Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Die gevaar van ’n enkele storie

Op die bekende Ted Talk-kanaal loop ek iets treffends raak. Vertel deur die merkwaardige Nigeriese skryfster Chimamanda Ngozi Adichie, deel ek met die leser haar persoonlike verhaal oor wat sy noem “Die gevaar van ’n enkele storie”:

Antoinette Louw

“Ek het Nigerië verlaat om universiteit toe te gaan in die VSA. Ek was 19. My Amerikaanse kamermaat was geskok . . . Sy’t gevra waar ek so goed Engels leer praat het en was verward toe ek sê dat Nigerië Engels as ’n amptelike taal het. Sy’t gevra of sy na my “stam­musiek” kan luister en was derhalwe uiters teleurgesteld toe ek my CD van Mariah Carey na vore bring.

“So, nadat ek ’n paar jaar in Amerika as ’n Afrikaan deurgebring het, het ek my kamermaat se reaksie begin verstaan. As ek nie in Nigerië grootgeword het nie, en as ál wat ek van Afrika geweet het van populêre beelde kom, sou ek ook gedink het Afrika is ’n plek met pragtige landskappe, pragtige diere en onverstandige mense. Mense wat in sinlose oorloë veg. Wat sterf van armoede en vigs. Wat nie in staat is om vir hulself te praat nie. Wat wag om gered te word deur ’n goedige wit buitelander.

“En dis hoe jy ’n enkele storie skep. Wys ’n groep mense as een ding, en slegs een ding oor en oor, en dit is wat hulle word.

“Onlangs het ek by ’n universiteit gepraat waar ’n student vir my gesê het dis so ’n skande dat Nigeriese mans sulke fisiese mishandelaars is soos die pa-karakter in my boek. Ek het vir hom gesê ek het pas ’n boek gelees met die naam American Psycho . . . en dis so ’n skande dat Amerikaanse mans reeksmoordenaars is. Dit sou nooit by my opgekom het om te dink dat net omdat ek ’n boek gelees het waar ’n karakter ’n reeksmoordenaar is, dat hy verteenwoordigend van álle Amerikaanse mans is nie.

“En dis nie omdat ek dink ek ’n beter mens as daardie student is nie.

“Maar as gevolg van Amerika se kulturele en ekonomiese mag het ek baie stories oor Amerika tot my beskikking gehad. Ek het Tyler en Updike en Steinbeck en Gaitskill gelees. Ek het nie net één storie oor Amerika gehad nie.

Stories kan mense se waardigheid verpletter. Maar stories kan ook daardie gebroke waardigheid heelmaak.

“Ek het nog altyd gevoel dat dit onmoontlik is om waarlik by ’n plek of met ’n persoon gemoeid te wees sonder om by ál die stories van daardie plek of daardie persoon betrokke te wees.

“Die gevolg van ’n enkele storie is: Dit beroof mense van waardigheid.

“Dit bemoeilik ons herkenning – die raaksien – van ons gelyke menslikheid.

“Dit beklemtoon hoe ons van mekaar verskil, eerder as ons raakpunte.

“Stories is belangrik . . . Menigvuldige stories is belangrik.

“Stories is al gebruik om te ontneem en te beswadder. Maar stories kan ook gebruik word om te bemagtig en te vermenslik.

“Stories kan mense se waardigheid verpletter. Maar stories kan ook daardie gebroke waardigheid heelmaak.”

Liewe leser: Wat is jóú storie? Oor jouself.

Maar veral: Oor ’n ander?

Meer oor:  Antoinette Louw  |  Menings  |  Rubrieke
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.