Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Die broosheid van ’n vrou sal altyd bestaan

D

Annelie Botes

aar word dikwels gepraat en geskryf oor geweld teen vroue. Fisiek, emosioneel, verbaal. Dit is ’n aaklige tendens, so oud soos die berge en verspreid oor alle lae van die samelewing.

Twee weke gelede maak ’n vreemde vrou ’n afspraak om te kom tee drink. Al wat ek van haar weet, is dat sy die vrou van ’n gegoede professionele persoon is. Dus haal ek ’n teepot en koekvurkies uit. Toe sy opdaag, sien ek die donker halfmane onder haar oë en ’n kneusmerk hoog aan haar binnearm, en ek weet sy wil ’n storie van haar skof aflig.

Dadelik dink ek terug aan die tyd toe ons op die kanaalbootreis was en by ’n akwaduk op pad na die dorpie Great Haywood op ’n gedenkbord ter ere van ene Christina Collins afgekom het.

Op die bord staan: “You are at Brindley Bank Aquaduct. The sight of the ‘Bloody Steps’. Christina Collins was murdered and legend says in 1839 her body was carried up the steps to the Talbot Inn Pub.”

Ek pleit by die gryse om vas te meer sodat ek gou op Google na dié storie kan soek. Dit vertel van ’n vrou wat in 1839 op ’n kanaalboot vermoor is.

. Sy was maar 37 jaar oud, en was van Liverpool af onderweg om haar man wat in Londen gewerk het te besoek. Vermoedelik het sy uit onkunde op ’n kanaalvragboot met vaatjies rum tussen rowwe, dronk skeepslui beland. Enigste vrou aan boord. Brose teiken.

En sy kon nie afklim of haar verweer nie. En toe ontmoet sy die swart engel. Bykans 180 jaar later is haar siel steeds dwalend. Skynbaar syfer daar tot vandag toe soms bloed uit die trappe waarteen sy opgesleep is.

Sy kon nie afklim of haar verweer nie. En toe ontmoet sy die swart engel.

Daardie dag spring ek aan land en staan met ’n geboë hoof by die gedenkbord en fluister die “Onse Vader”. Vir Christina Collins.

Toe plant ek ’n reinwitte eendveer onder die gedenkbord. Tel nog ’n eendveer op om in die raam van die boot se leefvertrekvenster te druk. Sodat Christina se rustelose siel in vrede saam met ons kan reis.

Dit was al middagtyd toe die besoekende vrou hier weg is. Leeggehuil. Tydelik ontlade. Ek het vir haar die storie van Christina Collins vertel en die veertjie gewys, al weet ek nie hoekom nie. Dalk omdat ek die weerloosheid van ’n vrou wou oordra, want ek het nie geweet watter soort troos ek na ’n vreemdeling kon uithou nie.

Op die laaste dag van ons reis het ek Christina se eendveertjie uit die vensterraam gehaal en in my baadjiesak gebêre. Ek wou haar saamneem Afrika toe.

Nou lê sy saam met ’n hand vol kastaiings in ’n porseleinbakkie in ons badkamer. Elke dag sien ek haar en verseker haar sy is veilig hier.

Toe ek saam met die vrou uitstap, tel ek ’n duifveertjie op die grasperk op en sit dit in haar palm. Ons kyk in mekaar se betraande oë.

Telkens as ek sedertdien Christina Collins se eendveertjie sien, sê ek hardop: Bewaar ons van die Bose.

Meer oor:  Annelie Botes  |  Menings  |  Vrouemishandeling  |  Vrou  |  Geweld Teen Vroue
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.