Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Die dag toe my kans op roem in bosse verdwyn het
Tony Weaver

Die nuus dat die fotograaf Will Burrard-Lucas foto’s van ’n melanistiese swart luiperd met ’n kamerastrik op die Laikipia-plato in Kenia geneem het, het met reg die natuurlewe-gemeenskap aan die praat – die foto’s is werklik merkwaardig.

Sommige van die opskrifte in die media was egter misleidend en het die indruk geskep dat dit die eerste foto’s van ’n swart luiperd in Afrika in ’n honderd jaar is. Will was gou om dit reg te stel en het gesê dis nie die eerste foto’s van ’n swart luiperd wat in Afrika geneem is nie, maar hy glo egter dis die eerste hoëgehalte-kamerastrik-foto’s van so ’n luiperd.

Ek was Will amper 25 jaar vooruit. Amper . . . In 1994 was ek en my vrou in Kenia se Aberdare Nasionale Park, ’n afgeleë plek met ’n uitsig oor die berg Kenia.

Die Aberdare-bergreeks is een van die bes bewaarde geheime in Afrika. Dit lê tussen die berg Kenia en die Skeurvallei en is die derde hoogste bergreeks in Kenia, met die hoogste piek, Lesatima, wat 3 999 meter hoog is.

Die inheemse naam van die reeks is Nyandarua, die naam vir ’n vel wat uitgehang word om uit te droog. Die bergreeks lyk inderdaad so op ’n afstand. Die Britte het die naam egter moeilik gevind om uit te spreek en Joseph Thompson het dit in 1883 met tipiese Britse arrogansie na lord Aberdare, die president van die Royal Geographic Society, herdoop.

Ek was Will amper 25 jaar vooruit. Amper . . .

Die Aberdares lyk na ’n klein deeltjie van Skotland: heideveld, bokke wat op ’n afstand na takbokke lyk, fisante, kristalhelder forelstrome en, o gits, wat maak daai olifant daar?

Die berghellings is ’n nagmerrie vir stappers. Ravyne met loodregte afgronde skeur deur siedende reëngordyne, wolke en spookagtige bamboeswoude.

Dié woude dra eggo’s van ’n klein groepie guerillas wat die magtige Britse Ryk uitgedaag het onder die vaandel van die Mau-Mau en uiteindelik uhuru, of vryheid, verower het. Hul geestelike leier was Jomo Kenyatta met Dedan Kimathi as militêre leier.

Toe neem my ander waarnemingsvermoëns oor. ’n Swart luiperd?

In die vroeë 1950’s was dit dié beweging se belangrikste skuilplek en die Britte het bomwerpers ingestuur om as ’t ware ’n tapyt van bomme neer te lê. Al wat hulle kon regkry, was om ’n paar swart renosters dood te maak en enkele reusebome te laat sneuwel.

Maar terug na 1994 toe ek Burrard-Lucas so amper voorgespring het . . .

Ek het in die Chania-rivier gaan hengel, sowat ’n kilometer stroomaf van die Chania-waterval, in ’n heerlike poel waar die reënboogforel onbevange uit die dieptes na die oppervlak kom en ek my kwota kon vul.

Aan die bopunt van die paadjie na die poel is ’n kennisgewing wat teen leeus waarsku. Maar terwyl ek later na die kamp teruggery het, het ’n groot, swart kat in die kopligte verskyn. “Luiperd”, het my brein registreer.

Toe neem my ander waarnemingsvermoëns oor. ’n Swart luiperd?! Ek het na my kamera, ’n ou Nikon FM met stadige 64 ASA-skyfiefilm gegryp, op die kat gefokus, maar skielik was hy weg.

Ek het pas een van die wêreld se skaarsste natuurverskynsels gesien. ’n Melanistiese luiperd, suiwer swart en destyds nog beskou as eie aan die Aberdare-omgewing. En ek het die foto gemis . . . Ek het behoorlik gebewe en gevloek, maar dit het niks gehelp nie.

En só het my geleentheid om 15 minute se roem in die wêreld van natuurfotografie los te slaan verbygeglip.

Meer oor:  Tony Weaver  |  Fotograaf  |  Wildbewaring
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.