Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Die genades in Tempe-week is nie toeval nie
Charles Smith

‘Elke September gaan jy in hierdie dip in . . . in hierdie gat van verwyt. Jy dink hoe jy hierdie skietery kon verhoed het. En hoeveel pyn jy kon gespaar het vir baie mense.”

Ons sit in Abrie Kleinhans (49), finansiële adviseur, se kantoor en gesels ure nadat hy homself vir die Tempe-slagting van 16 September 1999 vergewe het. Die loop van die skieter se R4-geweer was langs hom. As hy hom net vasgegryp het, het hy elke dag oor jare vir homself gesê. Vier jaar gelede het hy besluit hy kan nie só aangaan nie, hy het die kwessie in die hande van God geplaas.

Tant Tienie Coetzer, ma van maj. Jacques Coetzer wat dié dag doodgeskiet is, het ook aan my genoem van die worsteling waardeur sy elke jaar dié tyd gaan. “Ek gee myself elke jaar ’n week af in die dierbare September,” het sy gesê. Sy verjaar 17 September, noem dit sy haar “worsteldag ná Tempe se verjaardaggeskenk”.

Sy en Hannelize Nell, wat ’n dag nadat haar pa, Willie, doodgeskiet is, gebore is, verjaar op dieselfde dag. Ek volg Hannelize se storie van die dag van haar geboorte. Haar 20ste verjaardag Dinsdag sou stil wees, getemper deur verlange aan haar pa.

Ek het ook met Coetzer se dogter, Liani, gepraat. Sy was nog nie 2 met sy dood nie. Sy en Hannelize was albei in die Hoërskool Fichardtpark in Bloemfontein, maar het mekaar nie geken nie. Sy vertel toe hulle eenkeer vakansie hou by Aldam, kry sy kinders voor die huis. Sy hoor dit is kapt. Zirk Coetzee, wat ook saam met haar pa gesterf het, se kinders.

Liani vertel sy is so avontuurlustig soos haar pa. Sy sal graag nog soos hy valskerm wil spring.

Liani vertel sy is so avontuurlustig soos haar pa. Sy sal graag nog soos hy valskerm wil spring. Kort nadat ek op Facebook vra of iemand kan help, laat Waldo Krahenbuhl weet hy was ook Jacques Coetzer se vryval-instrukteur. Hy sal Liani graag vir ’n tandemsprong wil neem. Sy sal vry vlieg soos haar pa oor die Vrystaatse aarde. Ek het ook gevra of iemand vir Hannelize werk het en op haar verjaardag laat sy weet sy het werk gekry. Sy wil graag studeer, maar die geld is skraps.

Dinsdag laat op Hannelize en tant Tienie se verjaardag, ’n dag ná Tempe se herdenking, laat weet kol. Elsa van Wyk van die SANDF Education Trust dat die trust graag Hannelize en Liani se studiekoste wil betaal. Al kapt. Coetzee se kinders – Zirk, Clarissa en Marco – se studies word betaal. Ek stuur vir Liani die foto waar Zirk, wat sy by Aldam ontmoet het, op is. Hy voltooi ’n graad in sielkunde, net soos sy.

Ek dink aan maj. Annette Bothma, wie se vriend, ao. Reg Sieberhagen, ook dood is, se woorde: “Vergifnis is die enigste genesing.” Nadat ek en Cheréne Pienaar met Kleynhans gepraat het, verskyn die berigte oor hom en Bothma langs mekaar in Volksblad. Die opskrif voor lui: Paaie van vergifnis ná Tempe.

Gister laat Cheréne weet: Weet jy dit is vandag (18 September) Wêreld-vergifnisdag?

Nee, ek het glad nie geweet nie. Maar niks in dié paar dae was toeval nie.

Meer oor:  Genade  |  Tragedie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.