigste sinvolle bestaan in die droë weste onmoontlik gemaak.

Die kleinste dorpie is prentjiemooi netjies. Misdaad is daar wel, maar dit is van die grypsoort.

Namibië is een van die mees yl bevolkte lande en in die Namib plek-plek totaal onbevolk. Gedeeltelik is dit die rede dat dit so ’n skoon land is. ’n Mens sien feitlik geen rommel en besoedeling nie. Die kleinste dorpie is prentjiemooi netjies. Misdaad is daar wel, maar dit is van die grypsoort.

Dié mense, lyk dit my, sal jou nie met strykysters brand en doodmaak vir jou selfoon nie. Die ergste diewe, sê hulle my, is die Damaras – hulle het een van ons matrasse onder ons oë uit gesteel. Maar die vriendelikste mense! Lyk tog of hul owerhede teen geweldmisdaad is. In Suidwes-Afrika was daar apartheid, maar anders. Daar is nooit van swart mense gepraat nie. In my vier jaar daar in die 1960’s het mense verwys na Basters, Ovambo’s, Herero’s, Damaras, Duitsers, Boere, Engelse en dies meer.

Almal het komplekse interaksies en sienings van mekaar gehad. Dié kom al meer as 100 jaar aan en is vandag nogal baie dieselfde. Maak vir heelwat minder polarisering.

’n Reis in die Namib is die beste sielebad op aarde. Ek kan dit aanbeveel, veral as jy onder die illusie ly dat mense die belangrikste komponent van die heelal is.

Meer oor:  Erik Holm  |  Reis  |  Sielebad  |  Siel  |  Namib  |  Natuur
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.