Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Die feit is, jy kan wél jou stem vermors

Met elke verkiesing ontstaan ’n vreeslike katgeveg tussen groot opposisiepartye en klein opposisiepartye. Die grotes voer aan jy moenie jou stem mors op ’n klein party en sodoende die opposisiestem versplinter of die regerende party help nie. Die kleineres voer aan daar is nie so iets soos ’n vermorste stem in ’n proporsionele kiesstelsel nie.

Wat is die feite? Is daar so iets soos ’n vermorste stem?

Die feite, in’t kort, is dat daar wel so iets is, maar dat dit nie so algemeen voorkom as wat groot opposisiepartye beweer nie.

Die gulde reël is dat jy jou stem vermors het sodra jou party nie ’n setel wen in die provinsie of munisipaliteit waar jy gestem het nie, want dan word jou stem kragtens die Suid-Afrikaanse proporsionele kiesstelsel toegewys aan ’n ander party – miskien die een waaraan jy dit die minste toegewys wil hê.

As jy jou stem uitbring vir ’n kleiner party wat darem groot genoeg is om ’n setel in jou provinsie, munisipaliteit of stadsraad te wen, is jou stem nie vermors nie, al is dit vir ’n kleiner party.

Praktiese voorbeeld: Kouga

Die beste praktiese voorbeeld van ’n toegewysde en dus vir die doel van hierdie artikel vermorste stem – bitterlik ongewild by kleiner partye, maar die waarheid sal jou vry maak – kom uit die munisipale verkiesing van 2011 in die Kouga-munisipaliteit. Dit sluit setels in die Oos-Kaapse dorp Humansdorp en ook plekke soos Jeffreysbaai en Hankey in.

Daar is nogal baie afgetrede Pretorianers in daardie omtes en dus ’n groter geneigdheid om die VF Plus en ander klein ietwat regs-van-sentrum-partye as opsie te oorweeg as in baie ander dele van die Oos-Kaap. Die Kouga-stadsraad het 29 lede en nadat al die wykstemme en proporsionele stemme getel is, het die ANC 33 791 stemme gekry, die DA 32 952, die VF Plus 526 stemme en Kouga 2000 het 486 stemme ingeoes. ’n Party genaamd Sapco het 68 stemme getrek.

Die ANC en die DA het elkeen genoeg stemme vir 14 setels op eie stoom gehad, maar die drie kleiner partye het geen setels ingepalm nie en hul stemme is oorgedra aan die party wat die naaste was daaraan om nog ’n setel te wen – en dit was die ANC.

Die ANC het dus opgeëindig met 15 setels en die DA met 14 sodat Kouga ’n ANC-stadsraad gekry het. As die VF Plus en Kouga 2000 se kiesers hul kruisies getrek het vir die groter opposisieparty, naamlik die DA, sou die DA 33 944 stemme gekry het teenoor die ANC se 33 791 (of 33 861 as hulle Sapco se stemme ook gekry het). Dan sou die DA die Kouga-stadsraad bestuur het en nie die ANC nie.

Die opposisiekiesers van Kouga het die les goed geleer. In 2016 se munisipale verkiesing het hulle nie weer hul stemme verdeel nie en die gebied het nou ’n DA-stadsraad – ten goede of ten kwade, afhangend van jou voorkeur, maar in elk geval onteenseglik nie ’n ANC-stadsraad nie.

Hoe die stelsel werk

Dis vir baie mense ’n raaisel, maar hul verwarring is nie verskoonbaar nie, want dis eintlik heel duidelik.

Dit werk só: Die getal stemme verwerf word gedeel deur die getal setels om die getal stemme per setel te bepaal. ’n Party weet dan watter sogenaamd “volle” setels hy verwerf. Dit gebeur wel byna altyd dat die som nie so presies uitwerk nie – partye kry ’n bietjie meer of minder stemme as wat hulle op ’n volle setel geregtig maak.

Daardie stemme word dan saamgegooi om die sogenaamde breukdeelstem te vorm en die eerste setel komende uit die breukdeelstem word toegewys aan die party wat die naaste daaraan gekom het om ’n volle setel – of nog ’n volle setel – te verwerf.

In Humansdorp in 2011 was dit die ANC en dus het die kleiner partye se stemme die ANC bevoordeel bo die opposisie – vir die doel van hierdie artikel se terminologie dus ’n vermorste stem.

Hierdie kwessie lei elke jaar tot soveel onmin tussen die DA aan die een kant en veral die VF Plus aan die ander, dat laasgenoemde twee in 2016 met al sy koalisieregerings op munisipale vlak amper opposisiesamewerking beduiwel het.

Die ACDP en die VF Plus het naamlik ingestem om die DA in koalisies teen die ANC te ondersteun met die uitdruklike onderneming dat die DA nie weer in verkiesings sal aanvoer ’n stem vir ’n klein party is ’n vermorste stem nie.

Maar nou ja, die punt kom telkens weer na vore, die wêreld is groter as Humansdorp, een swaeltjie maak nie ’n somer nie en vanjaar se verkiesing is provinsiaal en nasionaal – nie munisipaal nie, of hoe?

Wat is die feite?

Wel, dis dieselfde stelsel, so kom ons beweeg nogmaals weg van ’n stryery deur politici vir wie belange soms oorheersend is en skik ons na die feite.

In 2014 was daar 29 partye wat aan die nasionale verkiesing deelgeneem het. Van hulle het 13 (die ANC, DA, EFF, IVP, NFP, UDM, VF Plus, Cope, ACDP, AIC, Agang, PAC en APC) setels gewen en 16 se stemme is aan ander partye oorgedra soos hierbo verduidelik met die Humansdorp-voorbeeld.

Vanjaar is daar nie minder nie as 48 partye op die nasionale stembrief, so die kanse op vermorste stemme neem ook toe. Nog partye kyk of dit hulle sal geluk om op provinsiale stembriewe sukses te behaal.

Hertoewysing, of dan vermorsing, van stemme wat op klein partye uitgebring word, kom meer gereeld op die provinsiale as die na­sionale stembrief voor, want veral in die kleiner provinsies is ’n groter persentasie van stemme nodig om ’n setel in die provinsiale wetgewer te buit.

Weg met indrukke, kom ons hou ons aan die feite. Om dit prakties toe te lig, kan ons kyk na die 2014- provinsiale vertonings van die twee partye wat die sterkste kapsie maak teen die konsep van ’n vermorste stem, naamlik die ACDP en die VF Plus.

Jan-Jan Joubert
  • In die Oos-Kaap was die laaste party om ’n provinsiale setel te verwerf die AIC met 16 786 stemme. Die ACDP se 7 291 stemme en die VF Plus se 6 818 stemme is dus aan ander partye gegee.
  • In die Vrystaat was die laaste party om ’n setel te verwerf die VF Plus met 21 339 stemme. Die ACDP se 5 150 stemme is dus aan ander partye gegee.
  • In Gauteng het die IVP die laaste setel behaal met 34 240 stemme. Die ACDP se 27 196 stemme het aan ander partye gegaan.
  • In KwaZulu-Natal was die Mi­nority Front se 38 960 stemme genoeg vir die laaste setel. Die ACDP se 16 803 stemme en die VF Plus se 7 695 stemme het dus aan ander partye gegaan.
  • In Limpopo het Cope die laaste setel gewen met 12 573 stemme. Die VF Plus se 10 102 stemme en die ACDP se 6 988 is aan ander partye verbeur.
  • In Mpumalanga het die Bosbokrand-inwonersvereniging met 15 368 stemme die laaste setel gewen. Die VF Plus se 11 018 stemme en die ACDP se 5 324 het dus na ander partye gegaan.
  • In Noordwes het die VF Plus die laaste setel met 18 746 stemme gewen. Die ACDP se 5 728 is aan ander partye toegewys.
  • In die Noord-Kaap was Cope se 15 214 stemme genoeg vir die laaste setel. Die VF Plus se 4 600 en die ACDP se 2 421 is by ander partye getel.
  • In die Wes-Kaap het die ACDP met 21 696 stemme die laaste setel gekry. Die VF Plus se 11 587 stemme is onder ander partye verdeel.

Is daar dus so iets soos ’n vermorste stem? Die feite sê vir seker so en die omstandighede waarbinne dit plaasvind, is duidelik.

Joubert is ’n politieke joernalis en skrywer van die boek Wie gaan in 2019 regeer?.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.