Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Die dreunsang sal beslis kom: 'Kruisig hom!'
Wilhelm Jordaan

Dit was my sonderlinge oupa wat jare gelede by my ’n ontydige bewustheid van en angs oor Jesus se beweerde wederkoms op die wolke besorg het.

Ek was so 12 jaar oud toe ek op sy plaashuis se stoep (by Hoeko, naby Ladismith) hoor hoe hy met my pa praat: “Mannie, reken jy dit kan vandag reën? Ons het dit dringend nodig.”

Net daarna praat oupa weer: “Mannie, dink jy onse Here Jesus sal vandag kom?” terwyl hy met sy oë ’n spleet in die Swartberge en ’n stapel belowende wolke meet. So asof weervoorspelling en wederkoms soortgelyke profetiese status het.

My pa antwoord nie en ek val byna om met dié angsvolle indruk: “Ag nee, oupa! Ek wil nog baie rugby speel en ek het nog nie eens ’n meisie ’n drukkie gegee nie!” Sy hemelse visie en my aardse behoeftes het nie geklop nie . . .

Deesdae is “die wederkoms” nie vir my ’n werklikheid nie. My geloof is gans anders as oupa s’n. Tog verbeel ek my van tyd tot tyd hoe ’n wederkoms sou verloop: Wie sal hom eerste gewaar en die nuus uitbasuin – SkyNews, eNuus, CNN, of dalk ’n scoop vir ’n wakker dagblad?

Waar sal sy eerste besoek wees ná ’n reis tien maal die spoed van lig deur onontdekte hemelsfere? Dalk hier by ons, wat hopelik die einde van die ANC se verwoestende termyn sal wees, volgens hul eie profesie (“die ANC sal regeer totdat Jesus weer kom”).

Waar sal sy eerste besoek wees ná ’n reis tien maal die spoed van lig deur onontdekte hemelsfere?

Of sal die maghebbers dit slu herbedink en hom nooi vir ’n lekgotla oor koalisies; met beloftes van zero korrupsie en ’n waarlik beter lewe vir almal?

Sal ons sien hoe politieke en kerklike BBP’s hom omhang met ’n purper toga as hy die ereburgerskap van Kaapstad ontvang?

Dít terwyl ’n klompie bibberende hulpsoekers in die winterkoue op die agtergrond pleit, soos Adam Small dit doen in “Second Coming 1”: “ . . . ek vra djou, Here, / please, pléáse wend / en lig djou kop / net één maal op / en notice my hie agter, please, / en smile moet my.”

Sal hy dán die armes omarm, of sal hy haastig in ’n toetende motorstoet na Stellenbosch gaan vir die toekenning van ’n DTh-graad (honoris causa)? Met nog sulke grade later by kweekskole in Bloemfontein, Pretoria en Potchefstroom.

En wie sal blitsig nuwe webwerwe registreer en die kopiereg teen ’n wins verkoop? Met name soos secondcoming@joy.to.the.world of jesusleef@global.com?

Wat van ontwerpersklere deur Armani of House of Versace wat Jesus se kruisigingskleed, uit een stuk geweef, naboots en wêreldwyd bemark? Sodat almal wat kan betaal, sy kleed dra.

Sal ons ook – soos met ’n nuwe pous, moderator of dominee – sy missie bepraat? Onwrikbaar tradisievas of vernuwend? Hom ’n pligtelys gee wat eie agendas pas?

Stellig, soos meer as 2 000 jaar gelede, sal die timmerman se radikale boodskap van liefde en sorg teenoor alle mense nie begryp word nie. Die dreunsang sál kom: “Kruisig hom! Kruisig hom!”

Meer oor:  Godsdiens  |  Geloof  |  God  |  Jesus  |  Wederkoms
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.