Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Die f-woord en Afrikaanse letterkunde

Vroeë Afrikaner-feministe was pioniers in hul eie reg – ’n nalatenskap wat ernstig vertroebel word deur hul rassistiese kortsigtigheid. Hulle is vandag grootliks vergete, skryf Christi van der Westhuizen.

Die voorblad van Marié du Toit se boek.

Volgende week by die Woordfees se Skrywersfees praat ons oor die f-woord en Afrikaanse letterkunde.

Ja, nadat die digter Ronelda S Kamfer die Jan Rabie en Marjorie Wallace-lesing gelewer het, gesels ek en andere met haar oor waar die Afrikaanse letterkunde vandag in die internasionale feminisme-debat staan.

Die organiseerders moet lof ontvang vir hul dapperheid om ’n vraagstuk te opper wat heeltemal te min in Afrikaanse openbare ruimtes aan die bod kom. Wat te lese is in die letterkunde, hang af van die identiteite en sosiale strukture wat ons vorm, en andersom.

Weens apartheid-isolasie kon hulle nie baat by die feministiese oplewing in idees en politiek vanaf die 1950’s nie.

’n Mens kan dus die vraag uitbrei en vra: waar staan die ganse Afrikaanse leefwêreld in verhouding tot feminisme? Is dit ’n identiteit wat Afrikaanse vroue sonder skroom kan omhels?

As dit kom by wit Afrikaanssprekende vroue, waaroor my boek Sitting Pretty – White Afrikaans Women in Postapartheid South Africa handel, sien ons apartheid het Afrikanervroue van blootstelling aan feministiese idees beroof. Dit het op drie maniere gebeur: die verre meerderheid kon nie met feminisme te doene kry deur die bevrydingsbewegings nie, want hulle was in Afrikaner-nasionalistiese idees van wit en patriargale oppergesag vasgevang.

En, weens apartheid-isolasie, kon hulle nie baat by die feministiese oplewing in idees en politiek wat vanaf die 1950’s in die Weste ontvlam het nie. Daarom dat Afrikanervroue in my navorsing die 1970’s en veral 1980’s aandui as die eras waarin hulle of hul ma’s eers begin bewus raak het dat hulle wel ’n reg tot gelyke ontwikkeling van hul eie potensiaal het. Dus eers toe apartheid se krake begin wys het.

Die f-woord in ’n Afrikaanse boek

Die derde rede kan gevind word in die kompromie wat vorige generasies in die eerste helfte van die 20ste eeu gemaak het – ’n kompromie wat uiteindelik apartheid versterk het. ’n Vreemde teenstrydigheid duik op: Afrikanervroue was in die eerste helfte van die 20ste eeu baie meer openbaar aktief en het tóé ’n aansienlik groter openbare rol in die vorming van Afrikaner-nasionalisme en -politiek gespeel, as gedurende die tweede helfte van die eeu.

Wanneer ek in die openbaar hieroor praat, sukkel gehore om daarvan sin te maak, omdat dit nie strook met heersende idees oor sogenaamde vooruitgang nie. ’n Mens gaan mos van mínder na méér bevryd, nie andersom nie. Maar die regte wêreld van fluktuerende magsverhoudinge werk nie so nie.

Die eerste Afrikanervroue word ook in daardie tyd joernaliste, dokters en advokate.

Afrikanervroue het die sosiale vloeibaarheid van die tydperk ná die Suid-Afrikaanse oorlog gebruik om meer openbare ruimte vir hulself te beding, en daarmee meer geleenthede om hul eie potensiaal gestand te doen. Vanaf die vroeë 1900’s tot die 1940’s sien ons vroue aktief in die openbaar en selfs in die formele politiek, onder meer deur ’n swetterjoel welsynsorganisasies, die Klerewerkersunie, en die Nasionale Vrouepartye, die eertydse provinsiale vroue-afdelings van die Nasionale Party.

Die eerste Afrikanervroue word ook in daardie tyd joernaliste, dokters en advokate.

Marié du Toit skryf haar boek Vrou en Feminis, of, Iets oor die Vroue-vraagstuk in 1921, die eerste en die laaste keer dat die f-woord in ’n Afrikaanse boek se titel voorkom.

Die einde van Afrikanervroue in die openbare sfeer

Maar Afrikanervroue kon nie die versoeking van die voordele van wit rassisme weerstaan nie. In ruil vir die wetlike en institusionele bevoorregting van witheid, het Afrikanervroue toenemend deur die loop van die 20ste eeu hul indeling as tweedeklas-burgers op grond van hul geslag aanvaar en as ondergeskiktes by die wit manlike hiërargie ingeval.

Dit begin gebeur met die toekenning van stemreg aan wit vroue in 1930, waar wit vroue hul bruin en swart geslagsgenote in ruil vir voller burgerskap opgeoffer het. Die mans in die Nasionale Party wou die bestaande beperkte stemreg wat bruin en swart mans nog in daardie stadium besit het met die goedkeuring van wit vroulike stemreg verdun. In ’n Faustiaanse pakt het die wit vroue saamgespeel.

Maar van daar af was dit afdraande vir ambisieuse wit vroue, veral die Afrikanervroue wat gedink het dat hulle nou ook poste as openbare verteenwoordigers sou beklee. Ná vrouestemreg toegestaan is, het die Nasionale Vrouepartye op die mansparty se aandrang ontbind. Maar slegs ’n handvol vroue kon politieke loopbane van stapel stuur.

Toe die Nasionale Party van DF Malan die staatsmag bekom in 1948, was dit met die uitsondering van ’n paar figure die einde van Afrikanervroue in die openbare sfeer.

Christi van der Westhuizen

Daardie vroeë Afrikaner-feministe was pioniers in hul eie reg – ’n nalatenskap wat ernstig vertroebel word deur hul rassistiese kortsigtigheid. Hulle is vandag grootliks vergete. ’n Mens sou dink dié geheueverlies is moontlik weens die ingewikkeldheid van hóé om hulle te onthou, gegewe hul kranige mede-skepping van Afrikaner-rassisme. Maar hul selfs méér problematiese manlike eweknieë word deesdae lustig uitgegrawe en her-onthou in boeke en TV-produksies.

Die afleiding is dus dat hierdie vroue vergete is omdat hulle vroue is. Nasionalisme as ideologie skep nie ruimte vir vroue as aktiewe agente nie. Selfs al toon vroue agentskap, beur vir hulself ruimte oop, en maak ’n openbare indruk op die wêreld om hulle, sal manlike, nasionalistiese geskiedskrywing steeds nie vir hul plek maak nie.

Slegs feministiese weerstand sal plek vir vroue as gelykwaardiges kan skep. Daardie generasie se aanvaarding van geslagsminderwaardigheid in ruil vir wit bevoorregting het bygedra tot die uitwissing van alle herinneringe aan hulle.

Vir heelparty vroue is daar steeds te veel van ’n stigma aan feminisme – dit bly ’n f-woord.

Belangrike feministiese studies begin sedert die 1990’s om hierdie gapende gat in die akademiese literatuur oor Afrikaner-nasionalisme te vul. Maar as dit kom by populêre feminisme, blyk dit die openbare debat in Afrikaans is nog steeds vasgehaak by of ’n vrou enigsins as feminis mag identifiseer (asof ’n vrou toestemming moet vra). Vir heelparty vroue is daar steeds te veel van ’n stigma aan feminisme – dit bly ’n f-woord, ’n nalatenskap van die uitwissing van die spore van daardie vroeë Afrikaner-feministe, ironies genoeg ook deur hulself. Gelukkig is daar interessante verwikkelings in Afrikaanse letterkunde wat ’n teenvoeter kan skep.

* Prof Van der Westhuizen werk by die sentrum vir die bevordering van nierassigheid en demokrasie, Nelson Mandela-Universiteit. Die menings van rubriekskrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

* Die paneelbespreking by die Woordfees vind op 6 Maart om 11.30 plaas.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.