Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Die geskenk

No such thing as a free lunch.

My vriendin in ’n kusdorpie is die eienaar van ’n gastehuis.

“Ek kan al ’n boek skryf oor mense en hul gedragspatrone.

“Die grypsugtigheid. Die vermetelhede . . .” Sy bly stil. Sy laat haar selde emosioneel sterk uit oor mense.

“Die ergste keer was daardie mense wat ’n naweek as geskenk ontvang het. Man en vrou.

“Skaars gegroet met die aankoms en vertrek sonder om te groet. Die muesli-bak geplunder en al die vrugte in die eetkamer saamgeneem.”

Wat is die onderliggende en dus onsigbare geskenk tussen gee en ontvang?

Gee sonder om iets terug te verwag?

So neem ek jou – as gas – om jou te bedank vir alles na ’n vyfster-hotel op dieselfde kusdorpie.

Van meet af aan was alles verkeerd, volgens jou. Die kamer verkeerd gedekoreer. Die vloere ongelyk in die kamer. Die TV-kas vibreer wanneer ’n mens verby stap, mor jy. Ook die kos kritiseer jy. As goeie sjef laat ek jou begaan.

Net die wyn was nie gekurk nie. Wel buitensporig duur, volgens jou.

Die aand is ons bed toe. Jy keer jou rug op my nadat jy Visi gelees het.

Die volgende oggend met brekfis knor jy oor die koue, harde botter.

Toe ek die rekening vereffen loer jy skelm om te sien wat die geskenk gekos het. Miskien omdat jy as man voel ’n vrou kan nie vir jou betaal nie?

Net ás jy vir terapie betaal, werk dit. ’n Ou standpunt toegedig aan Freud.

Dieselfde geld geskenke. Het ek en die eienaar van die gastehuis iets anders verwag?

Dalk ’n onsigbare koepon van erkenning? Respek?

Tans wemel die stad van haweloses en bedelaars wat iets verwag.

“Waar is die skoene?” eis die bedelaar toe ’n vrou vir hom brood gee.

Altyd is daar ’n korrektief op ’n aanname.

’n Hawelose het vir hom ’n tentjie langs die park in Tamboerskloof opgeslaan. Reg oorkant my venster waar ek skryf.

Bedags slaan hy die tentjie op en plaas dit in rolle teen die draad.

Hy het ’n ou fietswieletjie as ’n soort tempeltjie opgerig en smiddae vee hy die straat skoon.

Soggens praat hy in tale. Volgens ’n taxi-bestuurder is hy ’n bietjie mallerig.

Toe ek hom vra wat hy hier maak, bely hy dat hierdie stad ’n geskenk van God is.

En dat hy elke oggend twee keer bid om genade. Dat hy soveel genade beleef ver van die Kongo.

En ek dink aan my ou vader, wat ook die gewoonte had om twee keer dankie te sê in gebed:

My pa sluit die deur twee keer

Twee keer altyd

tjekkereer my pa

die voordeur voor

ons na iewers vertrek.

Presies twee keer:

my pa tjekkereer

die slot van die deur

voor ons uitjek.

Geen bose magte betree

ons huis omdat my vader

presies ja presies twee keer

praat met sy hemelse Vader.

So verstaan ek geskenke beter nadat ek hierdie geskenk uit die hawelose se hand ontvang het.

Meer oor:  Joan Hambidge  |  Geskenk  |  Rubriek  |  Gebed
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.