Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
‘Die bloedigste kongres’

Politieke geweld is niks nuuts in Suid-Afrika nie. Een van die ergste voorvalle was in 1945 in Johannesburg, toe ondersteuners van premier Jan Smuts en die opposisieleier, D.F. Malan, mekaar in Johannesburg te lyf gegaan het. Só het ’n verslaggewer van Die Burger, D.J. van Zyl, destyds daaroor verslag gedoen.

Geen verdere vrae, dankie:Sedert die 1940’s het Nat en Sap mekaar se politieke vergaderings dikwels ontwrig en ook handgemeen geraak, soos T.O. Honiball dit op hierdie Oom Kaspaas-muurplakkaat uitbeeld.

So het 1945 aangebreek, die jaar waarin die politieke spanning in Suid-Afrika homself ontlaai het in die bloedigste politieke byeenkoms in die hele geskiedenis van ons land: die Unionale Kongres van die Nasionale Party in Johannesburg, in September van dié jaar.

Ek is deur Die Burger gestuur om die verrigtings te gaan rapporteer. Die reis na Johannesburg het ek met vreugde afgelê, weinig het ek kon weet dat ek na ’n geskiedkundige politieke slagting onderweg was.

Toe ek op 18 September in die wriemelende Johannesburg aankom, het gemoedere reeds hoog geloop. Dae lank is ’n baklei-atmosfeer onder leiding van die anti-Nasionale Springbok-legioen voorberei.

En dan was daar ook die duisende opgewonde Smuts-mense op ’n vergadering voor die stadhuis, waar die skare intussen begin gis het.

Net voor die aankoms van die Nasionale optog het die skare onder uitgalming van oorlogskrete die deure van die saal probeer opbreek. Konstabels wat voor die deure wou stelling inneem, is aangeval en met gooigoed toegetakel. Toe was die vet in die vuur.

Die polisie het verskeie stormlope uitgevoer en ’n algemene bakleiery onder die duisende opgewonde mense het gevolg, aan ’n wye front tot ver in die systrate. Dit het voortgeduur nadat die Nasionaliste by die saal aangekom het en plek ingeneem het vir hul vergadering.

Bakstene uit ’n gebou wat in aanbou was, het anti-Nasionaliste van ammunisie voorsien, en in die warboel wat gevolg het, is ver meer as honderd mense (volgens een skatting honderde) beseer, heelparty ernstig.

Nasionale slagoffers van die aanval is in die voorportaal van die stadhuis ingedra, en dit het uiteindelik na ’n ware veldhospitaal gelyk soos bebloede mans oor die hele vloer gesit of gelê het, met noodhulpmense tussendeur.

As die stuk of 700 lede van die Suid-Afrikaanse Polisie en Speurdiens, benewens nog militêre polisiemanne, nie so beslis opgetree het nie, sou daar ’n veel erger bloedbad kon gewees het.

In een stadium het 22 ambulanse binne een uur met beseerdes by die Algemene Hospitaal aangekom, waar teen elfuur nog 80 verwondes bymekaar was. Die saal vir buitepasiënte het daar soos ’n slagveld uitgesien. Beseerdes het in lang rye op matrasse op die vloer gelê.

As die stuk of 700 lede van die Suid-Afrikaanse Polisie en Speurdiens, benewens nog militêre polisiemanne, nie so beslis opgetree het nie, sou daar ’n veel erger bloedbad kon gewees het.

Die vergadering in die saal het te midde van alles tog betreklik ongehinderd verloop. Alleen die dreuning van die oorlog daar buite het binnegedring. Dr. Malan het ’n groot toespraak gehou, maar sy besielende woorde is deur die ander dinge totaal oorskadu.

By die perstafel het my Volksblad-kollega en ek gesit, verdeeld tussen die toespraak en die geveg daar buite. Ons verslag, glo ek, het daardie aand nooit ons koerante bereik nie: Die bode wat dit vir deursetting poskantoor toe moes bring het iewers in die krioelende duisende buitekant vasgespoel.

Vir my as verslaggewer was dit ’n vuurdoop wat ek tot in lengte van dae nie sal, of kan, vergeet nie.

  • Van Zyl het in 1939 redaksielid van Die Burger en later nuusredakteur geword. In 1959 is hy aangestel as redakteur van Die Oosterlig in Port Elizabeth.
  • Uittreksel: “Die bloedigste kongres”, Keeromstraat 30, Nasionale Boekhandel, 1965.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.