Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Die Groot Griep en ‘De Burger’
De Burger se spotprentkunstenaar D.C. Boonzaier het dié prent in Oktober 1918 geteken toe die Groot Griep honderde duisende lewens in Kaapstad geëis het. Dit was ’n weergawe in beeld van die treffende woorde van Psalm 91:6: “ . . . de pestilentie, die in de donkerheid wandelt, . . . het verderf, dat op den middag verwoest.”

Die Spaanse griep of influensa het teen die einde van die Wêreldoorlog uitgebreek en oor die hele wêreld versprei as ’n epidemie wat miljoene menselewens opgeëis het.

Die siekte het wel epidemies in Europa geheers, maar die berigte daaroor was van ’n aard wat nie aan die noodsaaklikheid van streng voorbehoedmaatreëls laat dink het nie.

Die oorlog aan die Wesfront in Noord-Frankryk het toe reeds sy kritieke stadium vir die Sentrale Moondhede ingetree en alle aandag was gevestig op die beslissende slag wat daar gelewer is. Die Spaanse influensa is in die buitelandse berigte verwaarloos.

Skepe met siektegevalle aan boord het in Kaapstad aangekom en siekes sowel as besmettes is ongehinderd toegelaat om aan wal te stap. Niemand het trouens voorsien, niemand kon voorsien het, dat die epidemie so ’n houvas op ons land sou kry nie.

De Burger is ook ernstig getref. Die uitgawes is beperk tot vier bladsye.

Die gevolge was ontsettend. In Kaapstad alleen is die aantal sterfgevalle by benadering vasgestel op 5 500 binne die tyd van enkele weke. Op 4 Oktober 1918 het in De Burger onder die deftige opskrif “Spaanse Influensa” enkele wenke tot bestryding van die siekte verskyn: soveel moontlike vars lug, rustig bly en siekes vermy.

Die epidemie het toe al straf gewoed. In ’n nuusberig is vermeld dat van die stad se 960 telegrambestellers nog net sewe diens kon doen; dat broodbakkerye swaar kry omdat soveel bakkers siek was; dat van die tremdiens ongeveer 160 man siek gelê het; dat enkele fabrieke die werk gestaak het weens ’n aansienlike tekort aan die allernoodsaaklikste werkkragte.

De Burger is ook ernstig getref. Die uitgawes is beperk tot vier bladsye en op 7 Oktober het die volgende mededelings verskyn:

“By De Burger lê die Algemene Bestuurder, mnr. Fred Dormehl, in die bed. By die redaksie is van die agt lede op die oomblik slegs drie in die werk: hoofredakteur, assistent-hoofredakteur en ’n sub-redakteur.

“Die twee laasgenoemdes los mekaar dag en nag af en moet die werk van ’n sub-redakteur en ’n paar rapporteurs gelyk doen.

“Van die Administrasie is omtrent die helfte aangetas. Tog gaan een van die klerke snags die stoomketel stook om lood vir die setmasjiene te smelt. ’n Ander help by die rotasiepers. As hy tot vyfuur in die oggend gewerk het, is hy ook nege-uur weer op sy pos in die kantoor, want ook die Administrasie het veels te min mense.

“Daar was die laaste paar nagte niemand om die rotasiepers te werk nie. Die werksbestuurder moes dit self doen, maar aangesien hy ook siek was, moes hy daarvoor elke aand uit die bed opstaan.

De Burger het ’n beroep op sy intekenaars gedoen om foute en tekortkomings deur die vingers te sien.

“By die versendingspersoneel was dit nog die ergste; daar het feitlik almal makeer. Tydelike hulp is ingeroep, maar ook van die tydelike helpers makeer elke aand weer ’n paar. Die laaste van die matrysmakers moes huistoe gaan, want as ons nie bevoegde hulp kry nie, sal die koerant op die vlakpers afgedruk moet word.”

De Burger het ’n beroep op sy intekenaars gedoen om foute en tekortkomings deur die vingers te sien. Die toestand kan nouliks slegter geword het. Maar dit het slegter geword, heelwat slegter. Die koerant het darem elke dag verskyn.

Die assistent-hoofredakteur het ernstig siek geword. Toe bly net die hoofredakteur en ek as sub oor. Die hoofredakteur het die inleidingsartikels geskryf; die sub het al die ander werk versorg. Advertensies was dun gesaai, die koerant is met ’n klein letter gedruk. Die opskrifte was tot ’n minimum beperk.

Min telegramme en kabelgramme is ontvang, want die [pos]kantore het niemand gehad om die berigte by ons te besorg nie. Dus moes die sub-redakteur daarsonder bly en met ander kopie die koerant vol maak.

Tot die werksaamhede van die sub het toe behoort – seker die enigste keer in die geskiedenis van die koerant – om artikels te skryf oor die beste middels wat aangewend kon word tot herstel van siekes, tot voorkoming van besmetting; kortom doktersartikels.

De Burger se lesers het op wenke aangedring en plaaslike geneeshere, vir sover hulle nie self siek was nie, het hoegenaamd geen tyd vir sulke werk gehad nie.

Die redaksiekantoor was verlate. ’n Huiweringwekkend doodse stilte het daar geheers.

Die redaksiekantoor was verlate. ’n Huiweringwekkend doodse stilte het daar geheers. Af en toe is die doodsheid onderbreek; nie deur straatgewoel nie, want op straat was omtrent niks te doen nie.

Die meeste winkels was toe, slegs nou en dan het ’n trem gery; melk, brood, vleis, kruideniersware, groente is nie aan die huise afgelewer nie.

Die grootste deel van die verkeer het bestaan uit lykstasies wat allesbehalwe stadig en statig gery het. Daarvoor was die begrafnisondernemers te bedrywig. Hulle was só toe onder die werk dat dit dag en nag moes voortgaan. Een van die ondernemers het meegedeel dat hy meer as honderd begrafnisse per dag moes waarneem.

Aan De Burger is die versoek gerig om ’n slag te kom kyk hoe dit op die begraafplase toegaan. Maar De Burger het geen verslaggewer gehad om te gaan kyk nie.

In die gebou was dit angstig stil. Langs ons gebou in die Venkenlaan, was die dodehuis gevestig. Om Kaapstad ’n nog verskrikliker epidemie te bespaar, het mediese en ander studente dae lank Kaapstad se volksbuurte gefynkam, van huis tot huis gegaan om uit te vind waar dooies was.

Daar was nie kans om die voorgeskrewe aangifte van sterfgevalle te doen nie. Die studente het aantekening van die adresse gemaak en op een en dieselfde dag is al die oorledenes uit die huise weggehaal en na die dodehuis in Venkenlaan vervoer. Die plek was veels te klein om al die lyke te bevat. Die paar vertrekke het vol gelê met op mekaar gestapelde dooies.

’n Poging is gedoen om die lyke te kis. Dit sou darem te lank geduur het.

’n Poging is gedoen om die lyke te kis. Dit sou darem te lank geduur het. ’n Groot getal van die spoorweg se vragwaens is gekommandeer. Elk van die waens is vol lyke gelaai en met bokseile toegemaak. Die vol waens het in Keeromstraat op ’n streep gestaan, reg onder die vensters van die redaksiekantoor. Vlieë was so volop dat die vensters toegemaak moes word. Die lykreuk was verskriklik. Die hele toneel was gruwelik.

Daar was ander onderbrekings. Mense het in hul angs met allerlei rate wat dadelik gepubliseer moes word, na die kantoor van De Burger gekom. Dikwels was dit mense wat reeds self deur die siekte aangetas was, maar dit nie wou weet nie.

Een oggend stap ’n jong man die kantoor binne. Hy was opgewonde, sy gesig rooi en opgeswel, sy oë verwilder. Hy het geril van die koors en was ylhoofdig.

Sonder om te groet of hom bekend te stel, gaan hy sit en vertel van sy onfeilbare middel teen die siekte. Die dokters was volgens hom heeltemal op die verkeerde pad.

Hy self het longontsteking, maar hy gee nie om nie. In die kooi bly is dodelik; ’n mens moet in die vars lug gaan en aanhou diep asemhaal.

Hy was self op pad buitekant die stad toe om die regte vars lug te kry. En daarna sou hy gesond en fris terugkeer. Die koerant moes tog dadelik die probate middel alom bekend maak. Vars lug, vars lug en diep asemhaal!

Dit was die ylhoofdige man se laaste woorde. Hy het nie ver gekom nie. Op straat het hy geval en bly lê. Hy was gelukkig om deur ’n ambulans opgetel te word – heelwat ander siekes moes maar bly lê waar hulle geval het – en na ’n hospitaal vervoer te word. Daar het hy gesterf.

Op 20 Oktober is mnr. Fred Dormehl, ons Algemene Bestuurder, oorlede, ’n onherstelbare verlies vir die Nasionale Pers.

Op 11 Oktober het ons die berig ontvang van die oorlye van ons kollega C.L.J. Ruysch van Dugteren, ’n groot verlies vir die redaksie van De Burger en Die Huisgenoot.

Hierdie verkorte uittreksel uit Johannes Steinmeyer se outobiografie, Spykers met Koppe (1946), het oorspronklik in Die Burger 100 – Sy mense en hul stories 1915-2015 (2017) verskyn.

Ons matrysmaker, Wilkie, het longontsteking gehad. Hy het darem kom werk, want hy wou die siekte doodbrand. Toe die vuur onder die stoomketel goed brand, het hy die deurtjie oopgeruk, sy bors ontbloot en so na moontlik aan die vuur gaan staan. Hy wou die siekte uit sy bors uit brand. Die volgende dag is Wilkie begrawe.

Op 20 Oktober is mnr. Fred Dormehl, ons Algemene Bestuurder, oorlede, ’n onherstelbare verlies vir die Nasionale Pers.

Teen hierdie tyd het die epidemie uitgewoed geraak. Ons tweede sub-redakteur het na sy werk teruggekeer, juis toe ek van al die ellende en te veel werk tekens begin gee dat ek nie baie langer sal kan volhou nie. Meer redaksielede het hulle op die kantoor vertoon en teen 28 Oktober het sowel Kaapstad as De Burger tot sy normale toestand teruggekeer.

Op 2 November verskyn die koerant weer met ses bladsye. Redaksie, administrasie en tegniese personeel was weer voltallig aan die werk. Die griep was verby, maar die ondervinding in die paar weke opgedoen, het onvergeetlik gebly.

Meer oor:  Joernaliste  |  Influenza  |  Spaanse Griep  |  Groot Griep
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.