Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Die DA is groter as Helen Zille

Die probleem met Helen Zille, blyk dit, is dat sy nie een vir introspeksie en selfondersoek is nie. Sy toon nie oortuigende berou oor haar gewraakte twiet oor die voordele van kolonialisme in Suid-Afrika nie.

Zille het met haar oorgretige tikvinger haarself en die DA in ’n gemors gedompel wat albei nie nodig gehad het nie en goed sonder kon klaarkom.

Mmusi Maimane, haar opvolger as DA-leier, sit nou met ’n hospitaal-aangee wat hy nie wou hê nie. Tot sy voordeel hanteer hy dit baie goed. Hy het nie teruggedeins nie en het sy mentor regstreeks getakel deur dit duidelik te stel dat daar geen manier is waarop haar twiet geregverdig kan word nie.

Zille het teruggekap deur te sê die DA loop die gevaar om al die lelike neigings van die ANC aan te neem.

Dit is onregverdig teenoor Maimane en ander wat gereeld die ANC tromp-op loop oor sy mistastings. Zille het die DA op ’n goeie kolfblad geplaas en ontwikkel in ’n geloofwaardige opposisieparty wat hom reeds by die stembus bewys het.

Een ding is seker: Dit is ’n lotsbepalende oomblik vir Zille en die DA.

Dis moontlik dat sy hierdie en al haar vorige prestasies met ’n haastige en onnadenkende vinger ongedaan gemaak het. Hoekom die “vyand” skietgoed gee om jou mee aan te val juis wanneer jy so goed teen hom vaar?

Die DA het die besluit oor Zille se “twietgate” (soos in Watergate) uitgestel en sal eers oor so tien dae uitsluitsel gee. Dit verras ietwat, want ’n mens sou reken dat hierdie ’n kwessie is wat jy nie te lank wil laat sloer nie.

Een ding is seker: Dit is ’n lotsbepalende oomblik vir Zille en die DA. Vir Zille blyk dit dat haar partytjie oor is. Die DA het ook ’n knou weg, maar nie ’n heeltemal dodelike een nie. Met sy oorredingsvermoë behoort Maimane daarin te slaag om afstand te skep tussen Zille en die negatiewe openbare persepsies oor die DA wat haar twiet ontketen het.

Die DA se opposisie (en veral die ANC en die EFF) sal alles in hul vermoë doen om te verseker die kwessie het ’n lang rakleeftyd.

Maimane sal hard moet probeer om Zille te oortuig om verantwoordelikheid vir haar blaps te neem. Dit sal nie maklik wees nie. Sy is nie in ’n versoenende bui nie, maar lyk eerder bereid om die DA-boot saam met haar onder te neem.

Zille het ongetwyfeld baie gedoen om die DA te bou tot die doeltreffende opposisieparty wat dit vandag is.

Sy móét eenvoudig die groter prentjie sien en probeer om Maimane se taak makliker te maak. Dit word dikwels gesê ’n organisasie is groter as die individu.

Dit is waar in hierdie geval. Die party is groter as Zille en sy moet dit aanvaar. Sy is ’n groot voorstander van die beginsel dat jy moet pa staan vir jou dade. Dit was nog nooit so belangrik dat sy dit nou op haarself van toepassing maak nie.

Die DA het byeengekom as ’n allegaartjie van ideologiese oortuigings wat nog ’n pad het om te loop om standvastig te wees. Zille het meer as enigiemand gedoen om dit te verseker.

Hierin het die party meer as aansienlike vordering gemaak. Die gevaar is egter dat Zille se opmerkings oor kolonialisme wat swart Suid-Afrikaners (die kiesers wat die DA soek) duur gekos het, dié vordering kan ondermyn.

Dit sal nie maklik soos water van ’n eend se rug afrol nie. Kiesers is nie dom nie. Hulle is nie onbewus van die sielkundige skade wat kolonialisme en apartheid aan hulle gedoen het nie.

Dis alles nog te vars in die geheue en moeilik om te glo dat Zille nie hiervan bewus is nie.

  • Net sy kan die pad na herstel lei. Jeffreys is ’n onafhanklike kommen­tator. Hy kan by @bokj op Twitter gevolg word.
Meer oor:  Henry Jeffreys  |  Middelgrond
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.