Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Die dag toe die skoolsuster ons besoek het

Ons is in Ore se klas. Ore staan buite op die stoep en rook, want ons gaan nie boekhou hê nie. Die Skoolsuster het gekom om ons te ondersoek.

Dana Snyman

“Weet jy wat doen sy met jou?” vra Stoney. “Sy druk ’n liniaal hier voor tussen jou bene onder jou njellas vas, en dan moet jy hoes.”

“En dán?” vra Kuiken.

“As jou njellas nie oplig nie, het jy groot marakkas.”

“Goeie hel!” roep Eddie. “Genuine­?”

“Genuine.”

Stoney weet goed wat ons nie weet nie. Dis sy tweede jaar in st. 6 en sy broer is ’n Recce. Op sy boeksak het hy met ’n kokipen geskryf: AC/DC. As jy ’n AC/DC-plaat agteruit speel, kry jy satanistiese boodskappe.

Op die stoep druk Ore sy pak Lexington-30 in sy safaripakbaadjie se bosak en kom by die klas in. “Reg, bulle,” sê hy. “Kom.”

Stoney weet goed wat ons nie weet nie.

Hulle het vir Die Skoolsuster ’n spreekkamer in die stoortjie agter in die saal ingerig. Ons stap in ’n ry agter Ore aan, wie se Grass­hoppers, sjiet, sjiet, sjiet op die stoep maak.

“Trek vir my jul klere uit, en kom tree in jul onderbroeke aan,” beveel Ore toe ons in die saal kom. “Toe, toe. Ek soek julle in alfabetiese volgorde. Sy sal julle een-een inroep. En julle gedra vir julle.” Toe vat Ore weer na sy pak Lexington en gaan by die deur uit.

Die stoortjie waarin Die Skoolsuster is, se deur is toe. Ons trek ons klere uit, eers ons hemde, dan ons broeke. Die meeste van ons dra Jockey Junior-onderbroeke, bontes, met ’n ingewikkelde gulpding hier voor.

“Jy beter vandag op jou beste hoes, Kuiken.” Stoney kyk in Kuiken se rigting. “As daai paar klote van jou nie oplig nie, stuur hulle jou verbeteringskool toe. Of jy moet gaan vir ’n operasie.”

Kuiken staan eenkant. Hy het nog net sy hemp uitgetrek, nie sy broek nie. Sy pa is ’n padskraperbestuurder en hulle woon in ’n veselglas-igloo in die padkamp buite die dorp.

Ons gaan staan in ’n ry voor die boekstoor. Dafel is heel voor. Piet van der Schyf is heel agter. “Ek wonder hoe lyk Die Skoolsuster?” vra Eddie Scholtz voor my.

“Sy’s so ’n lekker dik bus.” Stoney wys met sy arms weerskante van sy lyf hoe groot Die Skoolsuster is.

Kuiken is steeds eenkant, net in sy broek. “Jy moet nou kom, Kuiken!” roep Stoney. “Trek uit daai broek.”

“Ek kan nie,” sê Kuiken sag.

“Hoekom nie?”

“Ek het nie ’n onnie aan nie.”

Ons lag vir Kuiken en dan gaan die stoortjie se deur oop – en daar staan sy, in ’n wit uniform, met ’n silwer horlosie aan ’n kettinkie op haar bors en ’n klaslys in haar hand. En sy is nie lelik nie. Sy lyk baie soos Kate­ Jackson, die een Charlie’s Angel.

Ons hande skiet byna vanself af ondertoe, na ons toekomse toe – almal van ons, behalwe Kuiken, wat eenkant staan en met sy een hand oor sy wange vryf.

Vir JP Nel

Meer oor:  Deurloop  |  Dana Snyman  |  Meningsberig  |  Van Alle Kante
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.