Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Die brullende leeu moet dan só gestil word
Annelie Botes

Vandag ry ek en die gryse langpad Bredasdorp toe met ons padkosbak vol vetkoek, frikkadelle, eierbroodjies en ’n fles melkkoffie. Maklik ons tweehonderdste skryftoer.

Ons eerste oorslaap is in Stilbaai, dan Jongensfontein. Donderdagoggend is geselstyd met leesklubs van die Overberg, en die aand is daar ’n gróót geldinsamelingsbyeenkoms vir die DS de Wet Skool vir Outisme op Bredasdorp.

Dis gestig deur André en Alta de Wet, wat self hul Daniël-seuntjie met outisme deur die lewe moet kry.

Sedert die 16-jarige Anene Booysen in 2013 naby Bredasdorp se kalkoonde vermoor is, is dié Overbergse dorp geteister deur gruwelmoorde op tienermeisies.

Niemand met ’n kind met outisme moet voel hulle moet hul kind wegstuur nie.

Alta sê een van die motiverings vir die stigting van die DS de Wet-skool is om vir die land te wys Bredasdorp se mense staan nié apaties teenoor hul dorpskinders nie. Niemand met ’n kind met outisme moet voel hulle moet hul kind wegstuur nie. Trouens, die skool se leuse is: Saam kan ons families help.

Die Laerskool Ouplaas, wat sedert die 1930’s bestaan, is laas jaar deur die Wes-Kaapse onderwysdepartement (WKOD) gesluit. Hoekom weet nugter, want as dié plaasskooltjie net vyf kinders se môrester was, beteken dit daar skitter vyf môresterre wat andersins sou verdof het.

Maar Bredasdorp se mense het hande gevat en uit eie beursie ’n ou waenhuis omskep in ’n skooltjie met geriewe vir kinders met outisme.

Hulle dra die salarisse van die Engela-juffrou en haar Melody-assistent. Sodoende is daar vanjaar ses kinders wat ’n toekomspad leer loop. Spraakterapie, musiek, perdry. Die hoofvak is sosiale en emosionele ontwikkeling.

Boetes? Tronkstraf? Toegeknypte departementele beursies? Dit skreeu ten hemele.

Om hierdie skool amptelik te registreer, is ’n bittere stryd. Die plaaslike munisipaliteit wil glo boetes oplê; die WKOD dreig glo met tronkstraf en weier om ’n pennie by te dra.

Ek is stomgeslaan dat ’n gemeenskap wat so uit hul pad gaan ten bate van hul kinders, nie skouerhoogte teen die bult uitgedra word nie. Boetes? Tronkstraf? Toegeknypte departementele beursies? Dit skreeu ten hemele.

Pas het pres. Cyril Ramaphosa aangekondig hy offer die helfte van sy salaris op as bydrae tot die Nelson Mandela Thuma Mina-fonds wat omsien na die welstand van ons land se jong mense.

Daarmee kon hy tien hoenderhokke en tien vuurpoele bou. Maar hy kies om vorentoe te dink. Met so ’n touleier kan vele môresterre sprankel. Ek wonder of hy weet van die DS de Wet-skool se stryd. As ’n man met insig, kan ek nie dink hy sou dit nie onderskryf nie.

Daar is ’n gesegde: “If wishes were horses, beggars would ride.” Nou wens ek onse president wil Donderdagaand uit die bloute op die verhoog verskyn en Bredasdorp op die ererol plaas as heldhaftigste dorp van 2018.

En ’n amptelike uitdaging rig aan iedere dorp waar die duiwel brullend rondloop op soek na iemand om te verslind.

Meer oor:  Annelie Botes  |  Bredasdorp  |  Outisme  |  Skool  |  Kinders
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.