Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Die grootste rykdom is gemoedsvrede
Annelie Botes in haar tuin in Port Elizabeth. Foto: Salvileo Meyer

Omdat die gryse met pensioen is, en ek ieder geval van die huis af werk, is die bunkertyd nie vir ons so ’n ontwrigting nie. Inteendeel, ons baat by die stadiger pas.

Omdat ons vir maande nêrens kon gaan brekfis nie, het die stoeptafel ons plek van brekfiskuier, bosberaad en uitpluising geword.

In die afgelope twee dekades het ons nie so dikwels oor ’n pot koudgeworde bossietee met mekaar gesels soos sedert einde Maart nie. Amper asof ons mekaar se wense, drome en herinneringe opnuut ontdek het.

As ’n mens vir 43 jaar dieselfde kospotte, botterbak, stort en vakansierondawel deel, verloor jy naderhand jou deernis; alles word vanselfsprekend. Jy wis nie meer wat is in jou maat se wens-emmertjie nie. Solank elke dag met die minste krisisse afloop, is alles skote Petoors. Laat slapende honde liewer slaap.

Die kruksvrae wat ons by die stoeptafel vir mekaar gevra het, is: Wat maak ons bymekaar? Wat het vir óns ewigheidswaarde? Watter stippelkleine nalatenskap wil ons vir die wêreld agterlaat? Hoeveel tyd het ons oor waarin ons fisieke vermoëns ons sal toelaat om sommige van ons wens-emmertjiedrome te verwesenlik? Wat sal of kan ons finansies toelaat? Met watter bedrywighede wil ons ons glad nié verder bemoei nie?

Dit was taai vrae. Saam met die antwoorde moes ons ’n soort van beplanningsraamwerk skep. En tog, uiteindelik was die items in ons emmertjies so simplisties.

Ons wil lekker eet, voor ons eetlus verdwyn. Voëls en bye voer tot ons kragte faal.

Ons wil die moerbeibome wat ons met ons eie hande in die kompleks geplant het, versorg en sien grootword sodat die volgende geslag kinders sywurms kan aanhou. Ons wil lekker eet, voor ons eetlus verdwyn. Voëls en bye voer tot ons kragte faal. Ons jong grenadella ’n malse vrag sien dra. Met ons eie tande in ons monde sterf. Vier legkaarte wat al jare weggepak is, bou en laat raam, sodat ons eendag kan sê: Onthou jy nog die jare toe ons oë helder kon sien?

Dalk word ons geseën met die voorreg om deur Italië te toer met ’n motorhome. Of om voor die Taj Mahal vriendskapsringe te ruil. As ons wikkel, kan ons dit haal om met ’n motorfiets in die berge van Indië rond te ry.

Met die glyende ekonomie en die koronaduiwel wat nog lánk met die wêreld sal wees, moet ons dalk daardie groot goeters vaarwel toeroep en berus. Eerder wintertyd met ’n motorhome deur Namibië toer. Of ’n legkaart bou van die Taj Mahal, en ons ring-seremonie op die stoep voltrek. Boweal wil ons gemoedsvrede bymekaarmaak. As ons eendag dáármee op die ouetehuisstoep sit, het ons die grootste van alle rykdomme versamel.

Waarmee ons ons nié wil bemoei in ons herfsjare nie, is vegtende komitees, valse vriende, geldgedrewenheid, dwepers en dwarstrekkers. En obsternaat soos dit dalk klink, wil ons nooit weer kerk toe gaan nie.

Hopelik sal ons altyd terugkyk na die bunkertyd en die knusse stoeptye herroep.

Meer oor:  Annelie Botes  |  Rykdom  |  Terugblik  |  Lewensuitkyk  |  Gemoedsvrede
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.