Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Die dokters wat ons nodig het

Hoe help ons om die medici te vorm wat ons land vorentoe kan neem, vra Leslie van Rooi.

Een van die grootste uitdagings in gesondheidsorg in Suid-Afrika is dat poste nie gevul word nie, veral in plattelandse mediese fasiliteite. Foto: Pixabay

Die debat oor watter soort gegradueerdes universiteite lewer en watter rol hierdie graduandi in die samelewing speel, is dikwels deel van nasionale (en internasionale) debatte.

’n Onlangse besoek aan die Ceres-hospitaal help my om vanuit ’n ander hoek aan hierdie debat deel te neem.

Tydens hierdie besoek het kollegas en studente van die Universiteit Stellenbosch (US), verteenwoordigers van die plaaslike munisipaliteit en die breë gemeenskap saam oor die idee van plattelandse kliniese opleiding vir studente van die US se fakulteit mediese en gesondheidswetenskappe gedink.

Die model van plattelandse kliniese opleiding word sterk deur die US as deel van opleiding vir studente van hierdie en toenemend ook van ander fakulteite gedryf. So bevind studente hulle heel gereeld in plekke soos Worcester, Ceres, Carnavon, en binnekort ook in Upington.

Die besoek aan die Ceres-hospitaal hou verband met ’n gemeenskapsterugvoersessie waar studente wat die afgelope jaar in die hospitaal werksaam was, saam met lede van die plaaslike gemeenskap hul belewenisse kon deel – wat hulle geleer het en hoe dinge in die toekoms beter sou kon uitspeel.

In die terugvoer word veral een ding duidelik – die plattelandse ervaring in ’n konteks, baie anders as die konteks van die Tygerberg- akademiese hospitaal, is absoluut noodsaaklik om medici op te lei om die behoeftes en nood van ’n groter deel van Suid-Afrika se mense te kan verstaan. Dit is veral belangrik in die konteks van lande soos Suid-Afrika.

Verskillende kontekste

Die kontekste, veral in en om hospitale in Suid-Afrika, is kontrasterend en om dit te verstaan, is dit noodsaaklik dat studente se opleiding ook in hierdie kontekste moet plaasvind. Dieselfde opleidingsvereistes geld hier en die behoeftes is net so kompleks as in die groter hospitale van die stede. Op die platteland is konteks egter veral van groot belang. In verskillende kontekste is daar verskillende uitdagings – iets wat hierdie kohort studente nou goed begryp.

Die studente bevind hulle hier werklik deel van die gemeenskap. Hul stories word anders verweef as deel van ’n groter konteks. Hulle kan op ’n ander manier ’n impak maak op die mense om hulle, juis omdat die gemeenskap hulle omarm.

Hulle verstaan die behoeftes van ander, en hulle verstaan ook die behoeftes anders. Deur die pasiënte verstaan hulle wat die groter effek van droogtes kan wees, wat gebeur as pasiënte wat vir jare op ’n plaas werk nou van ’n skouer wat pyn kla, wat die effek is van uitdagende verhoudinge in ’n konteks van armoede, en veral hoe dit direk verband hou met die diagnose en behandeling van ’n pasiënt.

Harde vaardighede

In hierdie kontekste is dit noodsaaklik om harde vaardighede anders toe te pas en om nuwe vaardighede te leer wat juis dié wat in die klaskamer op kampus geleer is, kan komplimenteer.

Een van die ander lesse wat geleer word, is dat kreatiewe oplossings binne ’n groter span gevind moet word. Die plattelandse kontekste vra dalk nog meer dat jy die regte vrae moet vra.

As jy dit doen, is daar skielik ander oplossings, juis omdat ander bereid is om saam met jou te dink. Skielik besef die toekomstige dokter dat hy diep afhanklik is van almal in en om die hospitaal.

Dr. Leslie van Rooi

Nie een van hierdie lesse is moontlik indien daar nie daadwerklike sterk vennootskappe tussen studente, personeel en die plaaslike gemeenskappe vorm nie. Want goeie vennootskappe is vormend – na albei kante – en dit leer ons lesse wat ’n invloed kan hê, ook buite ons beroepe.

Só bevestig ons studente en kollegas hulle as burgers wat agente vir verandering in Suid-Afrika kan wees.

Die mees opvallende eienskap van studente wat die plattelandse kliniese opleiding benut, is dat hulle veel meer geneig is om werksaam te wees in plattelandse kontekste. Dit is iets wat ons broodnodig het in ons land en verder op die vasteland.

Een van die grootste uitdagings in gesondheidsorg in Suid-Afrika is dat poste nie gevul word nie, veral in plattelandse mediese fasiliteite. En daar is natuurlik verskeie redes daarvoor.

Selfs al werk die dokter later in ’n stadshospitaal, sal die lesse wat in die plattelandse konteks geleer is, altyd voordelig wees vir pasiënte van ander kontekste.

Konteks word deel van opleiding en opleiding deel van konteks. Net dalk help dit ons om studente te lewer wat die kontekste van ons land beter verstaan en wat ons mense beter kan dien.

Dr. Leslie van Rooi is senior direkteur: sosiale impak en transformasie aan die Universiteit Stellenbosch

Meer oor:  Tygerberg-Hospitaal  |  Leslie Van Rooi  |  Studente
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.