Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Die gawe om vreugdevol jou werk te doen

Met die skole wat vandag begin, is 2019 se werkjaar nou in volle gang. Tog sal almal nie ewe opgewonde daaroor wees nie, want werk is iets ambivalents.

Dit gee sin en betekenis en voorsien in ons lewensonderhoud. Vir die bevoorregtes gee dit selfs meer. Dit bring die geleentheid om genoeg te kan hê om te kan ontspan en die lewe te geniet.

Dit bring egter ook spanning, maak ons moeg en terwyl dit enersyds die lewe voed, wurg dit soms die lewe uit mense uit.

Rudyard Kipling het gesê dat niemand behoort vir geld of eer te werk nie, maar bloot vir die vreugde om hoegenaamd te kan werk.

Die Bybel praat baie oor werk. Dit word gesien as deel van God se skepping (Genesis 2:15). Om jou werk met vreugde te kan doen, word gesien as ’n gawe uit die hand van God (Prediker 2:24). Dit praat verder van “ ’n dag se loon vir ’n dag se werk”, oor eerlikheid in die werkplek, oor die uitbuiting van mense, en les bes die balans en ritme tussen werk en rus (die Sabbat).

Daar is egter ’n groeiende uitdaging wat werk aanbetref. Met die koms van die “vierde tegnologiese revolusie” raak al meer en meer werk oorbodig.

Terwyl dit lyk of daar steeds genoeg bronne is om die mense van ons planeet aan die lewe te hou, bestaan die vraag hoe mense ook sinvol aan die lewe gehou kan word.

’n Sinvolle lewe en ’n blote bestaan is beslis twee verskillende dinge.

’n Sinvolle lewe en ’n blote bestaan is beslis twee verskillende dinge.

In ons eie land is werkloosheid aan die toeneem, maar so ook maatskaplike toelaes. Gegewe hoe daar wêreldwyd oor die toekoms van werk gedink word, gaan die situasie nie vinnig dramaties verbeter nie.

Afgesien daarvan dat dit ekonomies nie volhoubaar is nie, moet die vraag gevra word of daar nie ’n beter manier van hulp is nie.

Bejaardes moet sekerlik gehelp en versorg word, maar is dit totaal onmoontlik om die toelaes wat aan gesonde jong mense gegee word aan ’n klein teenprestasie te koppel?

Suid-Afrika is tans seker een van die vuilste lande in Afrika. Kan dit nie opgeruim word nie? Kan daar nie tuine in ons dorpe en stede gemaak word nie? Kan verwaarloosde staatsgeboue nie geverf en opgeknap word nie?

Nie alleen sal die verfraaiing van ons ruimtelike omgewing ons gemeenskaplike psige verbeter nie, dit kan ook sin en betekenis aan werkloses gee. Laat dié wat dan net wil sit, maar ’n bietjie swaarkry. Daaroor praat die Bybel ook (2 Tessalonisense 3:10).

En ons wat wel werk het? Mag ons met dankbaarheid die nuwe jaar binnegaan. Mag God aan elkeen van ons die gawe gee om ons werk met vreugde te doen.

Ons land het soveel uitdagings. Verveling behoort die laaste van ons probleme te wees.

Dr. Hanekom is direkteur van die Sentrum vir Publieke Getuienis.

Meer oor:  Braam Hanekom  |  Werk  |  Werknemers  |  Arbeid  |  Vreugdevol
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.