Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Dié delwersoë soek na ’n blinkklippie
Jana Luther

Van die ou sosiolek van diamantgrawers is daar vandag maar min gebruikers oor, maar van die tyd toe die diamantkoors hoog geloop het, getuig ’n klein skat inskrywings – meer as 700 – in die WAT.

Waar dorpe en stede uit delwerskampe verrys het, hardloop mans (en vroue) eens resies. Wie eerste kom, lê die grense van die beste kleims vas deur op elke hoek ’n delfpen in te kap – ’n stafie met die naam en nommer van die delwer.

Om jou kleim te mag omdolwe, het jy ’n prospekteerliksens nodig. Vind jy ’n gelukkie, moet jy van die mynkommissaris ’n delwersliksens aanvra. Jy moet kleimgeld betaal, anders kan ’n ander delwer jou kleim oorpen. Of ’n jomper kom in die nag, trek jou penne uit en kap syne in. ’n Onwettig afgepende kleim, is ’n fop- of dommiekleim.

Die delwerstaal is deurspek met Engels.

Met delfhamer en -pik word die gruis losgemaak. Die kleimeienaars en deelwerkers, of sjêries, verwyder die handrof – groterige klippe – met die hand. Dan word die emmers in siwwe omgekeer.

Eers skud die tapper die bobbejaan- of rofsif, die bybie (na ’n Amerikaner met die van Babe), meer dikwels “dommie” genoem. Die groot skommelsif word heen en weer gestoot, in sy houtraam gewieg – gebybie – om die fyner gruis van die dommierof en sand te skei.

Daar loop ’n legende van ’n skaapkopdiamant.

Dommierof, of tjommel, is klippe groter as diamanthoudende gruis. Saam met die handrof word dit vlugtig deurgekyk: Daar loop ’n legende van ’n skaapkopdiamant.

In ’n slingerwasmasjien, of met ’n handsif in ’n balie, word die gruis gegraviteer sodat die swaarste klippies afsak in die porrel – die modderwater. In die graviteer- of klassif word die growwe van die fyner klippies geskei. Die sandsif, daarna, hou die kleinste diamantjies.

In die gruis word verskillende klipsoorte aangetref: doppe, hongerklip, olieklip, kaiings, klinkers, aartappel- en patatklippe, koring, askoekies, ertjies, moerbeie, kwarts, kristal, haelkorrels, bokhael.

Geelpitjies; beenklippies, ook vetklippies genoem; en swart blokkies is ’n teken van die aanwesigheid van diamante. So ook swaar, glad gespoelde klippe met verskillend gekleurde stene in hul samestelling, sodat dit lyk of daar om elkeen ’n band is. Vandaar die naam “bantom” uit “bandom”, ook “bantam”: aartappelbantom, bessiebantom, groenblaarbantom, koedoebantom.

Tussen al dié klip soek-soek die delwersoë na ’n kleurtjie, ’n blinkklippie, al is dit maar ’n sanddiamantjie, ’n mellie, mekkeltjie of skerfie. Soms is daar ’n amber, bierbottel, frossie of koutie, melkie of keppie in die sif. As jy die dag gelukkig is, ’n duimkop, kalfs- of osoog.

Die ware blinkoog is ’n glasie, helder en deursigtig, soos ongekleurde glas. Maar op die ou end is die meeste diamante maar jammerklippies.

“Jammer hy’s nie groter nie,” word gesê. Of met ’n makdiamant, onwettig bekom: “Jammer hy’t ’n man in die kliptronk laat beland.”

  • Luther versamel woorde by afrikaans-vandag.co.za
Meer oor:  Jana Luther  |  Diamante  |  Woorde
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.