Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Die hartseerste woord in die woordeboek

Een van my gesin se gunstelingprogramme op televisie is MasterChef Australia. Ek is nie daar (op die sitkamerbank) om my kook- of opdienvernuf op te knap nie. Die spanning is ook nie my ding nie.

Keina Swart
Keina Swart

Inteendeel, ek hou sommer op kyk van pure trauma wanneer iemand se vingers op ’n warm stoofplaat of in die pad van ’n skerp lem beland.

Ek is suiwer daar om te kyk watter een van sy meer as 400 krawatte Matt Preston, een van die beoordelaars, vanaand dra. Sodra Matt op die televisieskerm verskyn, sal een van my kinders dadelik spottend laat hoor: “Hoor nou vir Mamma. Sy gaan dit nou sê. Sy gaan dit nóú sê . . .”

En dan sê ek dit: “Ag julle, kyk net Matt se krawat. Kyk net sy pragtige, prágtige krawat.”

Aan die begin moes ek vir hulle die woord ’n paar keer herhaal. Krawat. Nee, nie “karwats” nie. “Cravat” in Engels.

Ja, natuurlik is daar nog mense wat dit dra. Dit is soos ’n das, maar báie deftiger. ’n Lappie wat om die nek gedra en losserig by ’n oopnekhemp ingesteek word. Mettertyd het ek ophou skerm vir Matt en vir krawatte in die algemeen. Ek is nie die internasionale woordvoerder of kampvegter vir krawatte nie. En ek is redelik seker nie ek óf Matt gaan ooit die manne in my huis oortuig kry om ’n krawat te dra nie. Al wat ek reggekry het, is om vir hulle ’n nuwe woord te leer.

Krawat. ’n Kragwoord vir my. ’n Onthouwoord. ’n Huilwoord. ’n Treurwoord.

My pa was ’n boer. Een met growwe hande, wit bene en bruin arms. En hy het soms ’n krawat gedra.

Want sien, ek het ook eens op ’n tyd — so lankal terug dat ek soms sukkel om die dekades te tel — ’n pa gehad. Hy was die grootste deel van sy lewe ’n boer. Een met growwe hande, wit bene en bruingebrande arms.

Iemand wat nie erg gehad het aan klatergoud of Blink Stefaanse nie. Een wat vlot Sotho, Venda en Tsonga kon praat, en Geloftefeesdienste en boereverenigingvergaderings bygewoon het. Een wat Kent gij dat volk? se woorde tot aan die einde geken het, en ure lank langs die viswater op ’n kampeerstoeltjie kon sit.

Maar ook iemand wat hom nie in ’n boksie laat sit het nie. Want dié boer het ook kunsgalerye besoek, rakke vol dik Engelse boeke gehad, klassieke musiek geluister, en ’n storm in die kombuis losgekook.

En ’n krawat gedra as die geleentheid hom voordoen. Die een enkele een wat hy gehad het: ’n Bruinerige sykrawat met ’n paisley-patroon op. Een wat om sy nek was van Alldays se boeresaal tot Manhattan se Broadway.

Soms wonder ek wat van my pa se paisley-krawat geword het, maar ek is te bang om te vra.

Die manlike lede van my grootwordgesin is nie krawat-mense nie. Ek wil asseblief tog nie hoor dat niemand weet nie. Of dat iemand dit weggesmyt het.

Dan eerder stilbly en binnetoe ween elke keer as Matt Preston op die skerm verskyn.

Krawat . . . Kragwoord. Onthouwoord. Huilwoord. Treurwoord. Die hartseerste woord in my hele woordeboek.

Meer oor:  Woordeboek  |  Woord  |  Hartseer
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.