Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Die groot mite van 2018 onthul

Die groot (politieke) mite van 2018 is dat elke regdenkende in die komende maande moet ANC stem.

Want ’n sterk ANC gaan kwansuis vir pres. Cyril Ramaphosa sterk hou om te doen wat hy moet en duidelik wil doen.

Dit is loutere onsin.

Barnard Beukman

Maar kom ons beskou 2018 se politieke betekenis eers van ’n kant af. Dit was ’n belangrike en groot jaar, Jacob Zuma is immers stert tussen die bene uit die presidentskap verjaag.

Dit was ’n belangrike oorwinning oor staatskaping en die berekende aanstoking van rassehaat (lees die Guptas en Bell Pottinger).

Lanklaas het ’n hele burgerlike samelewing so verenig teen ’n president en was die geveg teen hom soveel te meer buite die ANC en politieke arena as daar binne. Die heldeverhale van veral swart regters, joernaliste, amptenare en meer wat te midde van erge intimidasie aanhou staan het vir demokratiese waardes en die waarheid, moet nog vertel word. (Sal ons ooit weet wie die diepkele agter die Gupta-e-pos was?)

Maar eers in 2018 sou die omvang van die blatante diefstal van staatsgeld in bedrae van honderdmiljoene ons tref. Ongeag die gevolge is armes se diensleweringsgeld herkanaliseer na die sakke van ’n magselite wat geskuil het agter nog ’n mite: dat hul sogenaamde bevrydingstryd om ’n beter lewe vir almal was.

Hoe moreel bankrot dit die ANC gelaat het, is die laaste paar dae weer bewys toe talle voorste staatskapers en misdadigers weer deur partystrukture hoog op die kandidatelyste geplaas is. Dit sluit selfs twee vermeende veediewe in – wat beeste wat vir arm opkomende boere bestem is, glo by Nkandla laat aflaai het: Supra Mahumapelo en die einste Zuma. En die Watergate-minister, wie se konkelwerk Gauteng en omstreke nou op die rand van minstens ’n halwe dekade van watertekorte gebring het. Só kan ’n mens aangaan. Is die vrou-aanrander ook weer daar?

Nooit ooit kan die versterking van so ’n beweging op enige manier enigiets wat goed is bevorder of versterk nie.

Ook nie vir Ramaphosa nie.

’n Te sterk ANC gaan meebring dat te veel van die ongewenstes ook weer in wetgewende koukusse sit en juis die wêreld stap vir stap vir hom nóg moeiliker maak. Sy kamp het volgens aanduidings goeie verteenwoordiging in die hoogste dele van die kandidatelyste. Met nie meer nie as sowat 55% van die stemme kan hulle ’n oorhand behou. En die ANC gaan dit redelik maklik kry.

Verskeie onlangse gesprekke uit sy hoogste binnekring bevestig ook dat hy dinge nog heelwat verder gaan voer as tot nou toe.

So moenie te veel wroeg oor ’n stem vir die ouens wat psigiatriese pasiënte – sommige op oop bakkies – laat wegry het na ’n dood deur verwaarlosing nie.

Ramaphosa as president van die land en met sy verklaarde beleidsplanne vir ekonomiese groei is grootliks op die regte pad. Daarvoor kry hy ook gereeld ondersteuning en erkenning van Beeld.

Verskeie onlangse gesprekke uit sy hoogste binnekring bevestig ook dat hy dinge nog heelwat verder gaan voer as tot nou toe. Hulle is onder die indruk dat hy ná die verkiesing net twee en ’n halfjaar oor het tot die volgende ANC-leierskongres. Die plan is dus ’n soort blitzkrieg van groot ingrypings net ná die verkiesing met dan twee jaar om te wys dit was die regte ding.

Hulle glo hy het reeds ’n werkbare meerderheid in die ANC-leierskorps geskep, al het hy dit nie noodwendig dadelik geërf nie. Daarom was dit vir ’n tyd nodig om versigtig te trap.

Ramaphosa se sukses sal gevorm moet word deur ’n koalisie van belange wat veel wyer strek as die ANC of die politiek. En dit sluit die breë burgerlike samelewing in. Is dit ’n noodwendige resep vir sukses? Net die tyd sal leer.

Maar alle moontlike stemme vir die ANC is noodwendig ’n ramp.

Meer oor:  Barnard Beukman
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.