Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Die (eerste) man op die maan
Van naderby. Armstrong se refleksie in die gesigskerm van Aldrin.

Op 20 Julie 1969 het die eerste mens voet neergesit op ’n ander hemelliggaam as die aarde, en is die mensdom van sy aardgebondenheid bevry.

Neil Armstrong se weerkaatsing in die gesigskerm van Buzz Aldrin in die foto wat Armstrong van Aldrin geneem het.Foto’s: NASA/Neil Armstrong en Buzz Aldrin

Dit was toe die ruimtevaarder kommandant Neil Armstrong, vlieënier van die maanmodule Eagle, om 20:18 (SAST) op die suidwestelike rand van die See van Kalmte op die maan geland het, met Buzz Aldrin as medereisiger.

Sonder spanningsvolle drama was die landing nie. Dit was veronderstel om outomaties te geskied met ’n voorafbeplande twee minute se brandstof oor as veiligheidsreserwe. Vier minute voor die landing het die aanboord-beheerrekenaar van die Eagle ’n fout gerapporteer as gevolg van dataoorlading en moes Armstrong dit uitskakel en handbeheer van die landingsbeheermeganisme oorneem. Dertig sekondes voordat die missie geaborteer sou moes word omdat die landingstuig uit brandstof sou raak en neerstort, het Armstrong – toe 30 m bo die maanoppervlak – besluit om deur te druk, ’n geskikte landingsplek in ’n oop stuk tussen rotse geïdentifiseer, en land hy in ’n stofwolk op die poeieragtige oppervlak van die maan met 20 sekondes se brandstof oor.

Armstrong het dadelik na Nasa­ se beheerkamer in Houston, Texas, die nou legendariese boodskap gestuur: “The Eagle has landed.”

Die angsvolle stilte in die beheerkamer is verbreek deur ’n gejuig van die personeel. Oor die wêreld heen het diegene wat ingeluister en gekyk het na die landingsdrama, saam ’n sug van verligting geslaak.LanseringDie maanlanding is voorafgegaan deur die lansering op 16 Julie 1969 van Apollo II vanaf die Kennedy-ruimtesentrum, met die ruimtevaarders Armstrong, Aldrin en Michael Collins aan boord. Die 39-jarige burgerlike toetsvlieënier Armstrong was die bevelvoerder van die sending.

Die enigste foto van Neil Armstrong op die maan.

Die Apollo-ruimtetuig het bestaan uit drie dele: ’n bevelsmodule Columbia met ’n kajuit vir die drie ruimtevaarders en die enigste deel wat na die Aarde teruggekeer het; ’n diensmodule wat die bevelsmodule ondersteun het met aandrywing, elektriese krag, suurstof en water; en ’n maanmodule Eagle wat twee stadiums gehad het – ’n afdaalstadium vir die landing op die maan en ’n opstygstadium om die ruimtevaarders terug te neem vir heraansluiting met die bevelsmodule. Ná ’n reis van 386 000 km en 76 uur later het Apollo II op 19 Julie ’n wentelbaan om die maan binnegegaan. Die volgende dag om 01:46 het die maanmodule Eagle, beman deur Armstrong en Aldrin, geskei van die bevels­module waarin Collins alleen agtergebly het. Twee uur later het die Eagle ontwentel en sy gevaarlike daalreis na die maanoppervlak begin.

Die aanboordrekenaar van die Eagle se vermoë was minder as dié van ’n moderne sakrekenaar en ’n miljoen keer swakker as ’n hedendaagse slimfoon. Soos dr. Japie van Zyl, die Namibies gebore Suid-Afrikaner en direkteur van sonstelseleksplorasie van JPL by Nasa dit onlangs oor RSG gestel het: “Dit is haas ondenkbaar dat die maanlandingsprojek, met die primitiewe tegnologie en rekenaars wat destyds beskikbaar was, suksesvol afgeloop het.”Koue OorlogAmerika se besluit om ’n maanlandingsprojek aan te pak is reeds sewe jaar tevore geïnisieer deur pres. JF Kennedy se aankondiging: “Ons het gekies om na die maan te gaan,” tydens ’n toespraak op 12 September 1962 in Houston, Texas.

Die voorwaardes was dat die projek voor die einde van die dekade afgehandel moes wees en dat die ruimtereisigers veilig na die aarde teruggebring sou word.

Armstrong in die maanmodule, die Eagle.

Dié dapper uitdaging was ’n poging om Amerika se agterstand teenoor Rusland in ruimteverkenning tydens die hoogtepunt van die Koue Oorlog uit te wis.

Rusland het Amerika voorgespring met etlike verrassende eerste ruimteprestasies: die lansering van Spoetnik as die eerste mensgemaakte satelliet op 4 Oktober 1957; die hond Laika se wentelreis om die aarde op 6 November 1957; Juri Gagarin se wentelreis om die aarde op 12 April 1961 as die eerste ruimtevaarder; die eerste vrou, Valentina Tereshkova, se wentelreis om die aarde op 16 Junie 1963, met etlike ander eerste prestasies ten opsigte van vlugduur, ruimtewandelings, en verwante aktiwiteite.

As teenvoeter inisieer Nasa die Apollo-program. In 1966, ná vyf jaar se werk deur ’n internasionale span wetenskaplikes en ingenieurs, het Nasa die eerste onbemande Apollo-sending onderneem om die strukturele integriteit van die voorgestelde lanseringsvoertuig en ruimtetuigkombinasie te toets.

Die driemanskap, Neil Armstrong, Michael Collins en Buzz Aldrin.

Sonder teenspoed was die program nie. Op 27 Januarie 1967 het tragedie die Kennedy-ruimtesentrum in Kaap Canaveral, Florida, getref toe ’n brand uitgebreek het tydens ’n bemande lanseringstoets van die Apollo I-ruimtetuig en Saturnus-vuurpyl. Die drie ruimtevaarders, Gus Grissom, Ed White en Roger Chaffee, het in die vlamme omgekom.

Uiteindelik sou 17 Apollo-missies onderneem word. Ses van die missies (Apollo’s 11, 12, 14, 15, 16 en 17) sou maanlandings realiseer. Apollo’s 7 en 9 was aardwentelmissies om die bevels- en maanmodules te toets, en Apollo 13 is geaborteer nadat ’n suurstoftenk aan boord ontplof het.

Uiteindelik sou Rusland die aftog in die ruimtewedloop blaas met die landing van die eerste mens op die maan deur Armstrong en Aldrin.MaanwandelingSes uur ná die eerste maanlanding op 21 Julie 1969 het Armstrong die landingstuig se luik oopgemaak, uitgeklim en die eerste mens geword wat op die maan se oppervlak kon loop. Toe hy sy voet van die laaste sport van die leertjie afhaal om op die maanoppervlak te trap, was sy gevleuelde woorde: “That is one small step for man, one giant leap­ for mankind”.

Dié historiese oomblik is met ’n TV-kamera wat buite die Eagle gemonteer was na die aarde gebeeldsend met flikkerende swart-en-wit beelde van lae definisie.

20 Julie 1969. Die Eagle het geland.

Ek kan onthou hoe ek voor die radio gesit het om na die drama te luister terwyl dit ontvou. Suid-Afrika het toe nog nie oor televisie beskik nie.

Aldrin het hom 19 minute later by Armstrong aangesluit. Hulle het ongeveer twee en ’n kwart uur saam buite die maantuig bestee en 21,5 kg maanmateriaal versamel om terug te bring na die aarde, foto’s van die omgewing geneem, ’n Amerikaanse vlag geplant, enkele eksperimente uitgevoer en ’n gedenkplaat aangebring wat lees: “Hier het die mense van die planeet Aarde eerste voet op die maan gesit in Julie 1969 n.C. – ons het in vrede vir die hele mensdom gekom.”

Pres. Richard Nixon het kort nadat hulle die Amerikaanse vlag op die maanoppervlak geplant het, per radiotelefoon met Armstrong en Aldrin gepraat. Nixon beskou dit as die “mees historiese telefoonoproep wat ooit uit die Withuis gemaak is”.

Hulle het 21,5 uur op die maanoppervlak deurgebring en selfs ’n slapie ingekry in die beknopte binneruimte van die Eagle – Aldrin op die vloer en Armstrong op die deksel van die tuig se stygenjin.

Die opstyging van die Eagle vanaf die maanoppervlak en aansluiting by die Columbia vir die terugvlug aarde toe het foutloos verloop. Nixon was self aand boord van die herwinningskip die USS Hornet in die landingsgebied in die Stille Oseaan om die Apollo II-ruimtevaarders op 24 Julie 1969 terug te verwelkom – vier dae ná die historiese wandeling op die maan.Missie voltooiMet die suksesvolle afloop van die Apollo II-missie is voldoen aan Kennedy se uitdaging van 1961 om die Sowjetunie na die maan te klop. Nadat die prestasie behaal is, was verdere missies eintlik nie lewensvatbaar nie. Uiteindelik sou wel nog vyf maanlandings uitgevoer word, en het ’n totaal van 12 mense op die maan geloop (vier wat tans nog lewe) voordat die Apollo-projek met Apollo 17 beeïndig is, hoofsaaklik as gevolg van finansiële oorwegings.

Die Apollo-program was ’n duur en arbeidsintensiewe onderneming, met ongeveer 400 000 ingenieurs, tegnici en wetenskaplikes wat daaraan gewerk het en wat $100 miljard (R1,4 triljoen in vandag se geldwaarde) gekos het.

Daarmee het die mens die nabyruimte persoonlik begin verken.

Wat seker is, is dat dit nie daar sal eindig nie, met as eerste volgende stap ’n kolonie wat op die Aarde se maan gevestig word, en dan Mars as die daaropvolgende mikpunt.

Sowel Nasa as SpaceX (die Suid-Afrikaans gebore Elon Musk se ruimtemaatskappy), en ander, het planne vir onbemande en later bemande verkenningstogte en uiteindelik ’n kolonie na Mars.

Die wedloop is aan om die eerste mens op Mars te plaas. Verwysings:Rod Pyle: Destination Moon (Smithsonian, 2005); Charles River (Red.): The Apollo Program: The History and Legacy of America’s Most Famous Space Missions, 2015; Andrew Chaikin: A Man on the Moon: The Voyages of the Apollo Astronauts, 2007; Nola Taylor Redd: Apollo II: First Men on the Moon, https://www.space.com/16758-apollo-11-first-moon-landing.html; Judith Burns: The Moon landings: How one small step inspired a generation, https://www.bbc.com/news/education-48298597

Christo Viljoen is ’n afgetrede ingenieur en akademikus. Hy was stigterslid en lank direkteur van die firma Sunspace in Tegnopark, Stellenbosch, wat Suid-Afrika se satelliete Sunsat en Sumbandilasat vervaardig het. Sunspace is deur Denel oorgekoop en staan nou bekend as Spacetek.

Meer oor:  Neil Armstrong  |  Maanlanding  |  Man Op Die Maan
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.