Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
'Die drie waarvoor ek Joost áltyd sal onthou'

Hy onthou Joost nie vir sy 38 toetsdrieë nie, ook nie vir die skandes van sy persoonlike lewe of sy hartverskeurende stryd teen MNS nie. Hy onthou hom vir één drie 23 jaar gelede op Murrayfield, skryf Gert van der Westhuizen.

Die legendariese Joost van der Westhuizen op kenmerkende wyse op pad doellyn toe vir die Springbokke teen Wallis in 1998 op Loftus Versfeld. Foto: Tertius Pickard/Gallo Images

“Was Joost regtig so goed?” vra ’n jonger kollega my nou die dag. Toe gaan dink ek oor sy loopbaan – Springbok-skrumskakel vir ’n dekade en Suid-Afrika se eerste, bes moontlik enigste, rugby-superster.

Hoewel Van der Westhuizen al in 1993 sy buiging vir die Bokke gemaak het, was dit eers in 1994, tydens Suid-Afrika se toer in Brittanje, dat mense werklik besef het hier is ’n besondere speler met hope talent.

In daardie dae, skaars twee jaar nadat die Bokke al sukkelend weer internasionale rugby begin speel het, was spelers én ondersteuners gretig vir enige sege – al was dit oor sogenaamde kleintjies soos Skotland en Wallis.

Die eerste van die Bokke se twee toetse was teen Skotland op Murrayfield en, soos gewoonlik, was dit moeilik om die Skotte onder te kry. Net voor rustyd was die Bokke met 3-0 voor, maar die Skotte het nie rekening gehou met Van der Westhuizen se oog vir ’n gaping nie: Hy het die bal net buite die Skotse kwartgebied in die hande gekry, om ’n losskrum gebreek en dwarsdeur genael vir ’n drie.

Wie sal ooit sy duikslae op die stormende makro-vleuel Jonah Lomu vergeet?

Dit het die hardnekkige Skotte uiteindelik geknak. Van der Westhuizen het in die tweede helfte nóg ’n drie gedruk en die Bokke het uiteindelik met 34-10 gewen.

Maar dit was sy eerste drie wat ek steeds onthou. Dis asof hy daarmee man-alleen Springbokrugby se herlewing ná die isolasiejare ingelui het. Minder as ’n jaar later het dit in Wêreldbeker-glorie geëindig.

Van der Westhuizen het in 1995 se Wêreldbekereindstryd ondanks ’n pynlike ribbesering weer ’n baie groot rol in die Bokke se oorwinning gespeel.

Wie sal ooit sy duikslae op die stormende makro-vleuel Jonah Lomu vergeet? Of die perfekte aangee onder groot druk van die All Black-skrumskakel Steven Bachop wat Joel Stransky in staat gestel het om met sy skepdoel te slaag?

Van der Westhuizen het ook geen geringe rol in die verowering van die Bokke se eerste Drienasies-kroon in 1998 gespeel nie met onder meer sy drie in die naelskraapse sege van 14-13 oor Australië in Perth. Hy het ook gedruk toe die Bokke die All Blacks ewe naelskraap met 24-23 in Durban geklop het.

In dieselfde jaar was hy kaptein van die Blou Bulle wie se bra gemiddelde span die Westelike Provinsie met sy groep vol sterre in die Curriebeker-eindstryd geklop het.

Joost van der Westhuizen hou die Curriebeker in 1998 omhoog nadat hy die Bulle tot ’n sege oor die WP gelei het.Foto: Duif du Toit/Gallo Images

Van der Westhuizen is erg gekritiseer toe hy dié sege as ’n groter hoogtepunt as die verowering van die Wêreldbeker beskryf het, maar dit hét die Goue Beker immers die eerste keer in sewe maer jare weer staanplek in Pretoria gegee.

En in daardie dae was min dinge belangriker vir fanatiese Bul-ondersteuners as juis die Curriebeker.

Die volgende jaar moes Van der Westhuizen die kapteinskap van die Springbokke oorneem ná Gary Teichmann se skok-weglating vir die Wêreldbekertoernooi. Hy het sy stempel ook op dié toernooi afgedruk, veral in die kwarteindstryd teen Engeland toe hy en die losskakel Jannie de Beer saamgespan het vir die Vrystater se wêreldrekord van vyf skepdoele. (Terloops, Van der Westhuizen het in dié wedstryd wéér ’n drie gedruk.)

Syfers is egter nie die eerste ding wat in my gedagtes sal opkom as ek aan Van der Westhuizen dink nie.

Vier jaar later, in 2003 se Wêreldbekertoernooi, het Van der Westhuizen weer vir die Springbokke uitgedraf. Teen dié tyd was sy beste jare al verby. Dit is eintlik jammer dat hy sy Bok-loopbaan as lid van só ’n sukkelende span en met ’n vernederende nederlaag teen Nieu-Seeland moes afsluit.

Daarna was hy, nes in sy speeldae, gedurig in die media-kollig; dikwels om die verkeerde redes. Tog het hy later van sy felste kritici skaam laat kry met sy dapper stryd teen motorneuronsiekte (MNS) wat in 2011 by hom gediagnoseer is.

Gert van der Westhuizen.

Wat was dus my antwoord op my jong kollega se vraag “Was Joost regtig so goed?” Ja. My antwoord is ja, hy was regtig só goed.

In die dae beteken die term “legende” nie meer veel nie, omdat dit té vinnig om té veel sportsterre se nekke gehang word. Maar Joost van der Westhuizen wás ’n legende. Vir een rede: Hy is steeds die skrumskakel wat die meeste toetsdrieë nog (38) gedruk het. Die All Blacks se Justin Marshall, tweede op die lys, blaas nie eens in sy nek nie met 24. Ook nie Gareth Edwards met sy 20 in die derde plek op die webwerf espnscrum se lys nie.

Syfers is egter nie die eerste ding wat in my gedagtes sal opkom as ek aan Van der Westhuizen dink nie. Ook nie die omstredenheid van sy lewe ná rugby of die hartverskeurende beelde van sy vergeefse stryd teen MNS nie.

Ek onthou die skrumskakel wat op 19 November 1994 op Murrayfield verdedigers in die lug laat gryp met sy vaartversnelling, onstuitbaar op pad na die Skotse doellyn en ’n besondere plek in die geskiedenis van rugby ...

* Gert van der Westhuizen is ’n oud-sportredakteur van Beeld en ’n artrikel-skrywer by Netwerk24.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.