Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Dié doofheid sal SA nog baie kos

Wanneer pres. Cyril Ramaphosa na sy bevelsraad-verskynings verwys as “familievergaderings” is hy eintlik besig met ’n bietjie politieke oëverblindery.

Want sekerlik is die veronderstelling met familievergaderings dat al die lede die kans sou kry om vrae te vra en hul eie standpunte oor die saak onder bespreking te stel.

dawie, rubriek
dawie, rubriek

Wat Ramaphosa se verskynings betref, is dit allermins die geval. So byvoorbeeld kry die media nie kans om ná sy aankondigings regstreeks vrae aan die president te stel nie.

Ook wat betref Ramaphosa en die bevelsraad se bereidwilligheid om oorleg te pleeg met en te luister na rolspelers en belanghebbendes is daar veel ruimte vir verbetering.

Die jongste verlenging van die alkoholverbod en die impak wat dit op die wynbedryf het, is ’n goeie voorbeeld.

Dit is so dat die drankverbod aantoonbare verligting bring in trauma-eenhede en plek in hospitale­ losmaak vir die behandeling van Covid-19-pasiënte, maar dit veroorsaak ook verwoesting in die wynbedryf.

Die bedryf het na raming reeds meer as R7 miljard verloor sedert die aanvang van die verbod in Maart. Ná die aanvanklike verbod op verkope, wat nege weke geduur het, ’n verbod op uitvoer, wat oor vyf weke gestrek het, en ’n tweede plaaslike handelsverbod, is geraam dat meer as 80 wynkelders en 350 wyndruif­produsente hul deure sou moes sluit, tesame met ’n potensiële verlies van meer as 21 000 werkgeleenthede in die wynwaardeketting.

Ná die skade wat reeds aangerig is, het die bedryf nog geensins genoeg herstel om die verlenging van die nuwe verbod te kan absorbeer nie.

Al hoe meer bewyse stroom in dat die regering eenvoudig ratser te werk moet gaan en sy inperkingsregulasies fyner kalibreer. Terwyl daar begrip is vir die noodsaak om menselewens te red, is dit so dat ekonomiese oorwegings ook tel, want armoede eis ook lewens.

Vanuit die bedryf is daar reeds met voorstelle gekom oor “kanale met ’n lae risiko” soos aanlyn verkope, verkope deur kruidenierswaregroepe, die beperking van volumes en beheer oor handelstye. Eweneens het die breër drankbedryf ’n verskeidenheid sinvolle voorstelle gemaak oor hoe verkope op só ’n manier voortgesit kan word dat alkoholmisbruik nie lei tot beserings wat onnodig hospitaalbeddens beset nie.

Op geen van hierdie voorstelle was daar nog ’n grondige reaksie van regeringskant nie.

Dit is vanweë hierdie bot hardkoppigheid en die regering se onwilligheid om te luister dat talle bedrywe genoodsaak word om hul tot die howe te wend.

Dit is ook ’n feit dat die regering se doofheid vir alternatiewe voorstelle en kundige raad hom in die verlede al baie duur te staan gekom het.

Dink byvoorbeeld aan hoe die regering se roekelose visumregulasies Suid-Afrika ’n geraamde R7 miljard per jaar aan toerisme-inkomste gekos het.

Almal wat ’n belang in die toerismebedryf het, het duidelik en deurlopend gewaarsku hier kom moeilikheid. En toe Statistieke Suid-Afrika, die Internasionale Lugvervoervereniging (Iata), en selfs die Reserwebank almal op die negatiewe invloed wys, het die regering dit as leuens afgemaak.

Uiteindelik moes ’n interministeriële komitee (onder Ramaphosa self) die kastaiings uit die vuur probeer krap en die regulasies is skoorvoetend herroep. Maar die skade is reeds gedoen.

Die regering en die bevelsraad is sterk op koers om hierdie fout met die wynbedryf te herhaal. Die rimpeleffek daarvan in die Wes-Kaapse en nasionale ekonomie – ook wat betref plaaslike en internasionale wyntoerisme – gaan uiteindelik enorm wees.

Luister, voor dit te laat is.

Meer oor:  Dawie  |  Uit My Politieke Pen.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.