Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Dié gesprekke is nooit voltooi nie

Afrikaanse kunstefeeste het in die nuwe bedeling tot een van die vernaamste ruimtes of platforms vir openbare diskoers ontwikkel.

Heindrich Wyngaard

Dit is bepaald so wat betref feeste in die suide – soos die Woordfees, KKNK en Suidoosterfees.

Ook dié in die noorde, soos Aardklop, en in die Vrystaat staan nie terug as dit by ’n gesprekkeprogram teenoor die aanbod van verhoogproduksies kom nie.

Sommige feesgangers woon dikwels slégs die gesprekke by, hoewel dit sekerlik nie ’n gewenste scenario vir feesorganiseerders kan wees nie.

Die kunste kan immers van ’n gesprekke­program alleen nie oorleef nie.

Waar in die vroeë dae van hierdie welkome verskynsel ’n mening bestaan het (of in sommige kringe dalk mistastend steeds) dat dit neerkom op ’n post-apartheid-laertrekkery, ’n elkeen-in-sy-hoekie-isolasie, is dit oor die jare bewys dat die gesprekkeprogram op feeste algaande tot ’n verryking van die noodsaaklikheid van nasionale gesprekvoering bydra.

Wat ongetwyfeld tot hierdie denkskuiwe aanleiding gegee het, is die diverse stemme wat deesdae aan gesprekke deelneem, asook die verskeidenheid onderwerpe wat ter sprake kom en waarvan die relevansie baie verder strek as slegs die 6,85 miljoen Afrikaanssprekende Suid-Afrikaners.

Hiervan, aldus die 2011-sensus, is meer as 50% bruin, omtrent 40% wit en byna 9% swart.

Teen 2031, deel Solidariteit se navorsingsinstituut ons mee, sal die totale Afrikaanse gemeenskap tot meer as 7 miljoen toeneem.

Daarom is dit ’n pluimpie vir die land en sy mense dat dit uiteindelik deur gesprekvoering was dat ons nader aan mekaar kon beweeg.

Die gesprekke op die feeste word lank nie meer net in Afrikaans gevoer nie. Dikwels word Engelssprekendes saam met Afrikaanssprekendes in een paneel ingesluit (en wie van ons trek nog neus op vir uitsluitlik Engelse gesprekke?)

Hierdie tendens is onmisbaar vir ’n land waar mense hopeloos te lank op grond van ras (én taal) geskei was en waar wetgewing selfs ’n invloed gehad het op die woordeskat wat tussen wit mense en die res toelaatbaar was.

Dit het ons tot in ons diepste wese van mekaar vervreem. Daarom is dit ’n pluimpie vir die land en sy mense dat dit uiteindelik deur gesprekvoering was dat ons nader aan mekaar kon beweeg en groter aanvaarding van ons medemenslikheid deesdae in die algemeen bestaan.

Maar dié nader beweeg en nader praat moet met die werklikheid rekening hou, want ons daaglikse ervarings (demografies, ekonomies en maatskaplik) is anders en word in vele opsigte nog bepaal deur die mate waarin die vrugte van ’n nuwe bestel, ’n beloofde beter lewe, jou geval.

Universele menseregte kan jou maag nie vul nie, en prysenswaardig soos wat die jaarlikse verhoging in maatskap­like toelaes ook al is, bring dit uiteindelik maar net maand-tot-maand-armoedeverligting mee.

Die samestellers van feeste se gesprekkeprogram moet dus altyd daarna strewe om deur die gekose onderwerpe ’n weerspieëling van ons gedeelde (verdeelde?) hedendaagse én historiese realiteite te bied.

Dít kan slegs gebeur as daar ook in die besluitnemingsproses ’n ingesteldheid en teenwoordigheid van denke, maar veral ’n sensitiwiteit teenoor hierdie aanhaling uit die aanhef van ons Grondwet bestaan:

“[Om] die verdeeldheid van die verlede te heel en ’n samelewing gegrond op demokratiese waardes, maatskaplike geregtigheid en basiese menseregte te skep.”

En dít kan nooit ’n afgehandelde taak wees nie.

  • Wyngaard is ’n vryskutjoernalis en ’n aanbieder van kykNET Verslag.
Meer oor:  Heindrich Wyngaard  |  Rassisme  |  Apartheid  |  Diversiteit
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.