Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Die farmaseutiese wedloop na die kasregister
Heinz Mödler
Heinz Mödler

Paul Alexander van Dallas, Amerika, was ses jaar oud toe hy polio gekry het.

Alexander kon ongelukkig nie, soos Forrest Gump, sy beenysters afhardloop nie. Om die waarheid te sê, die poliovirus het sy spiere so verswak dat hy nie eens self kon asemhaal nie.

Alexander is vandag 74 jaar oud danksy sy lewensredder – die ysterlong waarin hy lê.

Jonas Salk (1914-1995) kon as ’n baie ryk man gesterf het. Maar hierdie wetenskaplike het verkies om nie skatte op aarde te versamel nie, veral nie ten koste van mense – spesifiek kinders – se gesondheid nie.

In 1952 het Salk die eerste doeltreffende polio-entstof ontwikkel. Vir die eerste keer kon ouers hul kinders met ’n geruste hart in die bed sit, want danksy Salk was hulle nou immuun teen polio.

Deesdae is die laaie van talle maatskappye se kasregisters afwagtend oop.

Salk het nie sy entstof gepatenteer nie, want hy het gevoel dit sal eties nie die regte ding wees om te doen nie. Om geld by hierdie formule in te bring sal moreel onaanvaarbaar wees, veral omdat daar miljoene kinders is wie se ouers reeds onder die bestaansminimum moet oorleef, het hy geredeneer.

Daar word bereken dat Salk se humanistiese oortuigings hom ongeveer R122 miljard gekos het. Dit was die wêreld van destyds.

Deesdae is die laaie van talle maatskappye se kasregisters afwagtend oop. Die wedloop om die eerste Covid-19-entstof te ontwikkel, het reeds begin, die eerste plekke ingeneem deur die groot maatskappye.

Dié maatskappye, wat meeding om eerste op die podium te staan, durf nie momentum verloor nie, want nie net wink eer en status nie, maar ook die wengeld. Niemand wat in hierdie wedloop hardloop, gaan hul tjek vir die armes gee nie.

Die enigste deelnemer wie se kasregisterlaai nog toe is, en wat toevallig ook in hierdie stadium voor is, is die Universiteit van Oxford. Hulle het reeds verklaar dat hulle nie geld uit hul entstof wil maak nie. Nadat hulle hul onkoste verhaal het, is die res verniet.

Om ’n veilige entstof te ontwikkel is nie maklik nie. Selfs Salk se entstof het dodelike komplikasies gehad.

Albert Sabin (1906-1993) het hierdie probleme oorkom deur ’n ander polio-entstof te ontwikkel. Nie net was sy entstof heeltemal veilig nie, maar dit kan ook oraal geneem word. Sabin het ook nie sy entstof gepatenteer nie.

Op die oomblik is daar tien kliniese programme van stapel gestuur om die Covid-19-entstowwe wat die pylvak gehaal het, te toets.

Daar moet absoluut seker gemaak word dat die entstof veilig is, want die skade wat só ’n produk kan veroorsaak indien gevaarlike komplikasies later eers verskyn, is ondenkbaar.

“Gelukkig” het die wêreld darem vir Afrika.

Op die Franse TV-kanaal LCI het twee Franse dokters – Camille Locht (hoof van die Inserm-gesondheidsnavorsingseenheid) en Jean-Paul Mira (hoof van die hoësorgeenheid by die Cochin-hospitaal in Parys) – onlangs aangevoer dat Afrika vol nuttige proefkonyne is wat geredelik gebruik kan word om hierdie nuwe entstowwe te toets.

Sou Afrikane niks oorkom nie, kan maatskappye met ’n geruste hart die entstof aan die res van die betalende wêreld aanbied. Regtig!?

  • Mödler is ’n medikus, kunstenaar en skrywer van Kaapstad.
Meer oor:  Heinz Mödler  |  Geld  |  Polio
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.