Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Die haan het gekraai vir JZ

Op 12 Januarie 2013 het Joseph Ratzinger, ook bekend as die rottweiler van God, amptelik die tuig neergelê as pous van die Rooms-Katolieke Kerk. Pous Benedictus XVI, die naam wat Ratzinger aangeneem het toe hy sy intrek in die Vatikaan geneem het, se siekte het hom getap. Die man wat eens die Vatikaan met ’n ysterhand regeer het, was nou ’n eensame figuur.

’n Duitse dagblad was so in ekstase oor pous Benedictus XVI se bedanking dat hy sy voorblad skoongemaak het met net die opskrif: “Gott sei Dank.

Johann Maarman

Onderaan die voorblad was net die twee leerskoene van die pous.

Dis waarskynlik min of meer hoe Suid-Afrika ook vanoggend voel oor die nuus dat pres. Jacob Zuma deur die ANC uitgeskuif gaan word as staatshoof.

Soos daardie Duitse dagblad dit uitgebasuin het met Ratzinger se vertrek, is dit Suid-Afrika se Gott sei Dank-oomblik. Die haan is hier aan die kraai, en wie ore en ’n gewete het, moet hoor.

Die twee leerskoene van pous Benedictus XVI kan net vervang word deur ’n stortkop of twee.

Die man wat die ANC geregeer het asof dit sy persoonlike koninkryk was, is nou soos die spreekwoordelike lam wat ter slagting gelei word. Die jagter het nou die gejagte geword. Die spreekwoordelike mes is teen Zuma se keel.

Dit was onder Zuma se presidentskap dat die mistiek wat die ANC omring het, heeltemal verdwyn het. Die warmte wat ’n mens ervaar het tydens oudpres. Nelson Mandela se bewind het plek gemaak vir die yskoue onder Zuma.

Zuma is as ’t ware nou ’n gekettingde gevangene van sy eie maaksel.

Dit was onder sy bewind dat die ANC ’n erge statusverlies ondervind het omdat Zuma en sy politieke kartel remmeloos korrupsie laat voorstu het en swart ekonomiese bemagtiging as die kodewoord gebruik het vir nepotisme.

Die populistiese Zuma met sy onpeilbaarheid en Zen-agtige kalmte het geen ooglid of vinger verroer om hierdie land hoop te gee nie.

Mense selfs aan ANC-boesem het die laaste paar jaar eenvoudig nie meer die sin en rigting van die ANC verstaan nie. Die vibrasie dat hulle eenvoudig keelvol was vir Zuma, kon met ’n stok aangevoel word, want Nommer Een kon nie die elektrisiteit van ’n groter visie vir die land sterker laai nie omdat hy draaie oor belangrike knelpunte geloop of hom eenvoudig net nie aan raad gesteur het nie.

Zuma is as ’t ware nou ’n gekettingde gevangene van sy eie maaksel. En ’n mens hoef geen traan oor hom te stort nie.

Daar sit mense in die ANC wat hom gesteun het in sy verdeel-en-heers- strategie, maar wat nou, heel waarskynlik, hul kamma-trane van verdriet met die een hand afvee terwyl hulle deel is van die jurie teen die stomme Zuma.

Zuma was ’n politieke bullebak wat ministers wat dit durf waag het om hom teen te gaan, in die nag afgedank het.

Dit wil voorkom asof Cyril Ramaphosa nie hier en daar gaan kiep-kiep oor Suid-Afrika se uitdagings nie. Met die aanwysing van die nuwe Eskom-direksie is dit duidelik dat Ramaphosa sy hand gouer op die hefbome wil kry.

Maar dit sal hom en die nuwe bewindhebbers in Luthuli-huis niks help as hulle nie ook van Zuma se kohorte ontslae raak nie.

Ramaphosa sal diep moet sny, want hy kan nie toelaat dat die Zuma-meelopers ongeskonde uit hierdie episode stap en maak asof alles net dooddollies is nie.

Zuma was ’n politieke bullebak wat ministers wat dit durf waag het om hom teen te gaan, in die nag afgedank het. Nou is dit sy beurt om afgedank te word. Dit maak nie saak of hy in die nag of dag herroep word nie – laat hy net in hemelsnaam gaan.

En dan sal ons ook sê: Gott sei Dank.

Meer oor:  Pres.Jacob Zuma  |  Johann Maarman  |  Rubriek  |  Menings  |  Politiek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.