Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Die glyskaal tussen korona en hongersnood
Annelie Botes

As iemand my oor Kerstyd ’n weddenskap van R10 000 aangegaan het dat die wêreld binne tien weke in bykans alle fasette dramaties sou verander, sou ek dit as wetenskapsfiksie beskou het. Of ’n versteurde mens se vergesigte. Ek sou R10 000 by die gryse afgelek het, want ek sou my kop op ’n blok sit my wedgeld gaan verdubbel.

Maar terwyl ek hier skryf, sê die internet daar is in tien weke ’n kwartmiljoen Covid-19-gevalle aangemeld, met meer as 15 000 sterftes. As die virus hardnekkig vasklou en my somme is reg, gaan daar in 2020 naby aan 1,5 miljoen gevalle wees en 50 000 sterftes.

Terwyl die virus wêreldwyd ongekende skommelings tot op voetsoolvlak meebring, gewaar ek nêrens in die media ’n woord oor die snakkende hongersnood wat in die wêreld heers nie. Dit blyk nie nuuswaardig te wees nie en laat nie die aarde bykans tot stilstand knars nie.

Tog steek dit die virus op massiewe skaal verby. Elke 15 sekondes sterf ’n kind iewers in die wêreld van honger. Elke dag sterf 25 000 mense van honger – dis 9 miljoen per jaar. Ons begryp niks van die lyding om ná drie of vier weke sonder kos op jou knieë grond toe te sak nie.

Een uit vier kinders beleef vertraagde groei en ly voor hulle eerste skooljaar onder langtermyn­effekte weens ’n voedseltekort. Boonop is daar ongeveer 67 miljoen kinders wat nie skool toe gaan nie en by die huis bly om ’n hand by te sit met ’n skamele inkomste vir die gesin.

Geen pandemie word aangekondig nie. Hulle sterf soos dunribbeshonde.

Vir húlle word lughawens nie gesluit nie. Regerings bewillig nie steierende bedrae tot redding nie. Geen pandemie word aangekondig nie. Hulle sterf soos dunribbeshonde.

Google gerus “The vulture and the little girl” en jy sal ’n afgryslike toneel sien wat die Suid-Afrikaanse fotograaf Kevin Carter in 1993 in Soedan vasgelê het.

Vier maande nadat hy die Pulitzerprys daarvoor ontvang het, het hy homself om die lewe gebring. In ’n laaste nota het hy gesê daar bestaan nie meer vir hom iets soos vreugde nie.

In Brittanje word daagliks 2 miljoen bruikbare eiers weggegooi weens hul “Best before”-datums. Élke dag 1 miljoen brode, want dis oud. En dis net brood en eiers. Een kwart van die wêreld se landbougrond word gebruik om meer as ’n miljard ton kos te produseer wat op ashope beland.

My brein is te klein om te raai hoe hoog ’n miljard ton kos is as dit opgestapel word, of hoeveel stede daaronder begrawe kan word. Dit, terwyl daar elke 15 sekondes ’n honger kind neersak en sterf.

Dis ’n raaisel waarom hongersnood weinig publisiteit en aandag kry. In ’n soektog na antwoorde is daar een slotsom wat uitstaan: Magnate, konings en supersterre kán sterf van die koronavirus en dis sensasionele voorbladnuus.

Verhongerde armes met opgeblase mae en oopgesperde oë is nie verkoopbare nuusmakers nie. Óns – ek en jy – vind geen sensasie of behae daarin om daarvan te hoor nie.

Meer oor:  Annelie Botes  |  Covid  |  Koronavirus  |  Hongersnood  |  Glyskaal
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.