Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Die blikkantien-diktators
Pres. Cyril Ramaphosa (in pak tweede van regs), adj.pres. David Mabuza (in pak heel regs) en Ace Magashule, die ANC se sekretaris-generaal (in pak heel links) op ’n besoek aan koning Goodwill Zwelithini van die Zoeloes (met sonbril en skild voor in die middel) vroeër vanjaar. Foto: Jabulani Langa | Daily Sun

Dit gaan my verstand te bowe dat mense wat hoog opgee oor eiendomsreg nog gemene saak kan maak met stamhoofde wat vasklou aan hul beheer oor kommunale grond.

Armoede seëvier waar hulle die septer swaai. Hier en daar is daar uitsonderings, maar die meerderheid gee nie veel om wat met hul “onderdane” gebeur nie.

Solank hulle onderdanig bly en nie in opstand kom teen hul “heersers” se selfverryking nie, kan hulle op die grond bly.

Dit sal egter nooit hul eiendom word nie, want dis kommunale grond onder beheer van die stamhoof. G’n wonder oudpres. Kgalema Motlanthe verwys na hulle as blikkantien-diktators nie!

Die reg om ’n eie stukkie grond te besit kan mos nie net beskore wees vir ’n sekere segment van ons samelewing nie.

Die reg om ’n eie stukkie grond te besit kan mos nie net beskore wees vir ’n sekere segment van ons samelewing nie. Dit moet uitgebrei word na alle Suid-Afrikaners. So bepaal ons Grondwet in art. 25 (9).

Om dus met stamhoofde hand om die blaas te verkeer en te koer-koer oor ditjies en datjies, kom neer op ’n verkwanseling van grondwetlike beginsels en ideale. Dít vir ’n pot lensiesop?

In die praktyk sal dit net tot meer armoede en wanhoop lei, terwyl diegene wat die voordeel van eiendomsreg beleef, van krag tot krag gaan.

Die halfjaar-bevolkingsverslag vir 2018 wat in Julie vanjaar deur Statistieke Suid-Afrika (SSA) uitgereik is, getuig hiervan.

Derduisende mense vlug vanaf die voormalige tuislandgebiede soos Limpopo, KwaZulu-Natal en die Oos-Kaap na Gauteng, die Wes-Kaap en in mindere mate na Mpumalanga.

Armoede, gebrek aan geleenthede, swaarkry, hongersnood, werkloosheid en wanhoop dryf hulle op groot skaal na provinsies waar kommersiële aktiwiteite die botoon voer. En dit is die gevolg van eiendomsreg!

Die ironie is dat mense uit gebiede vlug waar hulle toegang tot grond het en heel dikwels tot van ons vrugbaarste landbougrond.

Maar grond sonder titelaktes kan nie kommersieel ontsluit word nie en hou daarom geen potensiaal vir werkskepping in nie.

SSA se gemeenskapsopname van 2016 illustreer ’n duidelike verband tussen dit en die feit dat daar in dié gebiede hoë vlakke van hongersnood en werkloosheid voorkom.

Die arbeidsmagopname vir die eerste kwartaal van 2018 toon die Oos-Kaap het die hoogste werkloosheidsyfer in die land: 35,6%.

Die arbeidsmagopname vir die eerste kwartaal van 2018 toon die Oos-Kaap het die hoogste werkloosheidsyfer in die land: 35,6%.

In Gauteng, die Wes-Kaap en in stede elders is inwoners van een ding seker: Kommunale grond skep nie rykdom nie. Eiendomsreg wel.

G’n wonder dat mense bereid is om vir jare in informele nedersettings in stedelike gebiede te bly nie.

En deur genoeg druk op plaaslike owerhede uit te oefen en ná ’n hele paar konfrontasies met die onlustepolisie kom hulle weldra aan ’n eiendom wat hulle hul eie kan noem. Liefs dit as om in ’n put van armoede onder ’n stamhoof se heerskappy te verswelg!

Daar het reeds 24 jaar verloop sedert ons nuwe Grondwet aanvaar is en tuislande geherintegreer is by Suid-Afrika. Tog leef 17 miljoen mense steeds in bittere armoede in hierdie gebiede, want hul verblyfreg is onseker en uiters kwesbaar.

Dít ondanks die feit dat ons ’n regstaat het wat ’n hoë premie plaas op waardigheid. Wat ’n skande en onreg is dit nie.

Daagliks lees ’n mens van stamhoofde wat hul eie mense onteien. Onwettige bedrywighede word toegelaat op grond waarop mense oor geslagte heen bly en opkomende boere wat kommer­sieel suksesvol op sulke grond boer, word gedwing om hoë huur te betaal!

Die uitroei van sulke praktyke behoort ons regering, konstitusionele hof en alle ander rolspelers se fokus te wees. Eerder as om met stamhoofde te flikflooi en geloofwaardigheid te gee aan hul valse aansprake as heersers oor kommunale gebiede!

  • Van der Rheede is uitvoerende adjunkhoof van Agri SA.
Meer oor:  Christo Van Der Rheede  |  Aktueel  |  Grond  |  Politiek  |  Eiendom
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.