Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Die einde van die kort revolusie van populisme

Die wêreld word oorstroom deur populisme, fundamentalisme en haatpos. Maar Charles Smith het hoop vir die moedeloses: Daar is antibiotika om dit mee te beveg.

Ons is naby die einde van die kort, woedende revolusie van populisme wat die wêreld soos ’n maagepidemie getref het.

Charles Smith

Net soos ’n kiem in ’n seunskoshuis se kaas het alles en almal siek geword.

Galsiek en galbraak het gevolg.

Groot-Bittanje het ge-Brexit, Amerika het ge-Trump en Suid-Afrika se unieke Zuma-tribalism het ons letterlik teen die planke.

G’n antibiotika kan die draer van populisme (lees: sosiale media) gesond kry nie.

In die burgers se woede is alles voor die voet as fopnuus gebrandmerk, en só is fopnuus natuurlik geskep en is omtrent alle logika voor die voet deur dié veldbrand verskroei.

En nou sit ons met die gebakte pere.

Eerstens moet mens sê dat die hoofstroommedia behoorlik met sy broek op die knieë betrap is met Brexit en Donald Trump se verkiesing as president van Amerika, al het niemand (die uwe ingesluit) dit voorspel nie. Harde lesse is geleer.

Kyk na al die tekens, kom op grondvlak by mense uit en luister na mense.

Daar is egter ’n keersy aan hierdie munt: Wat as die mense só op hol is oor ’n ding dat hulle verkeerd is?

Almal van ons wil weet hoekom gewone mense op voetsoolvlak steeds Jacob Zuma steun.

Meeste mense ’n rat voor die oë gedraai

Presies dieselfde vraag kan oor Brexit en Trump gevra word, hoewel die woede teen globalisering en die Europese Unie (EU) in die Britte se geval en teen die valse, bloedsuierige Clinton-egpaar en die maniese skreeunuus van die Amerikaanse hoofstroommedia heeltemaal legitiem is.

Vra vir die Duitsers hoe Hitler aan bewind gekom het, dan begin jy ’n idee kry waar om te begin soek na antwoorde vir die vrae wat ons nou moet vra. Deur populisme – deur dinge oor en oor te skreeu wat ’n gatvol nasie wíl hoor totdat dit ’n veldbrand word. En die media te muilband en eindelik te verban.

En goeie, gewone Duitsers, seker die hardwerkendste nasie in die wêreld, het moordenaars geword en miljoene Jode uitgewis. Dis hoekom Duitsland woedend is vir Trump wat hulle probeer boelie, hulle as “slegte, slegte mense” in hul eie land afmaak en dreig om Mercedes, BMW en Volkswagen uit Amerika te gooi. (Hou gerus hier die reaksie van die pro-Trump-mense dop en julle begin die prentjie kry.)

Dit wil nou lyk of die Russe wel ’n rol in sy verkiesing gespeel het.

Trump het die term fopnuus geskep teen die media, sy eie familie in die Withuis aangestel (wat as Barack Obama sy vrou, Michelle as sy hoofraadgewer aangestel het?) en só hard die hele wêreld beledig dat hy ’n keelvol, opgesweepte nasie só op sleeptou geneem het dat die meeste mense ’n rat voor die oë gedraai is.

Dit wil nou lyk of die Russe wel ’n rol in sy verkiesing gespeel het en die Withuis se kontak met Rusland word nou ondersoek, met al die vingers wat na sy skoonseun en sy regterhand, Jared Kushner, wys.

Dis die groentjie-eiendomsmagnaat wat die verkoop van meer as $100 miljard se Amerikaanse wapens aan Saoedi-Arabië aangevoor het – die land waarvan die meeste terroriste in die 9/11-aanvalle is en wat die Duitsers en die hele Europa erg ongemaklik het.

Dit is nie wat Trump vir die kiesers voor die verkiesing vertel het nie. Hy het nie eens ’n woord oor Saoedi-Arabië se menseregtevergrype gesê nie.

Populisme se gevaarlike broertjie

Ná hierdie nuus en Trump se vergrype soos om by die Navo-spitsberaad Duško Markovic van Montenegro met die skouer te stamp en die waansinnige handrukkompetisie met Frankryk se pres. Emmanuel Macron (wat hy verloor het) het sy gewildheid dramaties laat val.

In Brittanje kom die jong kiesers in opstand teen die Tories wat hulle in Brexit laat beland het. Populisme se vuur is besig om uit te brand.

Dit is hoekom ’n mens altyd moet kyk wat orals in die wêreld gebeur as jy wil begryp wat hier gebeur. Die prediker Angus Buchan se saamtrek buite Bloemfontein waarheen sowat 500 000 meestal wit Christene gestroom het, was uit gesprekke en briewe net soveel ’n politieke magsvertoon as ’n gelowige saamtrek.

En dit is absoluut te verstane, en met die betogings teen die korrupte ANC en Zuma in Kaapstad en Pretoria het gewone mense iets laat wys van hoe keelvol hulle is met wat in die land gebeur.

Fundamentalisme net so gevaarlik.

Ek het verby die Buchan-saamtrek gery (ek is nie ’n evangelistiese soort gelowige nie, maar dit is ’n persoonlike saak) en was geweldig beïndruk met die orde, dissipline en die samehorigheid sal jy nie gou weer in die land sien nie.

Maar populisme het ’n gevaarlike broertjie – en dit is fundamentalisme. Hoekom stroom honderde duisende mense na ’n saamtrek van ’n lekeprediker in die veld om na naïewe, Middeleeuse sienings uitgeskreeu in die vorm van gebede te luister?

Dit is nou meer as ’n maand ná die saamtrek en ek is seker die enigste prostitute wat van die strate is, soos Buchan voor gebid het, is die wat vermoor is. Dieselfde “ongelowige regering” is steeds in beheer van die parlement en die land – en die meeste van hulle, Zuma ingesluit, is baie gelowige kerkgangers.

Buchan het dan gesê hulle gaan binne ’n maand weg wees?

Haatpos is haatpos; in watter taal ook al

Misdaad raak elke dag erger. Mense soos die Matie-student Hannah Cornelius, word steeds elke dag sonder enige rede vermoor en die ANC met Zuma onder druk kan enige oomblik ’n Robert Mugabe op ons trek, met of sonder “profete” se gebede dat hulle oorwin sal word.

Wat is nou fopnuus? En hoekom Spur boikot oor politieke korrektheid en ras en nie ’n veldtog teen Cornelius se moord begin nie?

My opmerkings is nie teen gebede of ’n gelowige saamtrek nie. Dis ons plig en ons reg. In baie gelowiges se oë is God liefde, is gebed ’n stille gesprek met die Allerhoogste, om die krag wat jy in jouself nodig het van Bo te herlaai.

Al hoe prostitute van die straat kom, is deur organisasies soos ds. De la Harpe le Roux en sy Torings van Hoop-projek. Populisme en fundamentalisme is meestal ’n gedruis, deesdae aangevuur deur sosiale media en fopnuus (soos die haatpos rakende die Spur-boikot bewys) wat oorloop tot iets gevaarlik soos Trump en Amerika se wegstap van die Parys-verdrag oor klimaatsverandering. Die resultate van klimaatsverandering kan net so ernstig vir die aarde wees as ’n Derde Wêreldoorlog.

Moenie in die naam van sogenaamde profete op loop gaan nie.

Ons weet wat Hitler en die Tweede Wêreldoorlog tot gevolg gehad het. Isis is besig om ’n al groter bedreiging te word deur sy Islam-fundamentalisme wat ook deur sosiale media gedryf word.

Haatpos is haatpos – in watter taal, geloof of land dit ook al gedryf word.

Daar is wél ’n antibiotika teen populisme en fundamentalisme: Lees! Wees ingelig. Moenie in die naam van sogenaamde profete op loop gaan nie.

Een “profeet” het selfs God op sy selfoon gebel in ’n preek . . . Wees soms die mindere.

Weerhou jou van haatspraak. Bou eerder as breek. In ’n verligte era is die ware profete teen die vals orde skrywers, digters, intellektuele, wetenskaplikes en predikers wat God se liefde verkondig.

Dis nie fopnuus nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.