Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Die DA se geflirt met hervormers
Johann Maarman

In die politiek moet ’n mens maar jou bedmaats versigtig kies. Die DA se plan om flink flikkers te gooi vir die “hervormers binne die ANC” om ’n “nuwe rasionale sentrum” in die land te vestig, gaan eenvoudig nie vlieg nie.

In DA-taal, soos verwoord deur John Steenhuisen en Helen Zille, sal dit nie noodwendig ’n koalisie beteken nie, maar eerder iets van ’n samewerkingsooreenkoms. Zille gaan selfs verder en noem daar sal ANC-mense wees wat die DA-visie ondersteun en sodoende ’n manier vind om met die DA in werkbare koalisies saam te werk.

Nou toe nou. En wie is hierdie kamstige ANC-mense wat in die DA-visie glo? As daar mense is wat in die DA-visie geglo het, sou hulle die ANC die rug gekeer het en lidmaatskap van die DA opgeneem het.

Die ANC is steeds die onbetwiste swaargewig-kampioen van die politiek in Suid-Afrika en hy het al baie dinge oorleef, maar as die ANC die dag op dieselfde rye spore van die DA begin loop, kan hy maar die kranse begin vleg vir sy begrafnis.

En so onnosel is die ANC nie.

Miskien moet die DA net soos ’n jakkals bietjie terugloop op die spore en gaan kyk wat destyds tussen die ANC en die NP gebeur het.

Miskien moet die DA net soos ’n jakkals bietjie terugloop op die spore en gaan kyk wat destyds tussen die ANC en die NP gebeur het.

Die NP het met goeie bedoelings tot die regering van nasionale eenheid (RNE) toegetree, maar het ná meer as twee jaar ontnugter padgegee. Die NP se posisie binne die RNE is ook onuithoudbaar gemaak deurdat hy gedurig pa moes staan vir die ANC se mislukkings.

Die uiteinde was dat die NP al hoe stiller geword en al hoe meer geïnhibeer. Presies dieselfde sal met die DA gebeur.

Tot dusver het die DA betreklik goed gevaar in die parlement. In der waarheid is sy prestasie as opposisieparty merkwaardig. Die DA projekteer hom as die alternatiewe regering en is dapper en skroom nie om die ANC aan sy strottehoof te gryp nie.

Die DA lewer ’n kwaliteitbydrae tot die politiek: stewige denke, genoeg breinkrag, onbevrees, sonder kompromie.

Selfs al hou jy nie van die DA nie, die werklikheid kan nie geïgnoreer word nie. Die DA lewer ’n kwaliteitbydrae tot die politiek: stewige denke, genoeg breinkrag, onbevrees, sonder kompromie. Sy roeping is dus eerder om ’n bydrae te lewer tot ’n sterker opposisie. ’n Taak wat hy soos sy handpalms ken en waar hy oor die jare ’n sterk rug ontwikkel het teen die ANC.

Dit sal dus raadsaam vir die DA wees om sy politieke energie te kanaliseer om die ANC verantwoordbaar te hou eerder as om in koalisie-praatjies of samewerkingsooreenkoms met die hervormers van die ANC in gesprek te tree. Hy mag dalk net tussen twee stoele deurval.

Weer: As die DA dink daar is mense in die ANC wat dink soos die DA dink, en die ANC in die ribbekas gaan pomp om met die DA ’n flirtasie aan te knoop, is hy besig om teen die wind te fluit.

Die ANC is meesters van die kuns om moontlike jukskeibrekers te kalmeer of hulle na die politieke woestyn te verban. Diegene wat ook hoop op ’n ineenstorting van die ANC, lewe ook in Alice se Wonderland. Kiesers weet nou al dat geen opposisieparty op sy eie die ANC in regering kan laat inplof nie.

Die oudvakbondman en oud-Gautengse premier, Mbhazima Shilowa, het die afgelope week prontuit gesê die DA kan gaan doppies blaas met sy voorgenome planne. Hy moet iets op die tafel vir die kiesers sit in die munisipale verkiesings en die kiesers sal besluit of hulle daarvan hou of nie. Die uitslae sal ook wys wie die kleur van die gordyne in die Uniegebou kies. Die DA het nog altyd ’n gesonde afstand geplaas tussen hom en die ANC. ’n Afstand wat gesien, gehoor, gevoel en geruik word.

Hou dit so.

  • Maarman is eindredakteur van Die Burger
Meer oor:  Johann Maarman  |  Anc  |  Koalisie  |  Hervormers  |  Verkiesing  |  Da
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.