Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Die gemaskerde man teen Tafelberg

Murray La Vita skryf oor ’n jong man met ’n verskrompelde onderlyf, ’n atleet vol tatoeëermerke en ’n gemaskerde man wat elke dag teen Tafelberg uitstap om te gaan werk.

Murray La Vita op ’n staptog teen Tafelberg. Foto: Jane Solomon

Ek en my vriendin stap op die Tafelbergpad al langs die kontoer van die berg. Een van die groot donker poele (vol bergwater uit strome en watervalle) lyk vir my vaagweg bekend; ek kon moontlik jare gelede een Nuwejaarsdag daar geswem het.

My vriendin sê sy en haar vriende het (ook jare gelede) op somernagte warm gedans uit ’n klub in die stad hier kom swem en dan teruggekeer en verder gaan dans. Soms het hulle ook in die see gaan afkoel voordat hulle weer gaan dans het.

Die klub, wat die hele nag oop was, het Scratch geheet. Daar het veral reggae- en ska-musiek gespeel. Soms ook Talking Heads.

Ek vind dié mededeling lieflik. Daar is iets suiwers daaraan; iets onskuldigs, maar ook eroties – die laggende (kaal?) jong lywe in die bergwater.

Ons stap verder. My vriendin neurie die woorde van Talking Heads se “Psycho Killer”:

I can’t seem to face up to the facts

I’m tense and nervous and I can’t relax

I can’t sleep ’cause my bed’s on fire

Don’t touch me I’m a real live wire

Voor in die pad sien ons ’n groep jong mense by ’n paar groot betonversperrings waar die teerpad deels verkrummel en weggeval het. Wanneer ons nader kom, blyk dit ’n fotograaf en sy assistente te wees wat besig is om van ’n jong man foto’s te neem.

Iets lyk egter vreemd. Dan sien ons die onderlyf (bene) van die jong man waarop die groep se fokus gerig is, is skeefgetrek en verskrompel.

Ons stap verder sonder om te praat oor wat ons pas gesien het. Onder ons lê die stad uitgestrek. In Tafelbaai is verskeie skepe. Die lug is koel en skoon en ruik na fynbos. Die berg voel so naby aan ons. In ’n stadium staan ons stil en raak aan die wand daarvan.

Bloed

Wanneer ons later terugstap, is die groep jong mense en die man met die verskrompelde bene steeds daar. Die fotonemery is verby en hulle staan laggend en gesels. Die model (aantreklik: korterige, golwende bruin hare, egalige gelaatstrekke; sensuele mond) is op die grond met neffens hom ’n skaatsplank. Aan ’n deel van sy elmboog en welgevormde voorarm is bloed.

Ek sê aan my vriendin ek het jare gelede my enkel gebreek terwyl ek een Sondagmiddag saam met seuntjies sokker gespeel het. Plaatjies en skroewe is gebruik om die breuk te heg, wat later weer verwyder is. Die vorm van my kuit het effens verander weens die feit dat die been weke lank in gips was. Sy sê sy het dit nog nie agtergekom nie en sal ’n bietjie kyk wanneer sy weer my ontblote bene sien. Ek wonder by myself of ek dit vir haar moes vertel het.

Dit is al sterk skemer (die son het pas agter Leeukop in die see verdwyn) wanneer ons by die einde van die pad kom waar dit met ’n kabel afgesper is om dit vir motors ontoeganklik te maak.

Die jong man (met die verskrompelde bene) bereik die versperring min of meer dieselfde tyd as ons. Hy is op sy skaatsplank. Dan kom ’n ander jong man van agter by ons verbygehardloop. Hy is besonder atleties gebou en sy bene en blink geswete kaal bolyf is so te sê heeltemal met tatoeëermerke bedek.

Sonder om na die man op sy skaatsplank te kyk spring hy ligvoets oor die staalkabel. Ons sien hoe die skaatsplankryer stadig voortbeweeg tot by ’n ouerige wit motor waarvan hy die agterdeur oopmaak. Hoe hy in die motor klim, sien ons nie, want hy het getalm en met die motorwag gesels.

Isaac

’n Paar dae later stap ek saam met ’n vriend teen die berg. Wanneer ek ná ons staptog vertrek, sien ek die skraal motorwag. Hy sê sy naam is Isaac. Ek vra hom uit oor die jong man met wie hy nou die dag gesels het. Kom die man dikwels hierheen? Hy sê die man is van Namibië en hy het hom nog net dié een keer gesien.

Hy wat Isaac is, woon in Khayelitsha. Hy is ’n 53-jarige Kongolees met blink oë en werk al ’n hele paar jaar lank as motorwag op die berg. Dit is nou stil omdat die kabelkar gesluit is.

Hy haal die taxi op Kaapstad se stasiedek. En van daar af stap hy elke dag op teen Tafelberg – tot hier waar hy motors oppas, sê Isaac.

Isaac sê hy ry met ’n taxi van Khayelitsha af en terug sedert die busdiens opgeskort is weens die taxibestuurders se ontevredenheid daaroor omdat hulle dit as ’n bedreiging vir hul inkomste beskou.

Hy haal die taxi op Kaapstad se stasiedek. En van daar af stap hy elke dag op teen Tafelberg – tot hier waar hy motors oppas, sê Isaac.

Ek vra hom of hy ’n gesin in Khayelitsha het, maar weens die helderkleurige masker oor sy neus en mond kan ek nie mooi hoor wat hy sê nie.

* La Vita is 'n senior redaksielid van Netwerk24. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Meer oor:  Murray La Vita  |  Tafelberg  |  Khayelitsha
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.