Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Die geheim van die lewe skuil in al die metafore
Wilhelm Jordaan

‘Metaphore! Metaphore!” het die eenvoudige en skaam-verliefde posman, Mario Ruoppolo, in die fliek Il postino uitgeroep toe hy ontdek wat die digter Pablo Neruda hom vertel het oor die woordepad na ’n vrou se hart. En so het Mario vir Beatrice Russo syne gemaak.

Metafore is inderdaad die hamer en die aambeeld van digters, skrywers, fliekregisseurs én verliefdes.

Soos Breyten Breytenbach dig: “Allerliefste, ek stuur vir jou ’n rooiborsduif / want niemand sal ’n boodskap wat rooi is skiet nie. / Ek gooi my rooiborsduif hoog in die lug / en ek weet al die jagters sal dink dis die son . . .” En elders: “my wintervrou is ’n klein klein voël / tjie tjie tjie / wat met drome goël . . .”.

Die Bybel wemel van sulke beeldryke taal. Dink aan Salomo se hooglied: “Jou borste is soos takboklammers, soos die tweeling van ’n ribbok wat tussen die lelies wei.” Selfs vir God die Vader is daar baie ander metafore waarin die bindwoordjie “soos” verskuil is, byvoorbeeld God is (soos) ’n Rots, die Lig, ’n Skild, ’n Lied, ’n Fontein, die Dou, ’n Moeder,’n Skuilte, ’n Hen met haar kuikens.

’n Mens wil soos Mario Ruoppolo uitroep: Die ganse kosmos krioel van metafore! En miskien is God die Skepper ook ’n metafoor vir ons soeke en verlange na lewensin.

Daar is mense wat reken metafore het net te doen met “hartsake” en gewone lewensdinge. Hulle hoort nie daar waar ’n mens suiwer en logies dink nie – soos in die geval van die natuurwetenskappe se rasionele “kopsake”. Dít is ’n mistasting, want die mens se psige werk wesenlik metafories – om ooreenstemmings tussen een saak en ’n ander raak te sien en vernuftig aan te wend.

Ek help jou, jy help ’n ander en so gaan dit sirkelvormend voort.

’n Voorbeeld is Michael Faraday (1791-1867) se proewe toe aanvaar is daar is geen verband tussen elektrisiteit en magnetisme nie. ’n Bevinding dat ’n kompasnaald onverklaarbaar effens beweeg in die nabyheid van ’n elektriese stroom, het Faraday aan die dink gesit.

Die godsdiensgroep waarvan hy ’n aktiewe lid was, het geglo alles in die kosmos word geometries gereguleer deur sirkelvormige patrone, byvoorbeeld: “Ek help jou, jy help ’n ander en so gaan dit sirkelvormend voort.”

Faraday het dié beginsel eksperimenteel toegepas en ontdek toe dat ’n loshangende draadjie in ’n sirkelpatroon begin beweeg in die nabyheid van ’n klein magneet en elektriese stroom. Sommige reken gelukkige toeval verklaar sulke ooreenstemmings. Wat beteken Faraday se kosmiese sirkelbeginsel stem bloot toevallig met die proewe se bevindings ooreen.

Waarskynlik is dit so. Tog is Faraday se ontdekking metafories “ingegee” deur die idee dat magnetisme en elektrisiteit ’n samehang het wat soos die sirkulêre godsdiensbeginsel funksioneer. Uit die “ingewing” het die latere ontwikkeling van die elektromagneet en die opwekking van elektrisiteit voortgevloei.

Dit wil lyk of die mens nie sonder metafore kan klaarkom nie.

Sonder hulle is die digters en verliefdes stom en die wetenskap verbeeldingloos. Metafore is nie maar net taalversierings nie. Hulle gee rigting aan ons dink en doen – met die passie van die hart en die verstand se suiwering.

  • Jordaan is ’n emeritus-professor in sielkunde.
Meer oor:  Wilhelm Jordaan  |  Lewe
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.