Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Ope brief aan Annelie Botes: 'Jy praat onsin'

Nee, soms kan ’n mens nié jou demone aankyk “sonder pille” nie, skryf Elsabé Brits in ’n ope brief aan die skrywer Annelie Botes na aanleiding van haar rubriek oor depressie.

Elsabe Brits

Tja, Annelie Botes, so maak ’n mens – jy loop met kaalvoete na die Van Stadensrivierbrug “om soos ’n vlerklose arend daar af te duik”.

Mooi woordjies om die onbeskryfbare pyn van selfdood so bekoorlik te laat klink. Amper soos ’n storie wat nie bestaan nie. Met soveel minagting.

Botes reken die motivering vir die selfdood of, soos sy dit stel “. . . om soontoe te loop en jouself te pletter te duik”, is “verbittering, teleurstelling, woede, verraad of ontworteling”.

Dan, die verdoemde slag wat aan miljoene mense vertel hulle is swakkelinge: “En antidepressante en kalmeerpille is dikwels net ’n omseiling van die haakplek. Sulke koeksels moet jy nooit probeer lostorring deur briesend-iesegrimmig aan die wol te pluk nie – dit sal die koeke net stywer trek.”

Die oplossing, die “medisyne” volgens haar, is bak en brou, tuinmaak, skoonmaak en voëltjies na jou tuin lok. Bly net besig. Só verdwyn jou depressie sonder enige medikasie.

Want sien, eintlik is dit jou skuld dat jy depressie het, want jy bly nie besig nie. Koeksels?

In my lewe het ek lanklaas sulke onverdunde, loutere oningeligte twak gelees. Ek sou gelag het as dit nie was dat dit soveel skade aanrig nie.

En nee, sulke onsin kan nie as ’n “onskuldige mening” bestempel word nie. Dit is nie, dit is disinformasie.

Dit is vreemd hoe selfaangestelde leunstoelkenners anekdotiese raad oor psigiatriese siektes sal gee, maar geen woord sal rep oor kanker, diabetes of asma nie. “Het jy asma? Ag nee, man, gooi weg die pompie! Haal net diep asem of kook kos!”

'n Psigiatriese toestand is 'n werklike siekte.

Net soos enige ander chroniese siekte is ’n psigiatriese toestand ’n werklike siekte. Angs, bipolêre siekte, depressie (in al sy vorms) en skisofrenie is siektes van die chemie van die brein. Jy móét medikasie daarvoor ontvang. Meestal vir die res van jou lewe.

Om vir mense te vertel die medikasie “omseil ’n haakplek” is hoogs onverantwoordelik, diskriminerend en kweek stigmas.

Die kruks van die boodskap is: “Jy sit aan. Jy’s nie regtig siek nie.”

Natuurlik voel almal soms hartseer, kwaad of ontmoedig. As dit nie so was nie, sou ons nie geweet het wat vreugde was nie. Om hartseer, “donker” of soms “traag” te voel is nie ’n diagnose van depressie of angs nie. Dit is deel van die lewe.

Hierdie tipe oorvereenvoudiging van wat soms lewensgevaarlike simptome kan wees, plaas mense in gevaar en dit laat hulle nog meer wegkruip. Ook by die werkplek.

Om nie medikasie te neem nie, verwoes mense se lewe, dié van die een wat siek is en dié van mense om hulle.

Sien, mense neem nie “happy pille” nie. Medikasie wat help om jou gemoed te reguleer, antidepressante of antipsigotiese middels maak ’n mens nie “happy” nie. As jy so gelukkig is om die regte pil en/of kombinasie te vind met die minste newe-effekte (ten duurste), laat dit jou net gelykmatig funksioneer. Jy hou kop bo water. Jy veg voort.

Koekbak help lankal nie meer nie.

“Afduik van ’n brug?” Botes, het jy al vir een oomblik gedink wat deur enige mens se hart gegaan het in die weke, dae en oomblikke voordat dit gebeur? Dit moet die allervreeslike pyn wees. Hoe is daardie mens se leefwêreld? Glo my, so iemand kan homself lankal nie meer help moet koekbak nie.

Dalk moet Botes besoek gaan aflê by 'n psigiatriese hospitaal of kliniek.

Dan kan sy self sien hoe iemand lyk wat probeer het om hul eie lewe te neem. Wanneer niks meer help nie en al uitweg is elektrokonvulsie-terapie (skokterapie). Kyk hoe lyk dít.

Dalk kan sy en ander wat sulke ondeurdagte uitsprake maak, saans oorbly en die geluide van die nag ervaar . . . Help om mense te troos wat níks meer oor het nie. Help om deur die dik muur te breek van mense wat net voor hulle sit en staar.

Sien hoe mense van alle vlakke van die lewe hulself weer van die grond moet optel, net omdat hulle ’n siekte het wat hulle nie kan verhelp nie. Sien hoe spoeg die samelewing hulle soos gif uit.

Want sien, daar ís mense wat hul “demone” in die gesig kyk. Met hul pille, elke dag.

* Brits is Netwerk24 se wetenskapverslaggewer.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.