Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Dié griep vergete in mis van tyd
Johannes Froneman

Die Groot Griep van 1918 lê nog diep in die kollektiewe geheue van Suid-Afrikaners, skryf prof. Philip Spies onlangs in ’n artikel. Dalk wel by sommige.

Want om die een of ander rede is dié aardskuddende gebeure 100 jaar gelede nie ’n prominent opgetekende baken in ons geskiedenis nie. Onthou: Tot 300 000 mense is in Suid-Afrika dood. Wêreldwyd dalk 50 miljoen.

My aanvanklik soektog in ’n paar stewige werke oor ons geskiedenis het min opgelewer. In prof. Hermann Giliomee se Die Afrikaners kon ek in die register geen verwysing na Griep, Groot Griep of Spaanse Griep kry nie. Die Geskiedenis van Suid-Afrika – Van voortye tot nou (onder redaksie van prof. Frans-johan Pretorius) lewer eweneens nie ’n enkele verwysing op nie.

In Giliomee en Bernard Mbenga se Nuwe geskiedenis van Suid-Afrika is daar wel ’n kassie. Die gedenkboek NG Kerk 350 het drie verwysings, waarvan een noem dat die gebruik van kelkies met Nagmaal van dié tydperk dateer. Dat die NG Kerk groot werk gedoen het om kinders te versorg wie se ouers in die pandemie dood is, loop ek nie in die gedenkboek se “beknopte register” raak nie. Wiki­pedia noem dit wel.

Selfs C.F.J. Muller se Sonop in die suide, ’n uitermate deeglike boek van 800 bladsy oor Nasionale Pers, het net enkele verwysings daarna – meestal oor D.C. Boonzaier se tekenprente.

Die Universiteit Stellenbosch se Eeufeesboek noem die griep byna terloops: Ses studente het weens die griep gesterf, die akademiese jaar is vir twee maande gestaak en eksamens is selfs ná Kersfees eers geskryf.

My eie navorsing oor die Stellenbosse studentegeskiedenis het net enkele brokkies opgelewer, naamlik dat studente self noodsaaklike dienste aan die gang moes help hou; dat die opwinding van die nuwe era as universiteit effe deur die griep gedemp is; dat die Stellenbosse “Dingaansfees” (nou Versoeningsdag), wat gewoonlik buite die akademiese jaar geval het, in 1918 vir die eerste keer deur die studente bygewoon is; en dat die studenteraad geld bewillig het vir die oprigting van ’n gedenksteen vir gevalle dosente en studente.

Een historiese werk in Afrikaans gee wel gepaste aandag aan die 1918-griep. Die pragtig versorgde 1915-2015 Die Burger 100. Sy mense en hul stories (onder redaksie van Bun Booyens en Aldi Schoeman) bevat Johannes Steinmeyer se weergawe van hoe twee redaksielede Die Burger eiehandig moes uitgee.

Daar is dus ernstige navorsing oor die 1918-griep gedoen, maar dit duik nie prominent op in algemene geskiedenisse nie.

Prof. Fransjohan Pretorius het onlangs die 1918-griep in ’n insiggewende rubriek in Beeld saamgevat en my by navraag verwys na die groot Suid-Afrikaanse kenner daaroor, prof. Howard Phillips. Dié het ’n proefskrif en etlike artikels oor die redes en impak van die Groot Griep op Suid-Afrika geskryf.

Daar is dus ernstige navorsing oor die 1918-griep gedoen, maar dit duik nie prominent op in algemene geskiedenisse nie.

Phillips het in 1984 in die slothoofstuk van sy proefskrif gevra: Waarom het historici so min aandag daaraan gegee? Een rede, sê hy, is die klem op politieke en ekonomiese geskiedenis. So­siale geskiedenis bly in die proses in die slag. En wanneer oor mediese sake geskryf is, word eerder op vooruitgang as ’n mislukking gefokus.

Maar die impak van die grieppandemie was omvattend: Die demografie van Suid-Afrika is, volgens Phillips, fundamenteel verander. Dit het die staat Suid-Afrika, toe maar enkele jare oud, administratief help vorm.

  • Belangriker: Dit het mense tot in hul siel geskok. Kom ons hoop op ’n minder traumatiese ervaring, maar ’n nodige herbesinning oor wat werklik belangrik is. Dit sal optekenbaar wees.
Meer oor:  Johannes Froneman  |  Pandemie  |  Groot Griep  |  Covid 19  |  Koronavirus
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.