Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Die doodsklok besluit self of hy gaan beier
Annelie Botes

Die onlangse dood van Anton Steenkamp, ’n senior regter in die arbeidshof in Kaapstad, het my emosioneel onkant betrap. Ek het hom nie persoonlik geken nie, maar sy broer, Leon, kom dikwels by ons aan huis.

Regter Steenkamp was 57 jaar oud; in die fleur van sy lewe. Sterk, gesond, vol lewensenergie. Terwyl hy langverlof het en hy en sy vrou vir drie maande deur Afrika toer, pik ’n swartmamba hom in Zambië.

Dit het my ontroer omdat ons in die onlangse verlede drie maande op ’n kanaalboot deurgebring het. Die engele het ons veilig huis toe gebring. ’n Klomp dinge kon só maklik verkeerd geloop het.

Die tragedie het my weer onder die indruk gebring dat Afrika niemand se mater is nie. Ek het drie vriende wat erge ervarings in Afrika gehad het. Die een is deur ’n spinnekop gebyt en het sy voet verloor. ’n Ander het geelkoors gekry in Uganda en is tot vandag onwel. Nog een het in ’n verskanste vanggat geval en ’n stok het sy oog uitgesteek.

Toeriste droom van toer deur Afrika, dalk om hul oerwortels te soek. Dikwels verromantiseer hulle die ervaring en beman hulself nie met kardinale kennis oor Afrika nie. Ek het op Facebook foto’s gesien van ’n toeris op ’n plesierboot op die Zambezirivier wat op ’n snikhete dag voete in die water sit. Kompleet asof hy nog nooit van krokodille of seekoeie gehoor het nie.

Hoe op dees aarde kan ’n vrou in ’n wild­reservaat uit die voertuig klim om saam met die leeus in die veld te stap?

Hoe op dees aarde kan ’n vrou in ’n wild­reservaat uit die voertuig klim om saam met die leeus in die veld te stap? Sweerlik het sy ’n foto gesien van ’n wollerige welpie, en die groot maanhaar het haar gedagtes ontglip. Of sy het nie geweet hoe beskermend ’n wyfie met welpies kan wees nie.

’n Luiperd wag dikwels sy prooi in terwyl hy gekamoefleerd op ’n boomtak lê. ’n Luislang kan ’n volwassene heel insluk. ’n Muskiet kan jou lewe handomkeer verander. ’n Omgekrapte sjimpansee is nie jou bloedbroer wat jy omhels en met tuitlippe soen nie. Onsuiwer water is ’n gegewe. Koorssiektes. Swak paaie. Mediese hulp wat nie geredelik beskikbaar is nie. Kommunikasieprobleme. Bly weg waar daar oorlog tussen stamme is. Kyk waar jy trap en wat jy eet.

Vir ons wat Afrika in ons murg het, klink dié kwessies vanselfsprekend. Maar op ons beurt gaan neuk ons op ski’s in die Alpe rond asof ons Heidi en haar Oupa is. Ons wil foto’s van die vuurspuwende berg Vesuvius in Italië neem. Ons wil die Doodsvallei in Kalifornië verken, een van die warmste plekke op aarde.

Of dis in ons wensemmertjie om in Ierland oor die Cliffs of Moher te kyk. Of ons klim in ekstase op ’n kanaalboot, sonder behoorlike voorkennis. Dat ons ongeskaad teruggekom het Afrika toe, is suiwer genade.

Toe die engel van bewaring minder as ’n sekonde wegkyk, pik ’n swartmamba een van Suid-Afrika se regverdigste regters. Dis seker maar soos Ernest Hemingway skryf en die Bee Gees sing: “For whom the bell tolls . . .”

Meer oor:  Anton Steenkamp  |  Afsterwe  |  Dood  |  Sterf
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.