Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Die demokrasie van korrupsie
Rhoda Kadalie.

Ons swem in ’n see van korrupsie en die een voorval is erger as die ander. Bell Pottinger, gevolg deur KPMG, word gevolg deur ’n beweerde gastransaksie van R5 miljard tussen die veroordeelde misdadigers Gayton McKenzie en Kenny Kunene en pres. Jacob Zuma.

Die oënskynlik fatsoenlike eersgenoemdes verskil geensins van laasgenoemde nie. Deur hul bewustelike deelname aan smetterige smeerveldtogte en rassistiese openbare betrekkinge om die publiek om die bos te lei, het KPMG en Bell Pottinger hul koffers op twyfelagtige wyse met belastingbetalers se geld gevul.

Zuma se blatante alliansie met misdadigers dui op ’n wraaksugtige drang na verwoesting terwyl hy nog met sy vingerpunte aan die mag vasklou.

Hoe erger ons ekonomiese agteruitgang, hoe meer vind Nommer Een maniere en slagspreuke om die aandag van die plundering van die staatskas af te lei deur sy vyande, soos Pravin Gordhan, op ondenkbare maniere verdag te maak.

Om Johann Rupert te eggo: “Radikale ekonomiese transformasie” is inderdaad ’n eufemisme vir diefstal van die staat. Witmonopoliekapitaal is ’n rookskerm vir swartmonopolierampspoed, ondersteun deur skelm wit mense wat altyd gewillig is om munt te slaan uit die finansiële onbekwaamheid van die bewindhebbers.

Wat ons sien, is die grootskaalse demokratisering van korrupsie, van die hoogste tot die laagste, van sogenaamde toonaangewende ouditfirmas tot veroordeelde misdadigers.

Bell Pottinger en KPMG het nie net hul eie handelsnaam en reputasie verwoes nie, maar ook die reputasie van hul eerbare werknemers. Sewe van KPMG se hoofde het in oneer bedank.

Breë swart ekonomiese bemagtiging is niks anders as breë swart ekonomiese verryking nie. Die onthullings oor KPMG en Bell Pottinger bewys dat allerhande soorte agentskappe, misdadig en andersins, by die daaglikse plundering van staatsbeheerde ondernemings en ons kwynende bronne betrokke is.

Ongelukkig kom kleptokrate oor die hele ras- en etnisiteitspektrum voor. Hulle is in hul web van leuens en misleiding vasgevang en blyk die 11de gebod te vergeet: “Jou sondes sal jou inhaal.”

Ongelukkig kom kleptokrate oor die hele ras- en etnisiteitspektrum voor.

Dit lyk of die talle transaksies voorafgegaan word deur Zuma se sogenaamde presidensiële reise na Rusland en Dubai. Ondersoekende joernalistiek is nodig om na te spoor hoe die oorsese besoeke saamval met skelm transaksies waarby gas, uraan, kernenergie en olie betrokke is.

Hierdie is die ANC se nalatenskap en is reeds die dryfveer agter die gevegte in die ANC-jeugliga. Moorde, omkopery en korrupsie het die wese van die regerende party binnegedring.

Kaderontplooiing het al ons oorsig-wetstoepassingsagentskappe vernietig en Zuma in staat gestel om sedert sy ampsaanvaarding al die aanklagte teen hom te ontduik.

Hy is waarskynlik die enigste president ter wêreld met 783 misdaadklagte teen hom. Dit herinner my aan ’n opmerking van die denkeleier DaShanne Stokes: “As ’n sittende president nie vervolg word nie, stuur dit die boodskap uit dat bewindhebbers bo die reg verhewe is.”

As ons bedrog deur ons leiers aanvaar, beteken dit bedrog word – gouer as wat ons dink – deel van ons daaglikse bestaan. Ons het dag en nag volgehoue versetoptrede in die teenwoordigheid van die wêreldmedia nodig, soortgelyk aan dié in Oos-Europa teen kom-munisme, totdat wetstoepassingsagent-skappe hul werk doen en Zuma tot ’n val kom. Niks anders sal goed genoeg wees nie.

Meer oor:  Jacob Zuma  |  Demokrasie  |  Politiek  |  Korrupsie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.