Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Die dag toe die regering ons ook onthou het

Miskien sal die mense van my komvandaanplek eendag daarna verwys as die dag toe demokrasie na ons woonbuurt gekom het. Tot dié dag het ons ook maar op die lamppale gesien hoe die nuwe regering ’n nuwe lewe vir al sy mense belowe.

Ligte en water het die apartheidsregering nog vir ons gegee, maar die ongemaklike waarheid is dat die mense van Scottsville in Kraaifontein ’n verdere kwarteeu sedert die 1994-verkiesing moes wag om ook iets eenvoudigs soos ’n sypaadjie te kry.

Ja, 25 jaar lank het die regering ons adresse vergeet, hoewel hulle altyd voor die volgende verkiesing kom bek verkoop het. Dit het ons 25 jaar geneem om ook dienslewering in aksie te sien. Ons het maar geduldig toegekyk hoe ander buurte – veral dié met ’n groter nood – verbeterde paaie, skole, klinieke, daai soort ding, begin kry.

Self bly ons al bykans 40 jaar hier. En sover ons kan onthou, was daar nog nooit ’n diensleweringsbetoging nie.

Die skole en plaaslike kliniek lyk nog net soos dit gelyk het toe ek armhoogte was. En die paaie is ná 25 jaar lank nie meer skougehalte nie.

Maar ons het nog nooit ’n pad met brandende bande versper om die regering se aandag te kry nie. Ons het ook nog al die pad belasting betaal, anders as byvoorbeeld die mense van Soweto wat in die ou bedeling reeds opgehou het om vir elektrisiteit te betaal.

En toe, een oggend in November 2019, word ons skielik wakker met werkers in oranje oorpakke wat in óns buurt kom sypaadjies bou.

In ons buurt was die basiese dienste maar nog altyd in plek, ook in die dae toe die ANC in beheer van die Wes-Kaap was. Wanneer daar egter ’n fout gekom het, het ons geduldig ons beurt afgewag, want ons het die grootste begrip dat selfs armoede ’n ranglys het. Jy kry mos arm, brandarm en onbeskof arm.

Ons het later begin glo in Scottsville sit die kat by die meeste mense dalk altoos op die stoof, maar nie te ver van ons nie was die behoefte oënskynlik nog altyd meer dwingend. Ons het nog altyd verstaan dat daar iewers iemand met ’n nood só groot is dat die voëls van die hemele vir hulle krummels moet aandra.

En toe, een oggend in November 2019, word ons skielik wakker met werkers in oranje oorpakke wat in óns buurt kom sypaadjies bou. Jy kon ons met ’n veer omtik.

’n Gemeenskapsleier het dit as ’n opgradering beskryf, maar die feit van die saak is dat ons nog nooit, ooit vantevore ’n sypaadjie gehad het nie. Daar was dus nog nooit ’n veilige loopvlak vir voetgangers nie en oor die jare heen het ons maar op die harde manier geleer om vir aankomende verkeer pad te gee.

Dit voel lekker om ook die vrugte van demokrasie te kan proe. Om te kan sien hoe jou belastinggeld ook tot jou eie voordeel aangewend word. Dit gaan egter die mense hier wel nog ’n rukkie vat om die nuwigheid gewoond te raak.

Die meeste loop om die een of ander rede steeds langs die sypaadjie, want dit is mos maar hoe dit nog altyd was.

Meer oor:  Ivor Price  |  Apartheid  |  Politiek  |  Regering
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.